Eiendomme

DEELTITELFORUM: Wat presies is ’n aftreeoord?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is twee soorte mense in die wêreld: Die een soort wat sê sodra hulle die ouderdom van 65 (of 70, of 75 . . .) bereik, gaan hulle dadelik in 'n aftreeoord intrek, afskaal, die salige voordele van "toesluit en reis" benut, min onderhoudswerk aan die eiendom doen, gereeld etes in die oord se restaurant beproef, en die geselskap van hul eie portuurgroep geniet.

Die ander groep beduie weer jy sal hom uiteindelik voete eerste uit sy dubbelverdieping-huis op die dubbel-erf gaan moet dra. Oor sy dooie liggaam sal hy in 'n "ouetehuis" intrek. Die kinders kan maar ná die begrafnis 'n lorrie huur en alles wat hy oor die jare in die huis opgegaar het, iewers gaan uitdeel.

Ek skaar my aan die kant van die aftreeoord-positiewes (hoewel ek ná die Covid-19-pandemie se toesluit-neiging wel ligte bedenkinge ontwikkel het). My man, daarenteen, reken dat die naaste wat hy ooit aan 'n aftreeoord sal kom, is om dalk 'n huis in 'n gholflandgoed te koop. Maar selfs hierdie tong-in-die-kies debat belig die feit dat mense uiteenlopende persepsies het oor wat 'n aftree-oord in werklikheid is, en bied.

Daar's twee wette

Lesers sal moontlik verbaas wees om te verneem dat die woord "aftreeoord" nêrens in Suid-Afrikaanse wetgewing voorkom nie. Beteken dit dus dat daar geen spesifieke wetgewing is wat op aftreeoorde van toepassing is nie, of word hulle outomaties deur die Deeltitelwet gereguleer? Die antwoord op albei vrae is "nee."

Benewens die Deeltitelwet en Deeltitelbestuurswet wat op sommige aftreeoorde (maar nie almal nie) van toepassing is, is daar twee ander wette wat wel 'n beduidende rol speel in die lewe van almal wat eiendom in aftreeoorde besit, of wat daar woon.

Die eerste een is die Wet op Behuisingskemas vir Afgetrede Persone (Wet 65 van 1988, "die Aftree-behuisingswet") wat vanaf Julie 1989 geld. Die woord en die leefstylkonsep "aftreeoord" was in die laat 1970's en 1980's nog relatief nuut, anders het dié wetgewing dalk tog wel bekend gestaan as die "Wet op Aftreeoorde". ('n Mens sal egter ook kan redeneer dat die reikwydte van die wet tegnies effens wyer strek as net aftree-oorde.)

Die tweede wet wat van belang is, is die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006, wat eers in April 2010 in werking getree het). Weens beperkte ruimte sal dit nie hier bespreek word nie.

Die Aftree-behuisingswet stel in artikel 7 daarvan dat slegs "afgetrede persone" en hul gades in so 'n behuisingskema mag woon, behalwe as al die persone met behuisingsbelange in die skema skriftelik daartoe toestem dat nie-afgetrede persone (dus jonger persone) ook daar mag woon.

Die doel van die toegewing sou byvoorbeeld wees om 'n hulpbehoewende gestremde jonger persoon by haar afgetrede ouers te kan laat woon. (Ons keer in 'n latere artikel terug na die begrip "behuisingsbelange.")

Definisie

Die vraag duik nou op: Wat is 'n "afgetrede persoon?" Die antwoord is in artikel 1 van die wet, die definisie-gedeelte, te vinde. Dit bepaal dat 'n afgetrede persoon iemand van 50-jarige ouderdom of ouer is.

Hierdie lae ouderdomsperk mag dalk die wenkbroue laat lig, maar hou in gedagte dat hierdie wet 35 jaar gelede gepromulgeer is. Vandag is "70 die nuwe 50," maar destyds is 50 as taamlik lank in die tand beskou.

