Die regering se plan om 'n nuwe steenkoolkragstasie van 1 500 MW te laat bou het 'n terugslag in die hof gekry.
Die hooggeregshof in Pretoria het beslis die plan is onwettig weens die potensiële impak op openbare gesondheid.
Dit word beskou as 'n terugslag vir veral Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, wat 'n groot voorstander van die volgehoue benutting van Suid-Afrika se ryk steenkoolreserwes is.
Omgewingsgroepe is hof toe om teen die plan vir 'n nuwe steenkoolkragstasie kapsie te maak.
Regter CJ van der Westhuizen het in sy uitspraak vandeesweek gesê die plan om nog elektrisiteit met steenkool op te wek tas mense se grondwetlike reg op gesondheid aan.
Die plan vir 1 500 MW se nuwe steenkoolkrag is deel van die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) van 2019, wat in 2020 goedgekeur is.
Die omgewingsgroepe se saak is aanhangig gemaak teen Mantashe, wat in daardie stadium energieminister was, die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en pres. Cyril Ramaphosa.
Die hof het beslis Mantashe, Nersa en Ramaphosa se besluit om die IRP goed te keur wat die nuwe steenkoolkrag insluit, is onwettig en ongeldig.
Mantashe en Nersa is ook beveel om die omgewingsgroepe se regskoste te betaal.
Die hofuitspraak word beskou as nog 'n oorwinning vir aktiviste, wat reeds hofsake gewen het teen eksplorasie vir olie en gas ter see.
Suid-Afrika is van steenkool afhanklik vir sowat 80% van die land se elektrisiteit, en die land se luggehalte is van die swakste ter wêreld.
Besoedeling weens die verbranding van steenkool vir kragopwekking veroorsaak verskeie gesondheidsprobleme, wat asemhalingsiektes, beroertes en hartaanvalle insluit. Eskom het al erken dat sy besoedeling jaarliks tot die dood van honderde mense lei.
Mantashe en ander politici voer aan die skuif na skoner elektrisiteit sal energiesekerheid in die gedrang bring en kan tienduisende werkgeleenthede in die steenkoolmynbedryf en by Eskom-kragstasies tot niet maak. - Bloomberg


















