Die inmekaar tuimel van die balkon verlede week by die La Trip Club & Social-kuierplek in die hartjie van die Moederstad, het dadelik die vraag vanuit 'n eiendomsperspektief laat ontstaan oor wie hiervoor verantwoordelikheid moet neem: Die gebou se eienaar, of die huurder.
Dit is geen geringe saak nie, want 21 mense het in die voorval seergekry toe die balkon skielik meegegee en almal 'n verdieping ver na die sypaadjie onder in die straat geval het.
Die saak is werklik verweef, want die gebou waarin die kuierplek geleë is, is 'n 19de eeuse Victoriaanse konstruksie, sê John Jack, hoofbestuurder van Galetti Corporate Real Estate.
"Dit was in die verlede 'n gewilde en bekende kroeg waar sportpersoonlikhede en ondersteuners graag kom uithang het," verduidelik hy. "Dit het dus 'n lang geskiedenis in die Moederstad."
Jack sê die voorval kan nie net onder die mat ingevee word nie. Lesse moet hieruit geleer word. "Die eienaars sowel as die huurders het 'n verantwoordelikheid om instandhouding en opknappings aan hul geboue aan te bring.
"En albei partye moet ook gereeld noukeurig aandag hieraan skenk. Veral wanneer so 'n tipe gebou ter sprake is, waar partytjiegangers gereeld hiervan kom gebruik maak.
Volgens Jack is daar drie belangrike vrae wat gevra moet word:
1) Was die gebou die regte een vir die doel waarvoor hy ingespan is? Dit sluit in die vraag of die eienaar toestemming gehad het om 'n kroeg en 'n restaurant op die perseel te kon bedryf.
2) Is die gebou na behore in stand gehou?
3) En wat was die maksimum dravermoë van die balkon?
Volgens Jack staan die een balkon wat na Buitengracht-straat kyk, op staalpilare. Dié het nog geen probleme gegee nie, en dra sy gewig blykbaar met gemak.
"Die nuwe balkon, wat ingegee het, word net met 'n paar staal arms gestut wat teen die muur vasgebout is. Dit is kennelik nie sterk genoeg om so 'n gewig te kan dra nie," sê Jack.
As die huurder dus die balkon se gewigskapasiteit oorskry het, of as hy 'n kuierplek bedryf het sonder die nodige lisensies, dan is hy aanspreeklik vir die gevolge.
Maar, as die geboue-eienaar nie die gebou na behore in stand gehou het nie, of as hy strukture opgerig het wat nie aan die bouregulasies voldoen nie, is hy die een wat aanspreeklik is.
Omdat dit 'n ouer gebou is, val die verantwoordelikheid op die eienaar om toe te sien dat daar goedgekeurde planne is, en dat alle strukture die beplande gewig kan dra.
Volgens Lara Colananni, van Guthrie Colananni Prokureurs, is die gebou se eienaar altyd aanspreeklik vir enige persoonlike besering wat op jou grond opgedoen word, as jy nalatig was of as jy moedswillig nie met sorg na die gebou omgesien het nie.
"As die eienaar, maak seker dat jy versekering het teen openbare aanspreeklikheid," stel sy voor.
Sorg dat jou gebou struktureel in 'n goeie toestand is, en sit ook oral kennisgewings op wat jou van skade vryspreek.
Dui ook duidelik aan hoeveel mense op 'n slag op so 'n balkon, daktuin of in 'n hysbak toegelaat word.
Die eienaar kan dan van die huurder eis as die huurder nie betyds 'n fout uitgewys het nie, of nagelaat het om die gebou te onderhou, of om aan die munisipale regulasies te voldoen.



















