Energie

Ramokgopa optimisties dat beurtkrag ‘byna’ verby is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, saam met Thozama Gangi (links), hoofbestuurder van die Medupi-kragstasie, en Zandi Shange, hoofbestuurder: projekte vir die Kusile- en Medupi-kragstasie, gedurende sy toesigbesoek Dins
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, saam met Thozama Gangi (links), hoofbestuurder van die Medupi-kragstasie, en Zandi Shange, hoofbestuurder: projekte vir die Kusile- en Medupi-kragstasie, gedurende sy toesigbesoek Dins

Beurtkrag is nou byna iets van die verlede.

Dit is as dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, geglo moet word.

Meer as die helfte van Eskom se 14 steenkoolkragstasies spog tans met 'n energiebeskikbaarheidsfaktor van bo 71%, het Ramokgopa Dinsdag gesê gedurende 'n besoek aan die Medupi-kragstasie in Lephalale, Limpopo.

Hy het in 'n televisie-onderhoud met Newzroom Afrikagesê "ons kan byna raak aan die einde van beurtkrag".

'n Mediakonferensie sal binne die volgende week of twee byeengeroep word waar hy meer besonderhede sal gee oor vordering om beurtkrag te beëindig.

Dieselkragstasies moes inspring

Maar inligting op Eskom se dataportaal wys wel dat die "einde van beurtkrag" steeds teen 'n koste kom. Dit toon dat Eskom van begin Augustus weer swaarder moes steun op sy dieselkragstasies. Hy het oor die naweek die dieselkragstasies teen meer as 6,5% bedryf. Sondag en Maandag was dinge stil, maar sedert Dinsdag moes Eskom weer die dieselkragstasies teen meer as 6,6% laat werk.

In Julie het Eskom in totaal sowat dubbel die hoeveelheid elektrisiteit van sy eie én van onafhanklike dieselkragstasies as 'n jaar gelede gebruik, wat dui op die druk waaronder die kragnetwerk steeds is. Die geannualiseerde gebruikskoers van sy eie dieselkragstasies het wel van rondom 34% teen begin April tot 12% teen die begin van vandeesmaand afgekom, wys die dataportaal.

Wat Ramokgopa waarskynlik wel hoop gee, is dat Eskom se totale gemiddelde energiebeskikbaarheidsfaktor sedert Junie nog nie weer onder 60% was nie. Dit het stelselmatig geklim tot 'n hoogtepunt van 68,9% verlede week. Vandeesweek het dit egter weer teruggesak tot 63,1%.

Ladingvermindering

Hoewel Eskom laas in Mei beurtkrag moes toepas waar streke landwyd vir spesifieke tye sonder krag moet klaarkom, duur ladingsvermindering steeds voort. Dit is waar Eskom spesifieke kragleweringsgebiede se krag afskakel om die plaaslike netwerk teen oorlading en skade te beskerm. Dit moet gewoonlik gedoen word in gebiede waar daar talle onwettige kragverbindings is of waar mense hul kragmeters omseil het en krag steel, en waar toerusting by transformators en substasies gevandaliseer word. Die oorlading weens die ekstra krag wat getrek word, kan tot ontploffings van transformators lei, wat 'n gevaar is vir mense en ekstra koste van herstelwerk vir Eskom meebring.

Energiebeskikbaarheid verbeter

Ramokgopa het benewens Medupi ook die nabygeleë Matimba-kragstasie besoek. By Medupi is die energiebeskikbaarheidsfaktor tans 83%. Een van die agt kragstasies het selfs 'n faktor van meer as 91%, het Ramokgopa aan Newzroom Afrika gesê.

Hy het Medupi besoek ter viering van die vroeër as verwagte terugkeer tot diens van Eenheid 4 van Medupi wat omvattende herstelwerk moes ondergaan ná 'n ontploffing daar in 2021. Dit het 800 MW se kragopwekkingskapasiteit tot die netwerk bygevoeg. By Matimba het hy 'n vorderingsverslag gekry oor die projek om die kragstasie se beheer- en instrumentasiestelsels te verbeter. Dit is om die kragstasie se prestasie te verbeter sodat dit beter kan meeding met die res van Eskom se steenkoolkragstasies.

- francois.williams@24.com