Die onlangse begrotingsrede, nog helder in Suid-Afrikaanse belastingbetalers se geheue, herinner mens weer aan deeltitelskemas se begrotings, finansiële beplanning en uitdagings. Dit is gepas dat vandag se rubriek een so 'n (soms onderskatte) tameletjie uitlig, by name 'n eienaar se aanspreeklikheid vir rente wat in die geval van uitstaande skuld (heffings, boetes, ensovoorts) kan begin ophoop.
Ingevolge Bestuursreël 21(3)(c) (in die Deeltitelbestuurswet) mag die trustees van 'n deeltitelskema 'n besluit neem, namens die regspersooon, om rente te hef op enige uitstaande bedrag waarvoor 'n eienaar in die skema verantwoordelik is, en mag hulle ook die rentekoers vaslê -met dien verstande dat dit nie die maksimum koers wat in die Nasionale Kredietwet bepaal word, oorskry nie. Die maksimum rentekoers in voorgenoemde wet is effe meer as 2% per maand, en 24,5% per jaar.
Trustees sal dikwels, tesame met die vasstelling van 'n skema se jaarlikse heffings waarvoor die eienaars aanspreeklik sal wees, ook die rentekoers bepaal wat op uitstaande skulde gehef gaan word. In beide gevalle is 'n formele trusteebesluit 'n vereiste.
Dit is voor die hand liggend dat hoewel renteheffings ten opsigte van uitstaande skuld die betrokke wanbetaler dieper in die skuld kan dompel, is so 'n bepaling nie onredelik nie. Dit is immers 'n meganisme wat in die Deeltitelbestuurswet ingebou is om die belange van die eienaars in die skema te beskerm.
Die uitgangspunt is dat renteheffing wanbetaling en ook laat betaling sal ontmoedig. Dit dien ook as 'n soort vergoeding om die regspersoon se verliese wat met wanbetaling gepaardgaan te hanteer.
Bose kringloop
In dié verband het wyle Tertius Maree geskryf dat 'n "bose kringloop" vinnig kan ontstaan aangesien agterstalligheid uiteindelik daarop neerkom dat die eienaars wat hul heffings gereeld en stiptelik betaal, die las van die wanbetalers op hul eie skouers neem.
Dít gee weer aanleiding daartoe dat spesiale heffings nodig mag word en die ironie hiervan, het hy uitgelig, is dat die wanbetalers moontlik weer traag mag wees om dié ook te betaal, en die las op die skouers van die gereelde betalers daardeur verder vergroot word.
Die wanbetaling van heffings en geldtekorte wat daardeur ontstaan, kan andersins ook die trustees noop om 'n lening aan te gaan ten einde die "boeke te laat klop" en om noodsaaklike, dringende projekte te kan uitvoer. Wat hier gebeur is dat die instelling wat die lening verskaf die regspersoon se slegte skuld oorneem en ook dikwels toesien, afhangende van die spesifieke bepalings van die ooreenkoms wat aangegaan is, tot die invordering van die slegte skuld.
Dít alles teen 'n koste vir die regspersoon natuurlik. Die leningstransaksie sal bepaal dat 'n aansienlike rentekoers ten opsigte van die regspersoon se lening betaalbaar is ten einde die kostes van die kredietverskaffing en invordering te dek.
Daarom is dit raadsaam dat trustees seker maak dat rente wat verhaalbaar is ten opsigte van agterstallige heffings en skulde, parallel is met die rentekoers wat kredietverskaffers gewoonlik vereis.
In hierdie konteks duik die navraag dikwels op of daar bykomende wetlike voorskrifte of regsreëls is wat beperkinge plaas op die rentekoers wat gehef mag word ten opsigte van uitstaande skuld.
En ja, daar is.
In ons reg is daar die in duplum-reël, welke afgelei is van die Latynse frase "in duplo" en wat letterlik beteken "verdubbel."
Kontraktuele verpligting
In die huidige regspraktyk beteken die reël dat 'n kapitaalbedrag in totaal nie meer rente kan voortbring as die omvang van die kapitaalbedrag self nie.
Of anders gestel, dat rente in soverre dit die kapitaalbedrag oorskry, onopeisbaar is.
Lesers met ervaring en kennis van kommersiële transaksies en reëls weet dat hierdie reël 'n afwyking is van 'n ander beginsel in ons reg, naamlik dat 'n persoon verantwoordelik bly om sy kontraktuele verpligtings na te kom. As die kontrak voorsiening maak vir rente op agterstallige skuld, kan hierdie kontraktuele bepaling nie sommer aangepas word wanneer een party agterstallig raak met sy betaling nie.
Aan die ander kant is dit welbekend dat ons howe die gemenereg (ons ongeskrewe, geldende regsbeginsels wat op ou gebruike gegrond is en as oorsprong die Romeins-Hollandse reg en Engelse reg het) ontwikkel aan die hand van begrippe wat rasionele gemeenskapsnorme weerspieël soos openbare beleid, die goeie sedes en dies meer.
Die gemeenregtelike in duplum-reël weerspieël 'n norm wat bepaal dat die gemeenskap se goeie sedes en geregtigheidsgevoel aandring dat 'n wanbetaler se blootstelling aan skuld beperk moet word, redelikerwys, sodat hy of sy nie daardeur oorweldig word en nooit uit die kloue van die (andersins steeds toenemende) skuld kan ontsnap nie.
In dié lig is die mate van grasie wat ons gemene reg se in duplum-reël bied, 'n beliggaming van openbare belang.
Tree vroeg op
Hierdie reël lyk op die oog af eenvoudig, maar het al tot heelwat regsgedinge aanleiding gegee. Hedendaags word onderskeide getref tussen, onder andere, skuld en rente wat opgeloop het alvorens 'n hofgeding om dit in te vorder aanhangig gemaak is; skuld wat oploop ten tyde van die regsproses; en rente wat oploop ten opsigte van 'n vonnisskuld, dus wat begin loop nadat die hof 'n uitspraak gelewer het dat 'n bepaalde bedrag (wat kapitaal en rente insluit tot en met die datum van die vonnis) aan 'n ander gedingsparty onmiddellik betaalbaar is.
Hierdie rubriek wil nie te veel met regstegniese sake handel nie. Wat ons wel aangeraak het, is die noodsaak dat trustees met omsigtigheid kyk na die rentekoers wat hulle by wyse van 'n trusteebesluit gaan hef ten opsigte van agterstallige skuld.
Dit is raadsaam om so spoedig moontlik 'n prokureur te nader om slegte skuld in te vorder om 'n situasie te vermy waar opgeloopte rente onopeisbaar word omdat die in duplum-perk ingetree het.



















