Luukse aftreeoorde word ál hoe gewilder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die skielike toename in luukse aftreeoorde oor die afgelope paar jaar kan toegeskryf word aan 'n verskeidenheid faktore.

Vanweë hul aktiewe leefstyle is mense in hierdie groeiende segment se lewensverwagting deesdae dekades langer as voorheen, terwyl ontwikkelaars vir gans te lank dié markkategorie geïgnoreer het en vandag met 'n agterstand worstel.

Verder wil vroeë afgetredenes dalk afskaal na 'n mooi wooneenheid wat geen onderhoud verg nie, maar spog met pragtige, moderne afwerkings. Hulle wil egter steeds ekonomies aktief bly deur van die huis af te werk; en daarom wil hulle veseltoegang vir die internet hê.

Hulle is ook op soek na aftreeoorde wat verskeie geriewe bied en heg baie waarde aan sekuriteit en mediese sorg. Talle ouer mense wil ook deelneem aan allerlei sosiale aktiwiteite en wil graag oefen en hul stokperdjies beoefen.

Hierdie verskynsel het ook ál meer voornemende inwoners laat besef dat hulle nie hul gemaklike leerstyl hoef prys te gee net omdat hulle wil afskaal nie. Dus lyk moderne aftreeoorde toenemend anders as gewone komplekse.

'n Verdere rede vir dié oorde se gewildheid is hul relatief maklike bekombaarheid deur middel van "lewensregte", waarvolgens die inwoner 'n bekostigbaarder koopprys betaal (daar is geen BTW, oordragtariewe of kapitaalwinsbelasting betaalbaar nie), in ruil vir gewaarborgde verblyfreg vir die res van die inwoner en gade se lewens, maar die oord behou eienaarskap en sorg vir die onderhoud van die eiendom.

Lewensregte bied verblyf in luukse oorde wat voorheen as losstaande of deeltiteleiendomme buite die bereik was van middelklaskopers.

Waglyste van 10 jaar en langer kom deesdae algemeen voor by skemas wat veral hierdie betaalmodel aanbied.

  • Bronne: Senior Service, IOL, Property Wheel en Sotheby's Realty.

Voordele

Die voordele van 'n aftree­gemeenskap:

Volgens 'n in-diepte-studie deur ProMatura het inwoners van aftreegemeenskappe meer voordele as seniors wat elders woon.

Die verslag het bevind dat inwoners in aftreegemeenskappe die volgende voordele geniet in vergelyking met dié met ander lewensreëlings:

  • bly langer gesonder
  • meer aktief
  • minder eensaam
  • voel in die algemeen veiliger
  • geniet die lewe meer
  • voel meer in beheer van hul lewens

Het jy geweet

Data toon dat van die land se 5,45 miljoen residensiële eiendomme (buiten maatskaplike behuising), word sowat eenderde deur 60-jariges en veel ouer mense besit.

" 'n Kwart van die mense het hul eiendomme gekoop nadat hulle 60 geword het, en net 44 000 van die eiendomme is in formele aftreeoorde geleë, wat daarop dui dat hulle op die boonste punt van die mark geteiken is," sê Hayley Ivins-Downes, die besturende direkteur van eiendomme by Lightstone.

Die huiseienaarskap van mense van 60 jaar en ouer bestaan uit gesubsidieerde behuising (1,3 miljoen), nie-aftreebehuising (1,5 miljoen) en formeel geregistreerde kommersiële aftreehuise (44 000). Lightstone het sowat 650 aftree-komplekse in Suid-Afrika geïdentifiseer - hetsy landgoedere of deeltitelskemas - wat woorde soos "aftrede", "oud", "bejaard" of "ouetehuis" in hul naam gebruik. Hierdie 650 entiteite verteenwoordig minder as 'n geraamde 100 000 eenhede en huisves nie meer as 125 000 individue nie. Meer as 5 miljoen Suid-Afrikaners is 60 jaar of ouer.

"Die data toon dat hoewel baie Suid-Afrikaners wat ouer as 60 is hul eie huise besit, daar 'n beduidende gaping in die beskikbaarheid van formele aftreebehuisingsopsies is. Hoewel sowat 650 aftreekomplekse geïdentifiseer is, akkommodeer die behuising slegs 'n klein persentasie van die land se senior bevolking. Dit beklemtoon die behoefte aan diverse en toeganklike oplossings vir aftreebehuising, veral in die bekostigbare segment," sê Ivins-Downes.

SPELETJIES VANDAG

CTA