Die hoe en waar van huureiendom as belegging

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Beleggers in huureiendom moet maar mooi hul somme maak as hulle wil besluit tussen kort- of langtermynverhuring.
Beleggers in huureiendom moet maar mooi hul somme maak as hulle wil besluit tussen kort- of langtermynverhuring.

Vir baie mense is 'n belegging in eiendom steeds meer betroubaar as om hul geld in aandele of effekte te belê.

Eiendom is steeds 'n tasbare bate met unieke voordele wat welvaartskepping oor 'n tydperk kan versnel, sê Claude McKirby van die eiendomsgroep Lew Geffen Sotheby's International Realty.

Die skommelings in die eiendomsmark is gewoonlik nie so skerp soos in die aandelemarkte nie, en die algemene tendens is dat eiendomswaardes oor tyd stelselmatig toeneem, wat dit 'n betroubare langtermynbelegging maak.

Mense wat eiendom koop om te verhuur, kan steeds besluit of hulle die eiendom op 'n korttermyngrondslag of op lang termyn wil uitverhuur.

Elk van die twee opsies het unieke uitdagings en voordele en dit is goed om dit in gedagte te hou.

Beleggers wat nie te betrokke wil raak nie, kan verkies om die relatief gemaklike roete te volg deur hul nuwe eiendom vir die lange duur te verhuur, maar mense wat maksimum opbrengste soek en bereid is om 'n bietjie meer aktief betrokke te bly, kan verkies om korttermynverhuring te oorweeg, sê McKirby.

Claude McKirby van die eiendomsgroep Lew Geffen Sotheby's International Realty.
Claude McKirby van die eiendomsgroep Lew Geffen Sotheby's International Realty.

Hier is so 'n paar lysies om na te gaan.

Langtermynverhuring

Voordele:

Dit is betroubaar en eenvoudig. Beleggers hou van die stabiele en voorspelbare inkomstestroom van die maandelikse huurgeld wat inkom. Dit is minder veeleisend en daar is nie die koste om gedurig na nuwe huurders se kwessies om te sien nie.

Die termyn is gewoonlik 6 tot 12 maande of langer. Die feit dat huurders nie dagin en daguit wissel nie, beteken die koste van skoonmaak, herstelwerk en bemarking vir nuwe huurders is laer.

Dit is ook minder tydsintensief. As 'n goeie en betroubare huurder eers bekom is, is die dag-tot-dag-bestuur van die eiendom aansienlik minder veeleisend as met korttermynverhurings.

Nadele:

Die buigsaamheid is minder, en dit is meer uitdagend om te kan byhou met veranderings in die eiendomsmark.

Die huurgeld kan nie sommer maklik, gou en enige tyd aangepas word nie, want daar is 'n langtermynkontrak in plek wat jy moet eerbiedig.

Soms wil jy 'n goeie huurder eerder behou deur die huurgeld langer tye onveranderd te laat as om die huurgeld gereeld skerp te verhoog, maar dit kom met die groter risiko om 'n sleg-betalende huurder te beurt te val.

Dan kan jy opgeskeep sit met 'n slegte huurder in 'n langtermynkontrak, wat beteken jy kry dus ook 'n kopseer vir langer as iemand nie betyds betaal nie of gedurig kla oor elke klein dingetjie wat reggemaak moet word.

Met langtermynverhuring verloor die eienaar ook eintlik onmiddellike toegang tot sy eiendom. Hy kan dit nie vir persoonlike gebruik benut wanneer nodig nie, en om die eiendom te verkoop terwyl daar nog 'n geldige huurkontrak is, maak dinge ingewikkeld.

Korttermynverhurings

Voordele:

Die gewildheid van die sogenaamde deel-ekonomie het aanlyn platforms soos Airbnb gewild gemaak. Dit is aantreklik vir beleggers vanweë die buigsaamheid en potensieel groter opbrengste.

Korttermynverhurings kan aansienlik hoër daaglikse huurtariewe behaal vergeleke met 'n maandelikse of langertermynkoers. Dit geld veral wanneer die eiendom in 'n gewilde toeristedorp of naby 'n toeristeaantreklikheid is, of in die algemeen in 'n stad of gebied waar die vraag na huisvesting groot is.

Korttermynverhuring is ook meer buigsaam. Eienaars kan hul tariewe vinnig en maklik aanpas in reaksie op die markvraag, seisoene en spesiale geleenthede.

Daar is ook die buigsaamheid om die eiendom sekere tye uit te boek vir persoonlike gebruik.

Beleggers kan maklik aanpas by veranderings in die eiendomsmark en kan hul huurstrategie soos nodig aanpas.

Nadele:

Dit verg groter bestuurs- en bedryfsaandag om 'n eiendom op kort termyn te verhuur.

