Vier eiendomme van Steenkamp opgeveil

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hierdie multimiljoenrand-Boksburg-woning is een van vier eiendomme wat voorheen deur die veroordeelde bedrieër Hildegard Steenkamp besit is en op Dinsdag 14 Mei opgeveil gaan word. Foto: PVA
Hierdie multimiljoenrand-Boksburg-woning is een van vier eiendomme wat voorheen deur die veroordeelde bedrieër Hildegard Steenkamp besit is en op Dinsdag 14 Mei opgeveil gaan word. Foto: PVA

Die afslaer Park Village Auctions (PVA) kondig aan dat vier veilings, "na behore gelas deur die kurator bonis", gehou sal word van die bates uit die boedel van die gevonnisde bedrieër Hildegard Steenkamp.

Steenkamp was in Desember 2023 in die nuus toe die Johannesburgse kommersiële hof haar aan bedrog van meer as R530 miljoen skuldig bevind het en sy tot 50 jaar tronkstraf gevonnis is.

Op 8 Februarie vanjaar het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevestig dat, soos berig, die staat bates uit Steenkamp se boedel sal opveil, en PVA se advertensie lui "NDOV v. Hildegard Antoinette­ Steenkamp & Ander­, saaknommer: 2017/47936".

Vier residensiële eiendomme sal in Boksburg opgeveil word, elkeen saam met 'n verskeidenheid van meubels.

Die veilings begin Dinsdag 14 Mei om 11:00 met die verkoop van Killianlaan 21, Cinde­rella (webverwysing 1475).

Die dubbelverdiepinghuis spog met drie slaapkamers, drie badkamers, 'n dubbelmotorhuis en 'n twee­slaap­kamer­woon­stel en beslaan 'n grootte van 993 m².

Direk daarna kom Killianlaan 23, Cinderella (webverwysing 1499) onder die hamer.

Hierdie eiendom van 997 m² het 'n drieslaapkamerhuis met 'n swembad en buitegeboue wat voorheen as kantore gebruik is.

Volgende aan die beurt is Cilliersstraat 9, Cinderella (webverwysing 1500) op 'n erf van 1 035 m² met 'n dubbelverdieping-drieslaapkamerhuis en 'n vrystaande eenslaapkamerwoonstel, dubbelverdieping-buitegebou be­staan­de uit twee en-suite-gasteslaapkamers en 'n dubbel-tandemmotorhuis met parkering vir minstens vyf voertuie.

Daarna word die laaste eien­dom opgeveil by Yellowwood Estate 7, Smutslaan 35, Libradene (webverwysing 1503).

Hierdie residensiële erf van 916 m² bied 'n luukse dubbelverdieping-woning met drie en suite-slaap­kamers, baie leefruimte binne­ en 'n onthaalgedeelte buite, asook twee tandem-motorhuise en huisvesting vir 'n huiswerker.

Al vier veilings sal op die aangewese perseel gehou word, met aanlyn bieëry terselfdertyd beskikbaar.

SPELETJIES VANDAG

CTA