Die kinders het gepraat. Hul ouers kan nie meer alleen in die groot huis woon nie.
Dit het tyd geword om na 'n aftreeoord te verhuis, uiteraard na een waar daar siekeboeggeriewe beskikbaar is. Slimjan, die oudste van die vier kinders, het reeds die nodige navorsing en navrae gedoen, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie nodig sal wees om 'n agent te gebruik om die eiendom te bemark nie. Hulle vader was immers sy hele werkslewe in die bemarkingsafdeling van een van die groot versekeringsmaatskappye werksaam totdat hy 20 jaar gelede op 55 afgetree het.
Hy sal met groot gemak sommer self as agent kan optree - dan hoef daar nie agentekommissie betaal te word nie, en sodoende spaar hulle uiteindelik ten minste 6% van die verkoopprys. Die eerste stap sal dus wees om die bemarkingsprys van die eiendom te bepaal.
Vir hoeveel verkoop jy?
Die bemarkingsprys van die eiendom moet uiteraard markverwant wees. Dit is raadsaam dat die dienste van 'n professionele eiendomswaardeerder gebruik word om met die nodige kundigheid die nodige aanbevelings te maak.
Die eienaar(s) van 'n eiendom is dikwels in die meeste gevalle uiters subjektief oor die waarde van hul eiendom waarin hulle reeds vir baie jare woon en heelwat opgraderings aangebring het.
Maak volledig gebruik van die internet as inligtingsbron wanneer jy jou huiswerk doen. Besoek sonder uitsondering die skouhuise in die buurt.
Neem kennis van die pryse waarteen ander eiendomme in die buurt verkoop het - en nie die pryse waarteen die eiendomme geadverteer is nie. Dit is uiteindelik die marktoestande wat die bepalende faktor is.
Die doodsklok lui gou vir 'n eiendom wat te lank in die mark is omdat die bemarkingsprys nie markverwant is nie.
Die skouhuis
As deel van die bemarkingsplan sal die eienaar geen keuse hê as om die eiendom periodiek te skou nie. Dit sal dus nodig wees om etlike kennisgewingborde in die buurt op te rig.
Tooi die eiendom kosmeties ter voorbereiding van elke skouhuisgeleentheid en tydens die besoeke van belangstellende kopers. Verwyder alle oordaad van watter aard ook al. 'n Oorvol eiendom skep nie 'n goeie indruk nie.
Die eiendom moet te alle tye sprankelskoon wees - die matte moet skoon en vars wees, en wend die verfkwas kwistig aan waar nodig. Die netjiese toestand van die tuin moet bydra tot die allernoodsaaklike straat-allure van die eiendom.
Sorg dat die eiendom te alle tyde kraakvars en onberispelik vertoon. Sodoende sal die aandag van ernstige kopers verseker word.
Om onnodige verbeterings aan te bring in die hoop om die eiendom meer bemarkbaar te maak, kan soms teenproduktief wees. Byvoorbeeld, die kleure waarin die eiendom nuut geverf is, binne en buite, mag dalk nie "modieus" genoeg vir voornemende kopers wees nie. Vertoon die eiendom sodat kopers hulleself in die eiendom kan visualiseer.
Sonder skouhuise sal bemarkingspogings vrugteloos wees. Sulke geleenthede bied aan belangstellende kopers die geleentheid om die betrokke eiendom waarin hulle belang stel, anoniem te besigtig.
In aansluiting hierby, speel die straat-allure 'n uiters belangrike rol. Daar moenie uit die oog verloor word dat dit die eerste indrukke is wat 'n deurslaggewende rol speel nie. Doen moeite met die voorkoms van die eiendom.
Raadpleeg 'n eiendomsagent om te help met die voorbereiding van die eiendom vir die skoudag, indien nodig.
Bemarkingswenke
Daar word dikwels beweer dat enigeen met 'n skootrekenaar sy of haar eiendom kan bemark.
Om egter teks vir bemarkingsdoeleindes te beplan, skryf en te redigeer vereis 'n bepaalde vaardigheid.
