Eiendomme

Waterfront laat Growthpoint weer blink

’n Uitsig op die Radisson Red-hotel in die Silo-distrik in die V&A Waterfront, met die Zeitz-museum vir Kontemporêre Afrika-kuns links voor.
’n Uitsig op die Radisson Red-hotel in die Silo-distrik in die V&A Waterfront, met die Zeitz-museum vir Kontemporêre Afrika-kuns links voor. (Foto: V&A Waterfront)

Die V&A Waterfront het weer eens sy reputasie as kroonjuweel van Suid-Afrikaanse eiendomme gestand gedoen.

Beter toerismesyfers het gehelp dat dié ikoniese eiendomsontwikkeling sterk kon bydra tot die eiendomsreus Growthpoint se resultate vir die boekjaar tot einde Junie.

Inkomste van sowel winkels as hotelle in die Waterfront het fluks gegroei. Nuwe hotelle wat in bedryf gekom het, asook ’n goeie passasierskip-seisoen, het ook bygedra.

Die netto eiendomsinkomste van die Waterfront was 10,4% hoër as in die vorige boekjaar. Die aantal toeriste wat die Waterfront besoek het, het met 6% gegroei.

Kleinhandelverkope in die Waterfront was 5,8% beter. Kantoor-inkomste het met 17% gegroei.

83 passasierskepe het die Kaapse hawe in die jaar aangedoen, teenoor 69 die vorige boekjaar. Dit het 170 000 besoekers gebring.

Norbert Sasse, uittredende uitvoerende hoof van Growthpoint, glo die meer passasierskepe was weens die probleme in die Suez-kanaal en die Midde-Ooste wat meer skepe na die Kaap gelok het.

Norbert Sasse, uittredende uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Growthpoint.
Norbert Sasse, uittredende uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Growthpoint. (Foto: Growthpoint)

’n Nuwe, luukse vyfsterhotel gaan middel volgende jaar in die Waterfront oopmaak.

Growthpoint besit die helfte van die Waterfront en sy 50%-deel van die verspreibare inkomste het in die boekjaar met 4,5% tot R810,5 miljoen gestyg nadat netto finansieringskoste in berekening gebring is.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit namens staatsamptenare se pensioenfonds die ander helfte van die Waterfront.

Jaarsyfers

Growthpoint se totale groepinkomste buiten dié van Capital & Regional in Brittanje, wat hy verkoop het, het met 2,2% tot R13,3 miljard gegroei en bedryfswins was 5,5% beter op R8,7 miljard.

Sy verspreibare inkomste per aandeel het met 3,1% tot R1,46 gegroei danksy beter bydraes deur die Suid-Afrikaanse eiendomsektor.

Growthpoint het ’n slotdividend van 63,3c per aandeel verklaar, wat 8,6% meer is as ’n jaar gelede. Die totale dividend vir die jaar is 6,1% meer as die vorige boekjaar op R1,24 per aandeel.

Kantoor-blootstelling word verklein

Growthpoint is besig met ’n strategie om sy blootstelling aan die kantoormark in sy Suid-Afrikaanse portefeulje te verklein. Hy wil hom ook uitwikkel uit middestad-gebiede en bestaande eiendomsnodusse wat agteruitgaan.

Growthpoint se Suid-Afrikaanse portefeulje bedra R66,7 miljard, wat sowat die helfte van die totaal bedra.

Die groep het in die afgelope jaar sy belang in Capital & Regional finaal verkoop.

Die Waterfront se waarde word op R26,6 miljard gereken, met Growthpoint se 50%-belang wat dus R13,3 miljard werd is.

Sy ander oorblywende buitelandse beleggings is in Australië en Oos-Europa.

Growthpoint beskou die boekjaar as ’n omdraaipunt sedert 2020 se insinkings en ná die vorige boekjaar wat baie moeilik was.

Sy eiendomsbates se totale waarde het wel met 6,3% tot R155,8 miljard gedaal vanaf die vorige boekjaar.

Sy lening-tot-waarde-verhouding het verbeter van 42,3% tot 40,1%. Dis ’n belangrike maatstaf vir ’n eiendomsmaatskappy en toon hoe swaar sy eiendomme met leningskuld gelaai is.

Die eiendomsiklus is reg vir groei en het sy onderste draaipunt bereik, glo Sasse.

