Die regering het geen plan om die Reserwebank te nasionaliseer nie.
Enoch Godongwana, minister van finansies, sê: "Hoewel 100%-eienaarskap van die Reserwebank deur die regering in pas sal wees met die meeste lande en jurisdiksies wêreldwyd, moet enige voordeel van die nasionalisering van die Reserwebank opgeweeg word teen die waarskynlik groot fiskale koste wat daarmee gepaard sal gaan."
Hy sê die voordele is minimaal, aangesien private eienaarskap tans net 'n toesigrol het en geen rol speel om monetêre beleid te bepaal of die finansiële sektor te reguleer nie.
"Beleidsvraagstukke is die alleenverantwoordelikheid van die president en adjunkpresidente van die Reserwebank, wat almal deur die president (van die land) aangestel word."
Godongwana sê "meer grondliggend" as die vraag oor eienaarskap is dat die Reserwebank toegelaat word om sy grondwetlik verskanste mandaat uit te voer. Dit is om die waarde van die rand in die belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei te beskerm. Die Reserwebank het ook die taak ingevolge wetgewing om finansiële stabiliteit te beskerm.
Godongwana het geantwoord op 'n geskrewe vraag van die EFF-LP Nontando Nolutshungu.
Die EFF beywer hom nou al jare lank vir die nasionalisering van die Reserwebank, en het selfs probeer om 'n wet daaroor deur te voer, maar dit het in die betrokke parlementêre komitee 'n stille dood gesterf.
Dít ondanks die feit dat die ANC self in 2017 die nasionalisering van die Reserwebank as beleid aanvaar het.
Die Reserwebank het toe gesê dit sal baie duur wees om die 2 miljoen aandele van private aandeelhouers - wat elk nie meer as 10 000 aandele mag besit nie - oor te koop. Die Reserwebank betaal jaarliks 'n dividend van slegs 10c per aandeel.
Die MKP staan ook die nasionalisering van die Reserwebank voor.
- hanlie.stadler@24.com




















