Huiswaarts: Huis, paleis . . . proses!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is seker baie min eerstekopers wat op 'n sonnige somersoggend kan opstaan en besluit: "Vandag gaan ek my droomhuis kontant koop."

Die meeste van ons moet maar aansoek doen om 'n huislening. En dit is waar die uitdagings lê. Huiskoop is 'n proses - een waarin jy moet seker wees dat jy kredietwaardig is, dat jou krediettelling hoog genoeg is en dat jy enige moontlike deposito's, koste verbonde aan die kooptransaksie én die maandelikse paaiement kan bybring.

Sê nou net!

Sê nou net jy kry die geleentheid om uiteindelik jou eie droomhuisie by die see teen 'n winskoop aan te koop; vier slaapkamers, 'n ruim leefarea, moderne kombuis, pragtige badkamer en 'n reuse- ommuurde tuin. Dít alles teen 'n weggeeprys van R1,2 miljoen. Die enigste voorwaarde is dat 'n 10% deposito van R120 000 en totale koste van sowat R66 972 dadelik betaalbaar is. Benewens dít, is jou maandelikse paaiement R11 332! Kan jy dit nou dadelik bekostig en is jy koopgereed?

Ten einde huislenings meer bekostigbaar vir voornemende kopers te maak, is daar sekere basiese dinge wat die kopers kan doen om bekostigbaarheid aan te help:

  • Verminder skuld - Suid-Afrikaanse verbruikers gaan gebuk onder 'n geweldige skuldlas, aangehelp deur 'n soort "moet-nóú-hê-manie". Nie net verbeter 'n verminderde skuldlas jou krediettelling nie, maar dit maak ook jou maandelikse paaiemente meer bekostigbaar en kan jy later vir 'n groter verband kwalifiseer. Skuld verminder dus jou koopkrag en oormatige skuld verminder jou koopkrag oormatig;
  • Stel 'n maandelikse begroting op - Dit help dat jy binne perke bestee. Die betaal van 'n maandelikse paaiement is nie die enigste uitgawe met die koop van jou droomhuis nie. Jy moet begroot vir lopende uitgawes soos versekering (sowel lewensdekking as eiendomsversekering), munisipale eiendomsbelasting, water- en elektrisiteitsrekeninge, en onderhoud aan die huis;

'n Begroting keer dus dat jy "huis-arm" word, 'n term wat gebruik word indien 'n huiseienaar slegs kan bekostig om sy of haar maandelikse paaiement te betaal - en niks anders nie;

  • Vermeerder jou inkomste deur byvoorbeeld oortyd- of deeltydse werksgeleenthede aan te pak. 'n Ander moontlikheid is om 'n huurder in te neem. Ons sal hieroor in 'n volgende rubriek verdere voorstelle maak;
  • Spaar vir 'n deposito of die ekstra koste verbonde aan die kooptransaksie. Banke vra nie altyd vir 'n deposito nie, maar die betaal daarvan gee aan jou net daardie ekstra bedingingsvermoë wanneer jy teen ander kopers meeding. Nog voordele van 'n deposito is dat dit jou verbandskuld (maandelikse paaiement) verminder en dat dit jou rente bespaar. Hoe groter die deposito, hoe groter die uiteindelike besparing;
  • Verbeter jou kredietrekord - Werk konstant daaraan om jou kredietrekord te verbeter. Die Nasionale Kredietwet maak daarvoor voorsiening dat verbruikers een gratis kredietkontrole per jaar kan doen. Die voordeel om gereeld sodanige ondersoek te doen, is dat jy eerstens kan kyk of daar enige ongerymdhede op jou kredietrekord plaasgevind het en, tweedens, dat jy kan seker maak dat al jou persoonlike inligting korrek is.

Een van die beste maniere om seker te maak dat jy vir 'n huislening kwalifiseer en, beter nog, vir watter leningsbedrag, is om 'n voorafgoedkeuring te verkry. Dié sertikaat sê aan verkopers dat jy 'n ernstige koper is en dien as bewys dat jy kwalifiseer vir die huislening om die eiendom te koop. Dit word gratis en sonder enige verpligting deur 'n verbandmakelaar uitgereik. Vir die uitreiking van die sertifikaat gaan jy onder meer dié dokumente nodig kry:

  • 'n Verkorte aansoekvorm, verskaf deur die verbandmakelaar;
  • Jou identiteitsdokument;
  • 'n Inkomste- en uitgawerekening;
  • Die salarisstrokies van die afgelope drie maande; en
  • Die bankstate van die afgelope drie maande.

Jy is welkom om my via die volgende e-pos adres te kontak: brian.mabotha@gmail.com

Tot volgende keer.

SPELETJIES VANDAG

CTA