Tien jaar agterstallig en 'n sukseskoers van net 5,86%.
Dit is die resultaat van die regering se veldtog om songeisers by arm huishoudings te installeer.
En eers 'n hele dekade nadat die aanvanklike teiken misgeloop is, sal daar dalk in Oktober tugstappe teen die amptenare van die departement van minerale bronne en energie gedoen word weens dié projek.
Jacob Mbele, direkteur-generaal van minerale bronne en energie, het Woensdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie gesê 'n forensiese ondersoek deur die ouditeursfirma KPMG is in opdrag van die nasionale tesourie oor die program gedoen.
KPMG het sekere amptenare geïdentifiseer wat moontlik die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies oortree het. Die verslag is aan die departement oorhandig, en teen volgende maand sal besluit word of tugstappe teen amptenare gedoen sal word, het Mbele gesê.
Slegs 58 611 songeisers is tot dusver in die program by 15 munisipaliteite in sewe provinsies geïnstalleer.
Die program is in 2009 al begin, en die teiken was om teen 2014 soveel as 1 miljoen songeisers te installeer. Die teiken is destyds selfs verhoog tot 5 miljoen songeisers teen 2030.
Maar verskeie probleme het opgeduik, soos die diefstal van komponente uit stoorkamers by munisipaliteite terwyl gewag is dat installeerders opgelei word en met die installasie begin. Die konstruksiemafia kry ook die skuld vir van die probleme deurdat hulle in sekere provinsies aangedring het op 'n 30%-fooi om deel van die projek te wees.
Elizabeth Marabwa, die huidige programbestuurder by die departement vir die songeiser-projek, sê aanvanklik het Eskom tussen 2005 en 2008 'n program vir hoëdruk-songeisers begin in 'n poging om die druk op die kragnetwerk te verlig.
Dit is omdat huishoudings sowat 16% van Eskom se kraglewering gebruik, en in spitstye neem dit tot 35% toe.
Maar Eskom se program is in 2014 gestaak, want Eskom het die songeisers ingevoer, terwyl die departement die program wou benut om plaaslike produksie aan te moedig en plaaslike werkgeleenthede te skep.
Uiteindelik is net 1 250 werkgeleenthede geskep.
Eers tussen 2015 en 2018 is die songeisers plaaslik vervaardig. Daar is 87 206 toestelle deur 12 maatskappye vervaardig.
Maar vertragings is ervaar weens ooreenkomste vir installering wat nooit onderteken is nie. Die stelsels moes gestoor word, maar die koste van stoorplek en rente het oor ses jaar opgebou.
Eers teen 2021 is met installasie begin, en die koste van stoorplek het tot R324,8 miljoen opgeloop, het Marabwa gesê.
Van die 87 206 songeisers wat uiteindelik vervaardig is, is 73 777 aan munisipaliteite gelewer. Daar is nog 13 429 toestelle waaraan die vervaardigers vasklou, want hulle kla dat die departement hulle vir nog stoorkoste moet vergoed.
Hofsake hieroor duur voort.
Volgens inligting van die departement is die hofsake teen Adzam, Keap Energy, Vivasol, wat voorheen as Crest Operations sake gedoen het, en Clean Heat.
Dit blyk sommige munisipaliteite, soos Kaapstad, wou nie eintlik deelneem aan die departement se projek nie, want hulle het volgens Marabwa geweier om stoorplek te bied vir die berg van die songeisers totdat dit geïnstalleer kon word.
Ander probleme was waterdrukprobleme en watertekorte in sommige gebiede, begunstigdes wie se huise asbesdakke gehad het, of wie se huise nie aan die jongste boustandaarde voldoen nie.
Daar was ook geskille onder munisipale raadslede oor wie op die lys moet wees om 'n songeiser te kry.
Daar was ook probleme met swak vakmanskap in die vervaardiging.
Volgens Marabwa word gemik om die oorblywende songeisers in die program teen einde vanjaar te installeer.
Daarna gaan die departement aan 'n nuwe model beplan om dit in die toekoms op 'n beter manier aan te pak. Belangstellende munisipaliteite gaan genooi word om aan te dui of hulle sou wou deelneem aan so 'n nuwe program.





