'n Aftreeoord is dus 'n behuisingskema waar slegs persone van 50 jaar of ouer en hul gades mag woon (bepaalde jonger persone slegs toegelaat met toestemming). So 'n wye omskrywing omvat egter ook daardie soort behuisingskemas waarna in die verlede, en nog steeds soms, as "ouetehuise" verwys word.

Laasgenoemde is tipies 'n gebou met netjies ingerigte kamers of klein wooneenhede en daar is normaalweg nie sprake van private eiendomsreg op die wooneenhede nie. So 'n verblyfopsie het ook voordele, waarvan groter bekostigbaarheid 'n vername pluspunt is, maar dit word gewoonlik nie as 'n "aftreeoord" beskryf nie.

As ons dus nou 'n sinvolle omskrywing moet probeer gee van die begrip "aftreeoord" (soos reeds gesê bestaan daar nie 'n wetlike definisie nie), kan dit moontlik soos volg wees: Dit is 'n behuisingskema, in die aard en styl van 'n landgoed, waar slegs persone van 50 en ouer asook hul gades mag woon, en waar elke persoon of egpaar hul eie huis besit of verblyfregte daartoe het, met die huise wat meesal ook elk oor 'n eie private tuintjie beskik, en verder waar gedeelde fasiliteite voorkom en wat kan wissel van gemeenskaplike tuine tot ontspanningsale, sportfasiliteite, haarkappersalonne, 'n restaurant, en dergelike.

Regstruktuur

Die definisie skiet ongelukkig te kort in dié sin dat dit geen verwysing bevat na die onderliggende regstruktuur van die skema, of die aard van die afgetrede persone se regte ten opsigte van die behuising nie. Is die betrokke skema 'n deeltitelskema, voltitelskema bestaande uit klein erwe, 'n aandeleblok­skema, of dalk slegs 'n enkel stuk grond onderhewig aan bewoningsregte? Dit kan inderwaarheid in enige van hierdie vorme geklee wees. Verder het die omskrywing slegs 'n enkele verwysing na 'n regsbegrip (die definisie "afgetrede persoon") terwyl die res daarvan maar eintlik net 'n aanduiding is van die fisieke aard en styl wat gebruiklik is in hierdie soort ontwikkelings, en dit kan wyd varieer afhangende van die ontwikkelaar se voorkeure.

Waar die regsonderbou van 'n aftreeoord wel "deeltitel" is, sal die Deeltitelwet, die Deeltitel­bestuurswet en ook die Aftree-behuisingswet geld. Maar wat is die doel van die Aftree-behuisingswet dan nou eintlik? Is dit nie dalk 'n duplisering of oorvleueling van wat reeds in die ander twee wette staan nie? Glad nie.

Die Aftree-behuisingswet was van die eerste verbruikers­beskermingswetgewing wat in Suid-Afrika aangeneem is. Dit het een breë oorhoofse doel en twee sub-doelwitte: Die oorhoofse doel is om ouer persone wat hul kosbare spaargeld gebruik om behuising vir hul oudag te bekom, te beskerm teen uitbuiting en verlies. Dit is ongeag of die aard van die behuising wat bekom word eiendomsreg of slegs verblyfregte van 'n aard (byvoorbeeld "lewensreg") is.

Die eerste sub-doel van die wet is om bepaalde vereistes te stel waaraan ontwikkelaars moet voldoen alvorens hulle die geld van ouer persone mag vat in ruil vir voorsiening van sodanige behuising, ongeag of die ontwikkelaar eiendomsreg verkoop of "mindere" regte in die vorm van verblyfregte. Die tweede sub-doel is om verdere addisionele beskerming te verleen aan die afgetredenes wat nie eiendomsreg ten aansien van die behuising koop nie, maar wat slegs verblyfregte (byvoorbeeld lewensreg) bekom.

Daar kan nog baie gesê word oor die bepalings van die Aftree-behuisingswet, asook oor die bepalings van die Wet op Ouer Persone. Indien tyd en ruimte dit toelaat, sal my kollega Maryna en ek in volgende rubrieke in meer besonderhede verder oor hierdie belangrike wette skryf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM