Die Koeberg-kernkragstasie se eenheid 2, wat in Desember weer in bedryf gestel sou word, sal nou eers in Januarie weer aan die kragnetwerk gekoppel word.
Dit beteken die eenheid sal meer as 'n jaar afgeskakel wees. Dis op 11 Desember verlede jaar afgeskakel.
Dit het Woensdag geblyk uit 'n aanbieding van Eskom aan die parlement se portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie.
Ondanks dié probleem meen Dan Marokane, uitvoerende hoof van Eskom, beurtkrag sal nie dié somer nodig wees nie.
LEES OOK | Munisipale skuld aan Eskom gaan binne maande meer as R120 mjd. wees
Die ekstra tyd wat Eskom homself gee om die eenheid weer op die been te bring, is om 'n tydbuffer in te bou ingeval daar nog probleme opduik wanneer die eenheid heringestel word.
Dit is nadat foute met sweiswerk voorheen bespeur is op die hoofstoompype. Dit het bykomende inspeksie en sweisherstelwerk vereis.
Dit was deel van die projek om die eenheid se drie stoomgenerators te vervang ten einde die bedryfsleeftyd met 20 jaar te verleng.
Mteto Nyati, voorsitter van Eskom, het voor die komitee gespog dat Eskom nou al agt maande sonder beurtkrag is. 26 Maart was die laaste dag met beurtkrag vanjaar.
Eskom verwag boonop om teen die einde van sy boekjaar in Maart nog 2 524 MW se kragopwekkingskapasiteit na die netwerk terug te bring.
Dit sluit die 930 MW van Koeberg se eenheid 2 in, asook 'n eenheid elk van die Kusile- en die Medupi-kragstasie, wat in Januarie en Maart na die netwerk sal terugkeer.
- francois.williams@24.com





















