Danksy semigrasie het die eiendomsmark in die Blouberg- en Milnerton-area opmerkbare groei in die afgelope tyd getoon, sê JP Ricketts, verkoopsbestuurder by Seeff Blouberg.
'n Totaal van 3 649 transaksies ter waarde van R8,2 miljard is in dié area oor die afgelope jaar (2024) beklink. In 38% van die gevalle was semigrasie die hoofrede vir aankope, veral deur Gautengers.
Aankope is byna gelykop verdeel tussen voltitel- (48%) en deeltiteleenhede (52%), waarvan die gemiddelde waarde onderskeidelik rondom R2,9 miljoen en R1,566 miljoen was - hoewel pryse wissel na gelang van die gebied.
Benewens Gautengers, was daar ook aankope deur internasionale kopers (bykans 2%) gemaak teen 'n gemiddelde prys van R3,79 miljoen per eiendom. Die area het ook 'n sterk huurmark met 'n hoë vraag na woon- en vakansie-eenhede.
Oor die afgelope dekade het eiendomspryse eksponensieel gegroei: 87% vir voltitel- en 90% vir deeltitel-eenhede.
Daar is 'n toenemende vraag na weelde-wonings - Seeff het onlangs eiendom van tot R7,75 miljoen in die Dune Ridge-landgoed en R11 miljoen in Bloubergstrand verkoop.
Nuwe luukse eenhede in Parklands-Noord en Sandown se pryse wissel tussen R4 miljoen en R8 miljoen, terwyl strandwonings in Bloubergstrand tussen R10 miljoen en R20 miljoen haal.
Die twee nabygeleë gholflandgoedere, Sunset Links en Atlantic Beach, is ewe gewild, met huispryse wat om die R8 mijoen-kerf lê.
Ondanks die opbloei in die mark vir luukse eenhede, bied Blouberg terselfdertyd steeds goeie waarde.
Altesame 69% van alle transaksies is vir huise van goedkoper as R3 miljoen en laasgenoemde is ook 'n gewilde "pryspunt" vir semigrasiekopers in woongebiede soos Parklands, Table View, Milnerton en Sunningdale.



















