Energie

Nuwe tegnologie ‘kan steenkool red’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Camden-kragstasie sal een van die dae moet sluit, maar kan volgens navorsers toegerus word met nuwe skoonsteenkooltegnologie om sy leeftyd te verleng.  Foto: Eskom
Die Camden-kragstasie sal een van die dae moet sluit, maar kan volgens navorsers toegerus word met nuwe skoonsteenkooltegnologie om sy leeftyd te verleng. Foto: Eskom

Sewe steenkoolkragstasies van Eskom sal teen 2034 gesluit moet word, maar skoonsteenkooltegnologie kan nuwe lewe blaas in die steenkoolwaardeketting, meen navorsers van die WNNR en Sanedi.

Die steenkoolbedryf is een van die grootste werkverskaffers en belastingbetalers in die land, en as die kragstasies sluit, sal dit tot aansienlike werkverliese in die steenkoolwaardeketting lei.

Steenkool kan egter op drie maniere "skoongemaak" word, het die parlement se portefeuljekomitee oor energie en elektrisiteit Woensdag gehoor.

Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Suid-Afrikaanse Energieontwikkelingsinstituut (Sanedi) het aan die komitee gesê Suid-Afrika se steenkoolreserwes moenie onbenut gelaat word nie.

Doeltreffendheid verbeter

Deur die doeltreffendheid van steenkoolverbruik by kragstasies met net 1 persentasiepunt te verbeter, kan dit die vrystelling van kweekhuisgasse met 2 tot 3 persentasiepunte verlaag, het dr. Setobane Mangena, uitvoerende bestuurder van chemikalieë by die WNNR, in sy voorlegging aan die komitee gesê.

Dit behels hoogs doeltreffende stoomketels, wat die doeltreffendheid van 'n steenkoolkragstasie aansienlik kan verbeter. Van Eskom se kragstasies kan toegerus word met dié nuwe tegnologie om hul leeftyd te verleng en kosbare werkgeleenthede te behou.

Die tweede manier is om die besoedelende gasse soos swaeldioksied en stikstofoksied by 'n kragstasie te verminder, en die derde manier is om die uiteindelike koolsuurgasvrystellings op te vang en ondergronds te berg of te herbenut vir ander doeleindes.

Dr. Titus Mathe, uitvoerende hoof van Sanedi, het 'n oorsig gegee van verskillende tegnologieë wat bestudeer word om steenkoolverbruik in die land skoner te kry.

Dit sluit ondergrondse steenkoolvergassing in, waar gas geproduseer word uit steenkoolreserwes wat nie soos normaal ontgin kan word nie. Die gas kan dan vir kragopwekking benut word. Die risiko is egter dat die proses grondwater kan besoedel, en die gehalte van die ondergrondse gas is nie dieselfde as waarop gehoop is waar die tegnologie getoets is nie.

Eskom het sy navorsingswerk hieroor vir eers gestaak, het Mathe gesê.

Studietoere na China en Rusland

Sanedi was verlede jaar saam met Eskom op 'n studietoer in China waar geleer is wat Chinese kragmaatskappye doen om hul steenkoolverbruik skoner te maak.

Sanedi was ook in Rusland op uitnodiging van die Thabo Mbeki-stigting en die Siberiese elektrisiteitsopwekkingsmaatskappy. Daar is geleer hoe Rusland sy steenkoolkragstasies bestuur en verouderde infrastruktuur opknap om sy kweekhuisgasse op kragstasievlak te verlaag.

Volgens Mathe werk Sanedi en Eskom se navorsingsafdeling ook saam met Japanse entiteite oor tegnologie waar steenkool en ammonia saam verbrand word om kweekhuisgasse te verminder.

Te laat om Komati te red

Mathe stem saam dit is nou te laat om die Komati-steenkoolkragstasie te red omdat heelwat van die toerusting al verwyder is. Ander kragstasies wat bestem is om te sluit, soos Grootvlei en Camden, kan wel toegerus word met die nuwe tegnologie om hulle te laat herleef. Maar die struikelblok is finansies.

Wat koolsuurgas-opvang-en-berging betref, is 'n perseel in die Govan Mbeki-munisipaliteit (Secunda) in Mpumalanga geïdentifiseer waar koolsuurgas ondergronds geberg kan word. Die raming is dat 1 miljoen ton koolsuurgas daar gestoor kan word. Die perseel is gekies omdat dit naby Sasol se Secunda-aanleg en Eskom-kragstasies is, het Mathe aan die komitee gesê.

Die WNNR fokus saam met ander rolspelers tans op sirkulerende flodderbed (CFB)-tegnologie om steenkool skoner en doeltreffender te gebruik. Dit is volgens Mangena egter nog 'n nuwe en onbewese tegnologie wat plaaslike steenkoolgrade en plaaslike toestande betref.

Kragstasies met CFB-tegnologie is wel al in Pole en Suid-Korea gebou.

-francois.williams@24.com

CTA