Munisipaliteite se skuld aan Eskom het hom in 'n bestaanskrisis gedompel.

Nou, sê die minister van elektrisiteit en energie, dr. Kgosientsho Ramokgopa, loop die kragreus die gevaar om al die vordering wat hy die afgelope nege maande in die stryd teen beurtkrag gemaak het, te sien verwyn.
Ramokgopa het dié opmerking gemaak nadat Eskom met die bekendmaking van sy finansiële resultate vir 2023-'24 aangedui het die agterstallige skuld kan teen einde Maart reeds R110 miljard beloop.
Teen einde November was die skuld al R95,4 miljard.
Ramokgopa het beloof om vroeg volgende jaar ingrypings aan te kondig om die probleem hok te slaan. Hy het geen besonderhede verskaf nie.
Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, het ook gesê sonder 'n oplossing vir die munisipale skuldprobleem en elektrisiteitstariewe wat Eskom se koste dek, sal die R254 miljard se skuldverligtingspakket van die regering weinig help.
Dié hulp word oor drie jaar aan Eskom oorbetaal en het ten doel om Eskom se skuldvlakke te verlaag sodat hy finansieel op sy eie bene kan staan.
Cassim sê egter tensy die munisipale skuld hokgeslaan word, sal Eskom eenvoudig weer by die belastingbetaler moet bakhand staan.
Ramokgopa het beklemtoon dat die munisipale skuld nie net 'n Eskom-probleem is nie.
"Iemand moet daarvoor betaal. As dit nie die ander, betalende verbruikers is nie, is dit die belastingbetaler."
Ramokgopa het vroeër ingegryp toe Eskom gedreig het om Johannesburg se krag af te sny weens wanbetaling.
Die metroraad het egter aangevoer Eskom se rekeninge is onakkuraat.
Nadat Ramokgopa betrokke geraak het, is 'n onafhanklike kenner aangestel om die rekening na te gaan, Johannesburg het sy lopende rekening betaal en Eskom het sy afsny-kennisgewing teruggetrek.
Ramokgopa sê dit is duidelik dat sommige munisipaliteite nie die geld het om hul agterstallige Eskom-rekeninge te delg nie.
"As die skuld ouer as 90 dae is, is dit oninvorderbaar," het hy gesê.
Die nasionale tesourie het ook 'n skuldverligtingsprogram ingestel waarvolgens Eskom deelnemende munisipaliteite se agterstallige skuld oor drie jaar kan afskryf, maar volgens Eskom het net 10 van die 71 deelnemende munisipaliteite teen die einde van November by die streng voorwaardes gehou.
Hul skuld verteenwoordig net 2% van die totale agterstallige bedrag.
Ramokgopa sê veral buite die metrogebiede sukkel munisipaliteite om skaars vaardighede te behou.
Die minister sê 80% van huishoudings wat geregtig is op gratis basiese elektrisiteit van die regering kry dit nie, weens gebrekkige munisipale stelsels.
"Ons moet 'n tegniese platform kry waardeur subsidies direk aan dié verbruikers betaal word, nie deur munisipaliteite nie," sê Ramokgopa.
Eskom se slegste jaar
Eskom het sy resultate maande ná die wetlike spertyd bekend gemaak. Die vertraging was glo om die kragverskaffer kans te gee om op vrae van die ouditeurs te antwoord. Sy ouditverslag is nietemin gekwalifiseer met klem op verskeie aspekte en sewe ongerymdhede wat die ouditeure verplig is om by hul reguleerder aan te meld. Die groep het 'n voorbelaste verlies van R25,4 miljard aangeteken, teenoor R34,5 miljard in die vorige boekjaar. Weens die ontbondeling van die National Transmission Company of South Africa (NTCSA) moes Eskom 'n uitgestelde belastingkrediet van R36,6 miljard terugskryf, wat die netto verlies tot R55 miljard laat styg het.
Dit is egter net 'n boekinskrywing wat geen impak het op kontantvloei nie, maar is nietemin Eskom se grootste verlies ooit.
Eskom raam ook dat kragdiefstal hom van R23 miljard se inkomste beroof het tydens die boekjaar. Daarby het die 329 dae van beurtkrag in die tydperk sy kragverkope met 3% laat inkrimp en hy het sowat R34 miljard aan diesel bestee om die ligte met sy oopsiklusgasturbines te probeer aanhou. Dit is R4 miljard meer as die vorige boekjaar.





