As die beskrywing te omvattend is, mag voornemende kopers dalk nie reageer nie. Deur te min te sê, mag voornemende kopers nie genoegsaam geïnteresseerd wees om daarop te reageer nie. So ook moet die beskrywing van die eiendom keurig en professioneel wees.
'n Geslaagde beskrywing van die eiendom sal nie nalaat om voornemende kopers se aandag te vestig op die feit dat die eiendom by uitnemendheid geskik is vir persone wat ook vanuit hul huise 'n werkskantoor wil bedryf nie.
Vestig veral die aandag op die feit dat die eiendom reeds met veselkabels toegerus is en indien die eiendom 'n kandidaat is om in 'n slimwoning omskep te word, kan 'n kundige persoon uit die sakesektor genader word om 'n kwotasie te gee van die koste verbonde aan sodanige slimtoepassings. Dit sal nuttige inligting wees om byderhand te hou indien daar enige navrae sou wees uit die geledere van voornemende kopers.
Vestig byvoorbeeld alle belangstellendes se aandag daarop dat die opknappingswerk aan die eiendom die afgelope jare 'n volhoubare en gerieflike lae-energie-woning vir toekomstige geslagte tot gevolg het.
Die twee belangrikste eiendomsplatforms op die internet bied elkeen drie pakkette aan wat wissel tussen R2 000 en R4 000 waarop 'n private eiendom bemark kan word vir 'n tydperk van ten minste ses maande.
Die heel belangrikste aspek wat egter in gedagte gehou moet word, is dat die eienaar uiteindelik die eiendom deur sy eie netwerk wat hy geskep het gaan verkoop. Agente daarenteen het etlike netwerke tot hul beskikking waarvan hulle gebruik kan maak.
Besware, regsprosedure
Kopers wat enige besware koester met betrekking tot die eiendom, is dikwels huiwerig om direk met die eienaar daaroor te praat aangesien hulle nie graag aanstoot wil gee nie.
Hulle sou veel eerder met vrymoedigheid daaroor met 'n onverbonde eiendomsagent praat. Dit is jammer indien kritiek van enige aard nie die eienaar bereik nie, aangesien sodanige onkunde kan veroorsaak dat 'n transaksie verongeluk word.
Die regsprosedures verbonde aan die oordrag van die eiendom van die verkoper na die koper, is die verantwoordelikheid van die oordragprokureur(s) wat deur die verkoper aangewys word - sowel as die aktekantoor. Hierdie transaksie word gewoonlik binne 60 dae afgehandel.
Wanneer eienaar sukkel
Die prys van 'n doodgewone gesinswoning verwissel deesdae teen miljoene rande van hande, en nie meer duisende rande nie.
Om eiendomstransaksies in hierdie prysklas te beklink, verg besondere onderhandelingsvaardighede waaroor huiseienaars nie noodwendig beskik nie. Die betrokke eiendom mag dalk ook nie waarde vir geld bied nie!
Daar moet ook nie uit die oog verloor word dat kopers met die hulp van die internet deesdae ingeligte persone is nie. Die bemarkingsprys moet dus realisties wees, en nie deur sentiment en emosie beïnvloed word nie.
Internetbemarking sal na alle waarskynlik die slagaar van die eienaar se bemarkingsplan uitmaak. Die gehalte van die foto's van die eiendom moet hoogstaande wees.
Die gebruik van 'n driedimensionele Matterport-video-opname is onontbeerlik om met belangstellende kopers in ander wêrelddele op die internet te kommunikeer. Sodoende kan die eienaar vir voornemende kopers op 'n "begeleide toer" deur die eiendom neem indien hulle nie onmiddellik 'n fisiese besoek aan die eiendom kan bring nie.
Sentiment en emosie moet liefs vervang word met professionaliteit en kundigheid ten einde 'n suksesvolle verkoopstransaksie te bewerkstellig. Wees ook gewaarsku: Om die eienaar en bemarkingsagent van 'n eiendom te wees, is 'n voltydse, vermoeiende taak!

- Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.


















