Energie

Nuwe brandstoftenkplaas vir Ngqurha beplan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op die Ngqurha-hawe, met die TNPA se kantore op die voorgrond en die houereindpunt op die agtergrond.Foto: TNPA
’n Uitsig op die Ngqurha-hawe, met die TNPA se kantore op die voorgrond en die houereindpunt op die agtergrond.Foto: TNPA

Transnet nooi private rolspelers uit om 'n nuwe brandstoftenkplaas by die Ngqurha-hawe in die Oos-Kaap te bou.

'n Versoek om voorstelle is uitgereik om 'n operateur aan te stel wat die tenkplaas sal finansier, ontwerp, ontwikkel, bou, bedryf en in stand sal hou.

'n Konsessietydperk van 25 jaar word aangebied. Aan die einde van die 25 jaar moet die operateur die tenkplaas aan Transnet oordra.

Die bou van 'n nuwe brandstoftenkplaas by Ngqurha is deel van Transnet se projek om die bestaande ou tenkplaas by Gqeberha te sluit en dié funksie oor te dra na die Ngqurha-hawe.

Die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) het Vrydag bekend gemaak die nuwe tenkplaas sal grootmaat brandstofopgaartenks, pypleidings, laaipunte vir tenkvragmotors en alle ander nodige infrastruktuur insluit.

Die voorgestelde tenkplaas word beoog op 'n stuk grond van die hawegebied langs die N2-snelweg wat ook ander ontwikkelings in die toekoms sal insluit, soos 'n eindpunt vir vloeibare aardgas.

'n Kaart uit die tenderdokumente wat die "Eastern Precinct" by die Ngqurha-hawe aandui waar die nuwe brandstoftenkplaas gebou moet word. Foto: TNPA
'n Kaart uit die tenderdokumente wat die "Eastern Precinct" by die Ngqurha-hawe aandui waar die nuwe brandstoftenkplaas gebou moet word. Foto: TNPA

Dr. Dineo Mazibuko, waarnemende hoofbestuurder vir kommersiële dienste by die TNPA, sê die nuwe geriewe is bedoel om ekonomiese groei in die streek en nasionaal te bevorder.

Volgens die TNPA is die Ngqurha-hawe die enigste kommersiële hawe in die land wat spesifiek omgewingsgoedkeuring vir sy hawebedrywighede het. Om sy omgewingsvriendelike status te behou, sal daar van die suksesvolle operateur van die tenkplaas verwag word om aan alle relevante omgewings-, veiligheids- en regulatoriese standaarde te voldoen.

Die TNPA het bedryfsrolspelers, wat nuwe toetreders tot die bedryf en gesamentlike ondernemings insluit, genooi om 'n bod in te dien in reaksie op die versoek om voorstelle.

'n Inligtingsessie oor die tender word op 9 Julie gehou, en die tender sluit op 19 September.

Hawe se nuwe rol

Transnet wil die Ngqurha-hawe posisioneer as die hoofhawe in die streek, met die hawe in Gqeberha wat 'n meer aanvullende rol sal speel. Die planne is dat die uitvoer van mangaanerts en die invoer van vloeibare aardgas ook by Ngqurha gevestig word. Tans hanteer dit hoofsaaklik houervrag. Die brandstoftenkplaas sal aan die oostelike deel van die hawe ontwikkel word.

Die mikpunt is dat 1 miljoen kiloliter brandstof per jaar deur die tenkplaas hanteer moet word, wat op mediumtermyn tot 3 miljoen kiloliter uitgebrei kan word.

Meer besonderhede oor die projek is op Transnet se tender-portaal beskikbaar.

- francois.williams@24.com

CTA