Eiendomsbeleggers het nie veel te vrees te midde van hierdie onstuimige voor en ná die verkiesing nie.
Die markte sal hulself weer stabiliseer, sê Greg Dart, voorsitter van die eiendomsgroep High Street Auctions. "Dit is 'n algemene gesig, wêreldwyd," het hy vroeër die week in 'n verklaring opgemerk. "Markte het die vermoë om vroeg reeds, soms selfs al maande vooruit, hulself te staal vir die onseker tye van die verkiesing. En dan daarna weer terug te keer na hul natuurlike punt."

Suid-Afrikaners het Woensdag na die stembus gestroom in wat 'n verskuiwende oomblik blyk te wees in die afgelope 30 jaar se geskiedenis van verkiesingsuitslae. Dit was die eerste keer dat die regerende ANC-party 'n merkbare daling in steun oor die land heen ervaar het.
Vrese by beleggers en enigeen wat private eiendom besit, is dat 'n linkse koalisie gevorm kan word wat private eiendomsreg dramaties kortwiek.
Volgens Dart is daar tipies voor 'n verkiesing 'n vertraging in projekte wat afgeteken word soos beleggers eers die kat uit die boom wil kyk. Daar is ook minder eiendomstransaksies.
Ná die verkiesing begin sake weer kop optel. Dit duur gewoonlik 'n paar maande soos die mark sy voete vind te midde van die nuwe owerheidstrukture.
Hy sê dat die mark dikwels sterk terugbons ná 'n tydperk waarin transaksies teruggehou is. Vertroue kan ook herstel word, wat soms lei tot 'n verhoging in eiendomspryse.
Hoewel dit nog vroeg is, is Dart reeds baie positief oor die uitkoms van die verkiesing. "Twee lande het verlede jaar net sulke belangrike verkiesings gehad: Argentinië en Griekeland.
"Albei het vooraf sukkelende ekonomieë gehad, maar met die verkiesing het die kiesers markvriendelike partye ingestem. Dié nuwe owerhede het belangrike ekonomiese hervormings ingevoer, waarna hul markte sterk herstel het. In Griekeland het hul aandelemark net verlede jaar met 48% opgeskiet, terwyl Argentinië 'n ongelooflike 67%-styging getoon het."
Dart gebruik ook die 2020- Amerikaanse verkiesing as 'n voorbeeld van 'n verkiesing wat 'n positiewe uitkoms op die ekonomie en eiendomsmark gehad het. Vooraf was die markte ook erg senuagtig, sê hy, maar ná die verkiesing het hulle sterk herstel danksy lae rentekoerse en steunplanne vir die ekonomie.
"Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ook die afgelope paar jaar erg gely onder swak beleidsbesluite, die kragkrisis en 'n gebrek aan leierskap om goeie planne deur te voer. Ons eiendomsmark het sterk bly staan. Dit gaan nie sommer verander nie."
Daar is enersyds die verwagting dat rentekoerse later die jaar kan begin daal, terwyl nuwe sekerheid oor beleid sal bydra tot 'n positiewe sentiment in die eiendomsmark, sê hy.



















