Dié artikel is die laaste in 'n reeks van vier wat oor die finansiële pligte van trustees, en die rol van deeltitelskemas se ouditeure, handel.
Die wetgewer, by wyse van die voorgeskrewe bestuursreëls (BR) in die regulasies tot die Deeltitelbestuurswet (DBW) verplig elke skema se trustees om jaarliks die regspersoon se finansiële state te laat oudit - sien BR 17(6)(j)(vi). Dit behels 'n ondersoek na die skema se rekeningkundige rekords en state, waarna die ouditeur 'n verslag moet uitbring waarin sekere professionele menings uitgespreek word. Dit is gebruiklik dat die geouditeerde finansiële state by die algemene jaarvergadering van die regspersoon voorgelê word vir aanvaarding.
Die meeste eienaars in deeltitelskemas verwag dat die ouditeur die boeke van die regspersoon sal fynkam om seker te maak dat daar nie bedrog, diefstal of growwe nalatigheid plaasgevind het ten aansien van die finansies of die bestuur daarvan gedurende die afgelope boekjaar jaar nie, en sal nagaan of die trustees hul pligte na behore nagekom het. Hierdie verwagting word versterk deur die feit dat BR 26(5)(c) die ouditeur gebied om 'n professionele mening oor vier bepaalde sake in die ouditeursverslag uit te spreek, naamlik dat:
- Die state 'n akkurate weerspieëling is van die regspersoon se finansiële posisie vir die jaar;
- Die trustees hul rekeningkundige pligte soos vervat in BR 21, 24 en 26 nagekom het;
- Die boeke só opgeskryf en geld só bestuur is dat dit 'n redelike mate van beskerming bied teen diefstal of bedrog; en
- Die finansiële sake van die regspersoon op die oog af goed bestuur word.
Die probleem is dat ouditeure van deeltitelskemas, op aanbeveling van hul professionele liggaam, Saica, nie bereid is om 'n mening uit te spreek oor hierdie vier sake soos wat die voorgeskrewe bestuursreëls vereis nie. Dit is dus tegnies gesproke 'n oortreding van die wet. Die ouditeursprofessie voer egter aan dat hulle nie aan die gebiedende bepalings kan voldoen nie, al wil hulle, weens verskeie redes soos wat in 'n bepaalde omsendskrywe van Saica, uitgereik en hersien in September 2022, uiteengesit word.
Ons meen dat, hoe onbevredigend die situasie ook al is, daar wel 'n mate van meriete in die ouditeursprofessie se argumente is, maar dit staan in teenstelling met die ewe redelike behoefte en verwagtinge van deeltiteleienaars. Hier word nou 'n dooiepunt bereik. Die probleem herinner aan die spreekwoordelike vierkantige pen wat nie in die ronde gat pas nie, en het sy oorsprong in die volgende: Die wetgewer probeer om in die DBW en bestuursreëls regstaal op 'n gebruikersvriendelike wyse in te klee, sodat die deursneetrustee en eienaar in deeltitelskemas dit sal verstaan en toepas. Daarenteen is die Wet op Ouditeure, en die gepaardgaande reëls en standaarde waaraan ouditeure moet voldoen, in 'n ander "taal" (wat op uiters tegniese rekeningkundige beginsels gegrond is) geskryf.
Die bewoording van die mandaat en pligte van ouditeure in die Wet op Ouditeure en toepaslike reëls van die professie, verskil in wesenlike opsigte van dít wat die DBW en bestuursreëls beskryf. Saica het in 2015 uitgebreide skriftelike kommentaar gelewer op die bestuursreëls (in daardie stadium nog in konsepvorm) en het verskeie probleme aan die wetgewer uitgewys, maar daar is klaarblyklik nie ag geslaan op die kommentaar nie.
Weens 'n gebrek aan ruimte word hier slegs enkele voorbeelde van die probleme gemeld. BR 26(5)(c)(i) vereis dat die ouditeur die versekering moet gee dat die regspersoon se state 'n akkurate weerspieëling van die boeke is. Om dié soort versekering te kan gee (met ander woorde dat dit 100% akkuraat is), sou ouditeure elke transaksie wat in die afgelope boekjaar aangegaan is, moes nagaan. Dit sou aansienlike hoër koste vir regspersone meebring. Ouditwetgewing, -reëls en -prosesse se vertrekpunt is wesenlikheid, nie volkome akkuraatheid nie. Ouditeure toets data by wyse van steekproewe, gemeet aan spesifieke standaarde; dit is nie prakties moontlik om elke transaksie na te gaan nie. In die ouditverslag bevestig die ouditeur dan of die state 'n redelike weerspieëling is, al dan nie, ten opsigte van alle wesenlike fasette van die kliënt se finansiële posisie.
BR 26(5)(c)(ii) verwag van ouditeure om te bevestig of die trustees hul rekeningkundige pligte ingevolge BR 21, 24 en 26 nagekom het. Eerstens is dit moeilik om te weet watter van die pligte wat daar beskryf is kwalifiseer as "rekeningkundige pligte" en tweedens, om hierdie soort waarborg in 'n ouditverslag te gee, sou die ouditeur weer eens baie dieper ondersoeke moes doen as wat 'n gewone ouditopdrag vereis.
Derdens: Teen watter objektiewe standaard word voldoening gemeet? Dit val buite die raamwerk van 'n normale ouditmandaat en sou dus 'n spesiale opdrag wees, wat weer eens hoër koste sal meebring.
Hoewel dit 'n inherente deel van 'n ouditondersoek is om met professionele skeptisisme op die uitkyk te wees vir bedrog en diefstal, is ouditeure nie bereid om as deel van 'n gewone oudit die onomwonde versekering te gee wat in BR 26(5)(iii) en (iv) gevra word nie. Teen watter standaard of kriteria moet dit gemeet word? Wat beteken "op die oog af?" (Engels: "appear to be"). So 'n ondersoek sal weer eens 'n spesiale ondersoek (teen aansienlike verhoogde koste) verg.
Die professionele mening van 'n skema se ouditeur in 'n "skoon" ouditverslag bied inderdaad gerusstelling, maar is nie 'n allesomvattende waarborg dat finansiële bestuur deur die trustees in die boekjaar perfek verloop het nie. Die omvang van die ouditeur se mandaat sal bepaal waarvoor presies die ouditeur bereid is om sy of haar "kop op 'n blok" te plaas. Die regspersoon moet minstens die keuse gebied word.
Om die dooie punt (ouditeure wat tegnies die wet omseil omdat hulle sê dat hulle nie daaraan kan voldoen nie) op te los, behoort die wetgewer die bestuursreëls in lyn te bring met normale ouditpraktyke, of regspersone moet spesiale opdragte (teen hoër koste) aan hul ouditeure gee, of 'n spesiale ouditraamwerk moet vir deeltitelskemas ooreengekom word. Saica is tans waarskynlik die geskikste instansie om dié komplekse bul by die horings te pak.




















