Nuwe hoof by Growthpoint aangewys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Estienne de Klerk is as die nuwe uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Growthpoint aangewys, het die JSE-genoteerde eiendomsgroep Maandag bevestig.

De Klerk is tans uitvoerende hoof van Growthpoint Suid-Afrika.

Hy sal op 1 Julie volgende jaar by Norbert Sasse oorneem, wat dan aftree. Growthpoint het in 2022 al aangekondig dat Sasse beplan om uit te tree.

Estienne de KIerk, wat van 1 Julie volgende jaar as die nuwe uitvoerende hoof van Growthpoint dien. Foto: Growthpoint
Estienne de KIerk, wat van 1 Julie volgende jaar as die nuwe uitvoerende hoof van Growthpoint dien. Foto: Growthpoint

Nuwe finanshoof

Growthpoint het ook aangekondig dat José Snyders van 1 Januarie volgende jaar die nuwe finansiële hoof van die groep sal wees. Hy kom in die plek van Gerald Völkel, wat einde Maart volgende jaar aftree. Snyders is tans die uitvoerende hoof van Liberty Two Degrees.

Growthpoint is die grootste genoteerde eiendomsgroep in die land, en besit die helfte van die Victoria & Alfred Waterfront, een van die spog-eiendomsontwikkelings in Suid-Afrika. Growthpoint het ook eiendomsbeleggings in Australië, Brittanje, Oos-Europa en elders in Afrika.

Growthpoint sê hy beplan leierskorpsveranderinge ver vooruit om stabiele en ervare leiding te verseker en 'n sterk kultuur te vestig om volhoubare langtermynwaarde aan sy belanghebbers te lewer.

Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint wat volgende jaar Junie aftree. Foto: Growthpoint/Facebook
Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint wat volgende jaar Junie aftree. Foto: Growthpoint/Facebook

De Klerk het sowat 30 jaar se ervaring in die bankwese en genoteerde-eiendom-sektor, waarvan hy byna 20 jaar by Growthpoint was in verskeie senior rolle. Hy is 'n geoktrooieerde rekenmeester en het onlangs 'n gevorderde bestuursprogram by die Harvard-sakeskool in Amerika voltooi. Hy het 'n BCom-graad in bedryfsielkunde en 'n BCom-honneursgraad in bemarking en rekeningkunde van die Universiteit van Johannesburg.

22 jaar lank aan die stuur

Sasse was 22 jaar lank aan die stuur van Growthpoint. Hy word volgende jaar 60. Volgens die groep sal hy die groep nog tot einde Junie volgende jaar lei. Hy sal daarna nog ses maande tot einde Desember volgende jaar in 'n uitvoerende hoedanigheid aanbly om 'n gladde oorgang in die leierskorps te verseker.

José Snyders, wat met ingang 1 Januarie 2026 as die nuwe finanshoof van Growthpoint sal dien. Foto: Growthpoint
José Snyders, wat met ingang 1 Januarie 2026 as die nuwe finanshoof van Growthpoint sal dien. Foto: Growthpoint

Die pos van uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse bedrywighede sal ook dan wegval as deel van 'n hersiening van die bedryfsmodel vir uitvoerende leiers by die groep.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA