Rand breek deur hek van R16

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die rand was laas in Junie 2022 so sterk soos nou.
Die rand was laas in Junie 2022 so sterk soos nou. (Foto: Reuters)

Die rand het Maandagoggend kortstondig deur die R16-wisselkoershek gebars toe dit R15,99 teenoor die dollar gehaal het.

Dit is die eerste keer sedert Junie 2022 dat dié vlak verbygesteek is.

Die rand het die afgelope tyd versterk tot vlakke wat einde 2022 laas gesien is.

Bianca Botes, direkteur van Citadel Global, sê in kommentaar ’n sameloop van faktore is gunstig vir die rand – insluitend die rekord-goudprys en die voortgesette verswakking van die dollar.

Die R16-vlak is ’n sielkundige vlak. Botes het al verlede week ’n saak uitgemaak vir die moontlikheid dat die rand deur dié hekkie kan breek. Die vraag is of die rand daar gaan bly.

Die rand het baie kortstondig deur R16 gesak en het daarna teen die middag teen R16,03 verhandel, wat ook byna vier jaar laas gesien is.

Goud gee glans

Die goudprys is die groot rede vir die rand se versterking. Ander redes is die swak dollar en dat Suid-Afrika se fiskale sake al hoe meer vertroue begin wek, asook die nuwe inflasieteiken wat die Reserwebank gestel het wat die kans vergroot dat die rentekoers verder gaan daal. Dit verlaag die premie wat beleggers op Suid-Afrikaanse bates vereis.

Die goudprys het Maandag tot bo $5 000 per fynons gestyg – sy hoogste vlak tot nog toe.

LEES OOK | Goudprys storm verby $5000 per ons

Wat dit vir Suid-Afrika en ander groot goudproduserende lande beteken, is dat ’n hoër goudprys ’n verbetering in die handelsbalans (uitvoer teenoor invoer) meebring.

Botes sê die handelsoorskot het in November verhoog tot R37,7 miljard, wat ook laas in Maart 2022 gesien is.

Hoër uitvoerpryse laat die vraag na die rand toeneem omdat meer rande nodig is om binnelandse maatskappye te betaal. Dit verhoog sy waarde teen die dollar. ’n Dollar koop dus minder rande.

Adam Furlan, ’n portefeuljebestuurder by Ninety One, sê aan Bloomberg die rand word aangedryf deur die groot positiewe beweging in die handelsbalans, wat grootliks deur die prysstygings van edelmetale veroorsaak word.

Meer beleggersgeld vloei ook tans uit groot beleggingsportefeuljes in die wêreld na opkomende markte se aandele.

Dollar kry wind van voor

Maar die dollar het ook verswak en bly onder druk, sê Botes.

Die dollar-indeks (’n maatstaf wat die waarde van die dollar teen belangrike geldeenhede meet) is sowat 10% laer sedert vroeg in 2025.

Dit word toegeskryf aan hoe onrustig pres. Donald Trump van Amerika beleggers maak wanneer hy dreig met handelstariewe en die inval van Groenland, waarna hy al verwys het.

Volgens Bloomberg het die dollar Maandag verswak te midde van gissings dat Amerika saam met Japan se owerhede op gekoördineerde wyse gaan ingryp om die jen te ondersteun. Japan wil ingryp omdat spekulante sy wisselkoers met kortverkope ongewoon swak maak. Die jen het vroeër vandeesmaand die swakste vlak in 18 maande bereik.

Dominic Bunning, hoof van valutastrategie vir die G10 van Nomura, sê dit kom voor of Japan en Amerika wil ingryp in die dollar-jen-wisselkoers.

Amerika het laas in 2011 met ’n gekoördineerde poging by Japan se wisselkoers ingegryp.

Die jen is gedeeltelik onder druk omdat daar kommer is oor die land se staatskuld.

Fed-aankondiging verwag

Reuters sê die dollar het ook verswak omdat handelaars hul dollarposisies verminder het voor die rentekoersbesluit wat die Federale Reserweraad (Fed) vandeesweek aankondig, asook die verwagte aankondiging deur Trump oor wie die volgende voorsitter van die Fed gaan wees.

“Daar gaan baie dinge tans in Amerika aan, soos die betogings teen die jongste skietvoorval in Minneapolis, Minnesota. Trump gaan moontlik ook die opvolger vir Jerome Powell aanwys. So dit maak die markte senuagtig op die oomblik,” sê Marc Chandler, hoofmarkstrateeg by Bannockburn Capital Markets in New York.

– nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA