Outa oor kragtariewe: Pak dit soos beurtkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Openbare verhore oor Eskom se kragtariefaansoek vind tans landwyd plaas.  Foto: Argief
Openbare verhore oor Eskom se kragtariefaansoek vind tans landwyd plaas. Foto: Argief

'n Soortgelyke nasionale poging wat gelei het tot meer as 240 dae sonder beurtkrag word nou vereis om aandag te gee aan energie-armoede, toegang tot energie, bekostigbaarheid en die prys daarvan wat besig is om buite beheer te styg.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Woensdag die aanbeveling gemaak in sy voorlegging teen Eskom se aansoek vir 'n rekordhoë styging in kragtariewe wat hy as "buitensporig" bestempel het.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het in Augustus Eskom se veeljarige kragtariefaansoek vir die volgende drie boekjare (MYPD6) ontvang en die publiek genooi om kommentaar daarop te lewer.

Landwye sittings deur Nersa oor Eskom se aansoek vir die styging in kragtariewe van 36,15% vir 2025, 11,81% vir 2026 en 9,1% vir 2027 vind die afgelope paar weke plaas. Dit kom neer op 'n verhoging van 66% oor die drie jaar.

Die kern van Outa se voorlegging is dat 'n styging van 66% in kragtariewe oor die volgende drie jaar buitensporig is en dat dit 'n negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie, kliënte en die samelewing sal hê.

Chris Yelland, kragkenner en Outa se kragadviseur, het Woensdag die voorlegging namens die organisasie by Nersa se verhore in Midrand gelewer. Outa het reeds 'n geskrewe voorlegging aan Nersa gelewer waarin hy beswaar maak.

"Outa is breedweg gekant teen Eskom se aansoek vir 'n inkomste en gemiddelde kragprysverhoging van 66% oor die volgende drie jaar. Dit kom ná 15 jaar van prysverhogings wat elke jaar beduidend bo die inflasiekoers was.

"Die Eskom MYPD6-aansoek toon 'n hooghartige minagting vir en 'n onvoldoende waardering van die negatiewe impak van die voorgestelde prysverhogings," lui die voorlegging.

Yelland het daarop gewys dat Eskom op die verhoging van sy inkomste fokus, maar min ernstige aandag daaraan gee om sy kostestruktuur, skuld en finansieringskoste te verlaag, verliese te verminder, sy finansiële en operasionele prestasie te verbeter, óf om sy niekernbates te verkoop.

Volgens hom stel Eskom nie duidelike teikens vir spesifieke kosteverminderings of om prestasie en doeltreffendheid te verbeter nie.

Aanbevelings wat deur Outa gemaak is, sluit in 'n onafhanklike hersiening van Eskom se personeel en vergoeding, en om teikens daar te stel om verliese te verminder en prestasie en doeltreffendheid te verbeter.

"Die president se noodplan om beurtkrag te beëindig en die totstandkoming van die nasionale energiekrisiskomitee (Necom) onder leiding van die minister van energie en elektrisiteit het gelei tot die prestasie van meer as 240 dae sonder beurtkrag, wat toon wat bereik kan word met toegewyde leierskap en fokus.

"Dit is Outa se mening dat 'n soortgelyke toegewyde nasionale poging en fokus nou vereis word om aandag te gee aan kwessies van energie-armoede, toegang tot energie, die bekostigbaarheid van energie en die prys van elektrisiteit wat buite beheer styg," het Yelland gesê.

SPELETJIES VANDAG

CTA