Omgewingstudie begin vir SA se eerste aflandige windplaas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Aflandige windturbines aan die kus van Frankryk is deel van ’n windplaas wat deur die Spaanse groenkraggroep Iberdrola bedryf word. Foto: Reuters
Aflandige windturbines aan die kus van Frankryk is deel van ’n windplaas wat deur die Spaanse groenkraggroep Iberdrola bedryf word. Foto: Reuters

'n Omgewingsimpakproses het begin vir wat Suid-Afrika se eerste aflandige windplaas kan word.

Die omgewingskonsultante Acer Africa het die afgelope week begin met 'n proses om 'n omgewingsimpakstudie vir die Gagasi Offshore Wind Farm van 810 MW te doen.

Die windplaas word aan die KwaZulu-Natalse kus naby Richardsbaai beplan.

Dit sal sowat 5 km van die land af wees op die naaste punt noord, en sowat 17 km van die kus af aan die suidekant. Dit sal 'n gebied van 140 km² dek.

Die ontwikkelaars is Genesis Hexicon, 'n gesamentlike onderneming tussen Genesis Eco-Energy en 'n Europese maatskappy genaamd Hexicon. Genesis Eco-Energy was die oorspronklike ontwikkelaars van die Jeffreysbaai-windplaas in die Oos-Kaap, wat een van die eerste kommersiële windplase in die land was. Dit is ontwikkel saam met die Ierse groenkraggroep Mainstream Renewables.

Tot dusver het Suid-Afrika nog net windplase op land. In Europa is reeds 'n hele paar aflandige windplase waar windturbines ter see opgerig word, aangesien die wind daar meer waai as op land.

Acer Africa is aangestel as omgewingskonsultante om die omgewingsimpakstudie te doen, blyk uit dokumentasie van Acer.

Dit blyk die Gagasi-windplaas sal 'n drywende windplaas wees. Afhangend van die waterdiepte en seetoestande word aflandige windplase in Europa gewoonlik gebou deur elke windturbine sy eie fondament op die seebodem te gee.

Een van die groot uitdagings vir aflandige windplase in Suid-Afrika is die seetoestande.

Die voorgestelde windplaas sal drywende strukture bevat waarop die windturbines staan, substasies wat die elektriese stroom sal versamel en tot 'n geskikte spanning sal omskep vir transmissie, ondersese kabels asook drywende kabels wat die drywende windturbines aan mekaar sal verbind, en dan kabels om die elektrisiteit na die land te voer.

Volgens Acer is die mikpunt van die Gagasi-windplaas om deel te vorm van die regering se groenkragaankoopprogram. Aflandige windplase kan meer elektrisiteit per vierkante kilometer opwek vergeleke met ander vorms van hernubare energie, volgens Acer.

Die bou van die windplaas is ook tot voordeel van ekonomiese ontwikkeling aangesien dit bydra tot die ontwikkeling van voorsieningskettings vir aflandige windkrag as 'n nuwe ekonomiese sektor in die land, sê Acer.

Dit blyk Genesis Hexicon beplan om die windplaas in fases oor 'n tydperk van 10 jaar te bou. Dit neem langer om drywende platforms te bou as vaste fondamente, en daarom meen die groep dit moet in fases aangepak word om logistiek en plaaslike netwerkbeperkinge in ag te neem.

Die groep beplan al sedert 2022 aan die aflandige windplaas. Dit kan in totaal soveel as 54 windturbines behels. Aangesien windkragtegnologie vinnig verander, kan elke windturbine enigiets tussen 15 MW en 25 MW opwek teen die tyd dat die projek uiteindelik gebou is.

Die hoogste aflandige windturbine is 370 m hoog, van die grond af tot die hoogste punt van die turbine-lem as dit boontoe wys. Die huidige hoogste windturbines in Suid-Afrika is die Siemens-windturbines by die Khobab- en Loeriesfontein-windplase in die Noord-Kaap wat 152 m hoog in die lug toring.

Gagasi se windturbines sal dus meer as dubbel so hoog wees, en omtrent so hoog soos 'n gebou van byna 100 verdiepings. Dit sal hoër wees as die The Leonardo-gebou in Sandton wat 227,9 m hoog is, wat tans die hoogste gebou in die land is.

SPELETJIES VANDAG

CTA