Dis op grond daarvan dat Growthpoint ’n beter dividend verklaar het.

Die groep moet jaarliks tussen R5 miljard en R6 miljard aan instandhouding van sy geboue bestee en genoeg kapitaal terughou om dié geld te kan uitgee, sê Sasse oor die groep se besluit oor dividendverklarings.

Minder skuld

Die groep se netto skuld het van R67,8 miljard tot R59,1 miljard gedaal. Dit en laer rentekoerse het gehelp om laer netto finansieringskoste te behaal.

Die finansieringskoste in Suid-Afrika het met R49 miljoen gedaal. Die gemiddelde skuldkoste het van 9,6% tot 8,9% gedaal.

Sedert 1 Julie 2016 het die groep 186 eiendomme vir R14,9 miljard verkoop. Die totale aantal eiendomme in sy portefeulje het van 471 tot 328 gedaal. Met die verkoop van kantore plaaslik skuif die groep sy blootstelling na nywerheids- en logistieke eiendomme, dus fabrieke en pakstore of verspreidingsentra.

Volgens Estienne de Klerk, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Growthpoint, is sy Kaapse en Durbanse kantoorportefeulje goed verhuur. Mense wat behoorlike kantoorruimte in dié stede soek, gaan sukkel. In Gauteng staan meer kantore egter nog leeg.

Een van Growthpoint Australia se unieke kantoorgeboue in Melbourne.
Een van Growthpoint Australia se unieke kantoorgeboue in Melbourne. (Foto: Growthpoint Australia)

Die Australiese portefeulje het swakker gevaar in die boekjaar. Rentekoerse in Australië het nie teen dieselfde pas afgekom as elders ter wêreld nie en 75% van die portefeulje is steeds in die sukkelende kantoorsektor.

In rand het die bydrae van Australië met R48 miljoen gedaal.

Volgens Sasse hef die deelstaat Victoria groot belastings op buitelandse beleggers en dit vreet sowat ’n derde van Growthpoint se inkomste daar op. Nog ’n faktor wat die kantoormark spesifiek in Melbourne, hoofstad van Victoria, raak, is dat die deelstaatregering wetgewing oorweeg om mense die wetlike reg te gee om van die huis af te werk. Dit spruit nog uit die impak wat die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie op Australiërs gehad het.

Leegstandsyfers in SA

In Suid-Afrika staan 8,2% van sy eiendomme leeg, teenoor 8,7% in die vorige jaar.

Agterstallige huur het van R85,2 miljoen tot R68,6 miljoen gedaal. Dis terug tot die vlakke van voor die pandemie. Tydens die pandemie het dit tot meer as R160 miljoen gestyg en dit het ’n paar jaar geduur om dit af te bring. Die waarde van die Suid-Afrikaanse portefeulje (uitgesluit die Waterfront) het met 2,2% of R1,4 miljard gegroei.

Logistiek (pakstore en verspreidingsentra) was die laaste paar jaar die bes presterende sektor in die groep.

Die grootste leegstandsyfer in die logistieke sektor is 5,7% in Gauteng, met Durban waar net 0,5% van die eiendomme leeg staan.

Die kleinhandelsektor lyk volgens De Klerk ook redelik goed. Die grootste leegstand van 6,9% in die kleinhandelsektor is ook in Gauteng. Die grootste leegstand is in die Alberton City-sentrum weens Game en House & Home wat hul persele ontruim het en Edgars wat sy winkelruimte verklein het.

In die kantoorsektor is leegstand in Gauteng op 18,5%, in Kaapstad 5,4% en in Durban net 0,7%.

Konferensiesentrum te koop?

Op ’n vraag of Growthpoint dit sou oorweeg om die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum te koop as die Kaapstad-metro dit sou verkoop, sê Sasse dit sal beslis oorweeg word, maar konferensiegeriewe is nie iets wat Growthpoint tans in sy portefeulje het nie.

Growthpoint spog intussen hy investeer steeds fluks in sonkrag, veral by sy winkelsentrums. Hy het al R1 miljard aan 80 aanlegte bestee wat 61,2 MW se sonkrag kan lewer. Hy het ook 122 groengebou-sertifiserings. Sy inisiatiewe vir waterbesparing sal in die volgende drie jaar 89,4 miljoen liter water bespaar.

– francois.williams@24.com