Jy moet besprekings bestuur en gedurig met potensiële en huidige gaste kommunikeer, en meer gereeld skoonmaakdienste en instandhoudingswerk hanteer.

Die inkomste kan aansienlik wissel. Inkomste kan tydens spitstye skerp styg, maar net so drasties val in stil tye. Dit beteken die kontantvloei is minder voorspelbaar.

Die waarde van sulke eiendomme in kusdorpe kan wisselvallig wees. Vanweë semigrasie ervaar sommige kusstreke wel prysstygings, maar tradisioneel is eiendomswaardes in vakansiedorpe meer wisselvallig - dit styg in goeie tye, maar verswak wanneer die markte af is.

Sommige owerhede of die trustees van 'n deeltitelkompleks kan streng reëls oor korttermynverhuring hê.

Daar kan ook regulatoriese uitdagings wees. Sommige owerhede of die trustees van 'n deeltitelkompleks kan streng reëls oor korttermynverhuring hê.

Die owerhede kan lisensievereistes hê of die aantal dae beperk waarop 'n eiendom verhuur kan word, en daar kan bykomende belastings wees.

7 maniere om jou risiko te beperk en opbrengs te verhoog

1. Koop in 'n goeie omgewing

Koop die beste eiendom wat jy kan bekostig in die beste ligging, want dan is die waarskynlikheid beter dat jou belegging sy waarde sal behou en sal groei, en beter opbrengste sal oplewer.

In die vakansieverhuringsmark is dit belangrik, want in die spitsseisoen sal die meeste vakansie-eiendomme goed vaar, maar buite seisoen en wanneer die ekonomie sukkel, kan dit moeilik wees om eiendomme in swakker gebiede verhuur te kry.

2. Oorweeg deeltitel

Die hoë instandhoudingskoste van ou huise op groot erwe kan maklik jou opbrengs opvreet. Tensy jy 'n deel van jou huurinkomste in 'n instandhoudingsfonds opgaar, is opsies met laer instandhoudingskoste soos 'n woonstel in 'n deeltitelkompleks dalk 'n beter keuse.

'n Beheerliggaam en 'n trusteeraad sal daar verantwoordelik wees vir die instandhouding van gemeenskaplike areas en die kompleks in geheel. Dit verminder die eienaar se betrokkenheid aansienlik, want hy hoef nie oor die buitekant van die eiendom bekommerd te wees nie. Maar die heffings in sommige woonstelkomplekse hiervoor kan nogal hoog wees.

3. Ken jou mark

Beleggers moet die demografie van die gebied ondersoek en besluit watter segment van die mark hulle wil bedien, veral as hulle dink aan langtermynverhuring.

In die studentemark moet die koper byvoorbeeld kyk na 'n woonbuurt naby 'n universiteit en wat maklike toegang tot openbare vervoerroetes het.

As jy die gesinsmark wil teiken, moet jy kyk na wonings wat naby goeie skole, sportgeriewe en winkelsentrums is.

As jy die sakemark of sakereisigers wil teiken, moet jy kyk na 'n topklas-buurt met vinnige toegang tot snelweë wat na die lughawe lei of wat naby sakesentrums is.

4. Ken die relevante wetgewing

Wetgewing oor verhuring is onlangs verskerp. 'n Verhuurder moet ter wille van sy en sy huurders se beskerming seker maak hy doen sy sake binne die wet om duur en stresvolle slaggate te vermy.

5. Oorweeg professionele bestuur

Dit kan belangrik wees as jy nie self in die omgewing woon nie. Agente is ook veronderstel om 'n deeglike kennis van al die relevante wetgewing en regulasies te hê.

'n Professionele en ervare verhuringsagent kan die verskil beteken tussen 'n leë of verhuurde eiendom.

6. Maak seker jy het genoeg dekking

Maak seker jy het voldoende versekering vir skade soos 'n geiser wat onklaar raak of 'n venster wat gebreek word. Korttermynverhuring beteken daar is meer mense wat kom en gaan, wat die waarskynlikheid verhoog van ongelukke en goed wat breek.

7. Doen jou somme

Sluit alle uitgawes in as jy wil bereken wat jy kan bekostig om 'n beleggingseiendom te koop en wat jou opbrengs kan wees. Dit sluit versekering, belasting en bestuursgelde in.

Die tariewe vir vakansieverhuring kan aansienlik hoër wees as vir langtermynverhuring, maar maak voorsiening vir langer tye waarin die eiendom kan leeg staan of wisselvallige besettingskoerse van seisoen tot seisoen. Die instandhoudingskoste vir korttermynverhuring kan ook hoër wees.

SPELETJIES VANDAG

CTA