DEELTITELFORUM #69: Ken jou deelplan – nr. 3 in ons reeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons het in die vorige twee rubrieke in meer detail gekyk na die magdom inligting wat daar op 'n deelplan weergegee word. Daar was eerstens (in rubriek #67) 'n algemene verwysing na die metode en nodigheid om 'n stuk grond se eiendomsbeskrywing by die landmeter-generaal (LG) en akte­kantoor te laat verander, sodat dit nie meer bekend staan as 'n "erf" nie, maar as 'n "deeltitelskema". In rubriek #68 het ons gekyk na die eerste blad van 'n deelplan, naamlik die inligtingsblad, en gesien watter belangrike detail betreffende die deeltitelskema, in ons voorbeeld die Wildewind-skema, aangedui word.

Ná die inligtingsblad moet 'n blokplan volg. Die term "blokplan" en die gebruik van sulke planne is nie eie aan deeltitelskemas nie. Dit word algemeen gebruik in die eiendomsontwikkelings- en boubedryf en beskryf 'n tipe plan wat 'n bepaalde eiendom op 'n akkurate manier binne sy onmiddellike omgewing weerspieël. In 'n deeltitelkonteks, en soos in die Wildewind-blokplan aangedui is, word die ligging van geboue op die grond aangedui, tesame met 'n verwysing na die ligging van aangrensende eiendomme of paaie. Die ligging van areas ten opsigte waarvan uitsluitlike gebruiksregte toegeken word, moet ook aangedui wees op die blokplan. (Die uitsluitlike gebruiksregte word in verdere blaaie van die plan in meer detail aangedui.) Die blokplan dui ook aan waar die bakens is wat as verwysing gedien het vir die afmetings.

In die regulasies tot die Deeltitelwet 95 van 1986 ("DW"), spesifiek regulasie 5, word uitvoerige voorskrifte gelys oor inligting wat in die blokplan vervat moet wees. Weens die hoogs tegniese aard daarvan, word elke voorskrif nie hier uitgelig nie, maar ons lys 'n paar belangrike fasette wat lesers maklik op die ingeslote blokplan sal kan bespeur:

  • Buitemure: Die blokplan moet die ligging van die buitemure van elke gebou wat opgerig staan, soos dit op die grondvlak sigbaar is, aandui. Dit moet ook aandui wat die horisontale afstand van die buitemure tot by die grens van die eiendom is (reg 5(2)(b)(aa), DW). (Vorige artikels in Deeltitelforum het al verwys na die kopkrappers wat ontstaan as 'n mens aanneem dat elke gebou in 'n skema noodwendig as 'n deel op die deelplan aangedui is. Dit is uitgewys dat, vanuit die deeltitelwetgewer se oogpunt, geboue (of gedeeltes van geboue) alleen as (deeltitel)dele gereken word as hulle as sodanig op die deeltitelplan aangedui is. Wat die mure wat op die blokplan aangedui word dus betref, is dit nie noodwendig 'n verwysing na (deeltitel)dele nie, en kan dit gemeenskaplike eiendom wees.)

Benewens bogenoemde, moet die blokplan ook die volgende aandui:

  • 'n Beskrywing van die aangrensende eiendomme en/of strate.
  • 'n Aanduiding van enige grondoorskrydings.
  • 'n Aanduiding van serwitute wat die grond beswaar. Dink byvoorbeeld aan 'n bestaande serwituut van pypleiding wat tot voordeel van die munisipaliteit oor die eiendom geregistreer is. Met die skep van die deeltitelskema, val die serwituut nie weg nie en kan dit ook nie geïgnoreer word nie. Die dokumente wat by die aktekantoor ingedien word om die deeltitelskema te vestig, sal daarom sodanige serwitute noem en aandui dat eienaarskap in die skema onderhewig is aan die munisipaliteit se regte in terme van die serwitute. Dit is hierdie serwitute wat dan op die blokplan aangedui moet word.
  • 'n Aanduiding van die "ware noord". ('n Mens kan wel vra of daar dan 'n vals noord is! Noord, as teenoorgestelde rigting van suid, dui die rigting van of na die Noordpool aan.

Omdat mense dikwels van 'n magnetiese kompas gebruik maak om rigting vas te stel, en die kompasnaald nie altyd presies die fisieke Noordpool aandui nie, word daar 'n onderskeid getref tussen die geografiese (die "ware") noord en die magnetiese noord.)

  • 'n Aanduiding van waar die uitsluitlike gebruiksgebiede geleë is.

'n Algemene bepaling in regulasie 5(1)(i) maak voorsiening daarvoor dat die LG mag weier om 'n konsepdeelplan goed te keur indien hy van oordeel is dat sodanige plan nie aan landmetingsdissiplines voldoen nie, of andersins aan die vereistes van die DW nie.

'n Mens kom aanhoudend agter dat, hoewel 'n deelplan op die oog af dalk slegs tegnies van aard mag voorkom, daar oneindig baie praktiese en waardevolle inligting is wat 'n mens geredelik kan naslaan.

Tot 'n volgende keer, en die tweede laaste rubriek in dié reeks oor deelplanne.

SPELETJIES VANDAG

CTA