Eiendomme

Oorsese bates help Growthpoint in taai jaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Pakhuis by die Perth-lughawe in Australië wat deur Woolworths in Australië gehuur word. Dit is een van die nywerheidseiendomme van Growthpoint Properties Australia.  Foto: Growthpoint Australia
’n Pakhuis by die Perth-lughawe in Australië wat deur Woolworths in Australië gehuur word. Dit is een van die nywerheidseiendomme van Growthpoint Properties Australia. Foto: Growthpoint Australia

Die eiendomsgroep Growthpoint het 'n moeilike boekjaar agter die rug, met verdienste wat gekrimp het en die sukses om huurkontrakte te hernuwe wat afneem.

Growthpoint waarsku boonop sy verspreibare inkomste per aandeel sal in die lopende boekjaar met tussen 10% en 15% krimp.

Dit is gegewe die volgehoue invloed van hoë rentekoerse en die onsekerheid in sowel die plaaslike as internasionale makro-ekonomiese omgewing.

Vir die afgelope boekjaar tot einde Junie het Growthpoint 'n verspreibare inkomste per aandeel van 157,6c behaal, wat 1,3% beter is as die vorige boekjaar. 'n Dividend van 130,1c per aandeel is verklaar wat 1,3% beter is as die vorige jaar.

Sy netto batewaarde per aandeel is egter 0,3% laer op R21,51.

Buitelandse bates presteer

Growthpoint word toenemend 'n manier waarop Suid-Afrikaanse beleggers buitelandse blootstelling kan kry via 'n JSE-genoteerde maatskappy.

Growthpoint se dividendinkomste uit sy buitelandse beleggings het in die boekjaar tot einde Junie met 7,6% gegroei in randterme.

Dit was R1,6 miljard teenoor die vorige boekjaar se R1,5 miljard.

Growthpoint se buitelandse beleggings dra nou al 29,1% tot sy verspreibare inkomste per aandeel by, en dit bedra 45,8% van die groep se eiendomsbates.

Dis veral Growthpoint se eiendomsake in Australië wat in die afgelope boekjaar sterk presteer het, met netto inkomstegroei van 19,5% wat behaal is.

Growthpoint beskryf sy Australiese eiendomsportefeulje as 'n defensiewe een wat goed geposisioneer is in 'n mengsel van kantoor- en nywerheidseiendomme.

Tot 95% van sy huurders is groot maatskappye en die Australiese regering, en die portefeulje is in 'n sterk kapitaalposisie. Die skuldvlakke is laag en daar is aansienlike likiditeit.

Ook Capital & Regional - 'n Britse eiendomsonderneming wat in winkelsentrums op verskeie plekke in Brittanje gefokus is - het in die boekjaar sy sake verbeter. Die lenings-tot-waardeverhouding het tot 37% verbeter teenoor die vorige jaar se 45,3%. Dié verhouding is 'n belangrike aanwyser vir eiendomsmaatskappye se gesondheid.

Capital & Regional het boonop sy dividend in Britse pond meer as verdubbel - van 2,5 pennies per aandeel tot 5,5 pennies per aandeel. Dit het uitgeloop op 'n dividend van R103,6 miljoen aan Growthpoint teenoor die vorige boekjaar se R49,8 miljoen.

Die Victoria & Alfred Waterfront - die kroonjuweel in Growthpoint se Suid-Afrikaanse eiendomsportefeulje wat hy saam met die Openbare Beleggingskorporasie besit - het ook sterk herstel in die boekjaar danksy die herstel in sowel binnelandse as internasionale toerismesyfers.

Waterfront blink uit

Die V&A Waterfront het 'n 21,5%-styging getoon in die verspreibare inkomste. Growthpoint se 50%-belang het gevolglik 'n verspreibare inkomste van R688,4 miljoen opgelewer teenoor die vorige R566,7 miljoen.

Verdienste krimp

In totaal lyk Growthpoint se prestasie vir die jaar egter maar onder druk. Die basiese verdienste per aandeel het met 70,3% tot 69,24c gedaal, en basiese wesensverdienste per aandeel is 29,1% laer op R1,49.

Sy bedryfswins het met 2,1% tot R8,9 miljard gegroei, en die totale omset was 5,3% hoër op R13,7 miljard.

Die leegstandsyfer by Growthpoint se eiendomme in Suid-Afrika het tot 9,2% verbeter van die vorige 10,1%. Daar is verbeterings by nywerheids- en kleinhandeleiendomme, en die kantoorsektor lyk asof dit stabiliseer, sê die groep.

Maar daar is druk op huurders, soos te sien in die sukseskoers van huurkontrakhernuwings wat tot 64,9% verswak het vergeleke met 75,1% 'n jaar gelede.

Totdat die plaaslike ekonomie 'n groeifase betree, sal huurtoestande taai bly, sê Growthpoint.

Sasse bly aan

Norbert Sasse, uitvoerende hoof van die groep, het aangedui hy is bereid om langer by die groep aan te bly. Sy kontrak is dus tot einde Desember 2026 verleng, wat volgens Growthpoint die nodige kontinuïteit verskaf vir die vordering met die groep se verskeie strategiese planne.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM