BP Suid-Afrika (BPSA) en Shell Downstream SA (SDSA) het ná suksesvolle onderhandelinge 'n ooreenkoms bereik om die Sapref-raffinadery in Durban en sy oorblywende bates aan die Sentrale Energiefonds (SEF) te verkoop.
Die transaksie sluit SDSA en BPSA se belange in die Sapref-grond en ander verwante bates in, waaronder tenks, verwerkingseenhede, pyplyne van en na Sapref na die Island View-terminaal en die enkelboeimering vir die invoer van ruolie.
Shell het Saterdag in 'n verklaring gesê 48 permanente werknemers van Sapref wat by die raffinadery werk saam met 16 vakleerlinge sal ook na die SEF skuif.
Die verkoop sal onderhewig wees aan alle gepaste regulatoriese goedkeurings. Die partye het verkies om nie die kommersiële voorwaardes bekend te maak nie.

Aluwani Museisi, voorsitter van SDSA in Suid-Afrika, het gesê: "Sapref het 'n beduidende rol gespeel met betrekking tot plaaslike energiesekerheid en ekonomiese ontwikkeling danksy sy uiters toegewyde bestuurspan en personeel. Met die transaksie kan die SEF voortbou op Sapref se geskiedenis en vorentoe in plaaslike raffinering belê. SDSA sal voortgaan om plaaslike verskaffing aan kliënte te bestuur deur ons uitgebreide netwerk van terminale."
Sapref, wat in 1963 gestig is en langs die ooskus van Suid-Afrika geleë is, was die grootste ruolie-raffinadery in die land met 35% van Suid- Afrika se raffineringskapasiteit wat 24 000 ton ruolie per dag verwerk het.
Die raffinadery is erg geraak deur die vloede in Kwa-Zulu Natal in April 2022 wat daartoe gelei het dat dit sedertdien buite aksie was.
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het die aankondiging Saterdag verwelkom in 'n verklaring wat op X gedeel is.
Hy sê die aankoop van die bates sal die waarmerk vorm van die SEF se belegging en groeistrategie in die energiewaardeketting wat gerat is om 'n soliede fondasie te lê vir die uitdagings wat die sekerheid van Suid-Afrika se energietoekoms betref.
Die departement het met kommer kennis geneem van die agteruitgang van die plaaslike raffineringskapasiteit wat daartoe gelei het dat die land 'n netto invoerder van verwerkte petroleumprodukte geword het. "Dié nuwe en ontluikende tendens het nie net die land se ekonomiese stabiliteit en die sekuriteit van die verskaffing van petroleumprodukte bedreig nie, maar het ook die uitvoer van werke beteken wat so nodig is in die land," lui die verklaring.




















