"Ons is getuies van 'n mark wat strategiese, ingeligte belegging beloon," meen Roy Lazarus van Park Village Auction oor sy siening oor die eiendomsmark volgende jaar.
"Suid-Afrika se eiendomsmark hou aan om veerkragtigheid te demonstreer ondanks aanhoudende winde van voor volgens bevindings deur die Reserwebank en die FNB Eiendomsbarometer. Ekonome projekteer beskeie eiendomsgroei van sowat 4%, wat 'n toename in koperaanvraag wys ondanks 'n afkoeltydperk in algehele markaktiwiteit. Met ander woorde, kopers het nie hul aptyt verloor vir eiendomme wat egte waarde bied nie."
Streekvariasies bly opvallend, met die uitstaande prestasie van die Wes-Kaap in vergelyking met ander provinsies wat aangedryf is deur sy gesonde plaaslike ekonomie en voortgesette "semigrasie". Gauteng bly 'n gunsteling vir beleggers wat hoëdigtheid- residensiële ontwikkelings teiken wat naby sakedistrikte geleë is, want sy belowende werkmark gaan voort om ambisieuse opkomende professionele mense te lok.
"Bekostigbaarheid is die kernwoord wat ons die nuwe jaar gaan inlei," sê hy.
"Terwyl verdere verlagings in die rentekoers die mark kan stimuleer, sal verhoogte brandstofpryse en lewenskoste veroorsaak dat kopers op soek sal wees vir aanbiedings om hul hoofbeleggings te verlaag - 'n tendens wat ons in die veilingsegment waargeneem het.
"Dis interessant dat ondanks tradisionele eiendomsverkope wat afneem, geniet veilings toenemende deelname deur beleggers wat op soek is na eiendomme teen markverwante pryse, veral dié afkomstig van bankterugnemings, likwidasies van boedels of dringende verkope."
Lazarus meen verder dat verhoogde deelname ná verbeteringe in aanlyn bieëry die proses van aankoop van eiendom gedemokratiseer en beleggers toegelaat het om vanaf diverse geografiese liggings deel te neem.
Lazarus het raad vir dié wat op die huidige marktoestande wil kapitaliseer: "Doen jou huiswerk en wees gereed om vinnig te spring wanneer die geleentheid dit toelaat. Beleggers met kontantreserwes, wat deeglike marknavorsing doen en die vermoë het om vinnige, ingeligte besluite te neem, sal dié wees wat markkompleksiteit tot persoonlike voordeel kan aanwend."




















