Tariefplan: Eskom ‘wil nie sonkrag straf’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Eskom is regtig nie daarop uit om mense te straf wat alternatiewe kragbronne soos sonkrag gebruik nie.

Sy voorgestelde nuwe tariefplan is hoofsaaklik bedoel om tariewe regverdiger te struktureer en te ontbondel, het Onicah Rantwane, hoofadviseur vir elektrisiteitspryse van Eskom se distribusie-afdeling, Vrydag gesê.

Sy het in die nasionale energiereguleerder (Nersa) se openbare sitting oor Eskom se aansoek om wysigings aan sy kleinhandeltariefplan gesê die voorgestelde verdeling van tariewe vir netwerktoegang en energieverbruik sal van toepassing wees al het mense hul eie sonkrag.

Mense met sonkrag wat heeltemal van die Eskom-netwerk ontkoppel, sal glad nie die tariewe hoef te betaal nie.

Volgens Rantwane is die voorgestelde herstrukturering van die tariewe ook geensins bedoel om 'n groter inkomste vir Eskom in te vorder nie, maar om betalings regverdiger te verdeel en te verseker die regte heffings weerspieël die ware koste van dienslewering.

In die meeste gevalle sal verbruikers tussen 0% en 1% meer vir elektrisiteit betaal weens die veranderde tariefstrukture. In sommige gevalle sal verbruikers selfs minder vir krag betaal.

Nomfundo Maseti, Nersa-reguleerder en voorsitter van die sitting, het beklemtoon dié tariefplan het niks te doen met Eskom se aansoek om 'n tariefverhoging van 36% op 1 April nie. Eskom wil wel hê die veranderde tariefstruktuur moet saam met die tariefverhoging in April ingestel word.

Volgens Rantwane is die tariefstruktuur in 2012 laas aangepas en het dit uit pas geraak met die werklike koste. Eskom het in 2020 en weer in 2022 al om die veranderinge aansoek gedoen, maar net veranderinge aan sy Homeflex-tarief is in 2022 goedgekeur.

Sonkragmaatskappye kla oor Eskom se beoogde veranderinge aan kragversendingstariewe. Foto: Verskaf
Sonkragmaatskappye kla oor Eskom se beoogde veranderinge aan kragversendingstariewe. Foto: Verskaf (Keith Arkins)

Maar wat van kragdiewe?

Asad Gaffer van die eThekwini Ratepayers Protest Movement het egter gesê in Eskom se hele aansoek van 122 bladsye swyg hy oor al die onwettige kragverbindings oor die land heen wat 'n regstreekse impak op die koste van kraglewering het.

Teen Oktober verlede jaar was daar 4 297 informele nedersettings in die land waar meer as 2 miljoen mense woon van wie die meeste onwettig aan die kragnetwerk verbind is.

Dié mense het geeneen kragmeters nie, maar hul wonings het yskaste, stowe en ander kragtoestelle.

Gaffer het beklemtoon hy wil nie dié mense hul reg op menswaardigheid ontneem nie, maar as mense krag verbruik, moet hulle daarvoor betaal.

Hy meen Nersa, Eskom en die munisipaliteite het geen duidelike inligting oor die werklike kragverbruik van al dié informele nedersettings nie. In die gees van die Grondwet en die demokrasie behoort alle kragverbruikers gelyk behandel te word.

Hy het verwys ns munisipaliteite se uitgediende registers van arm huishoudings wat vir gratis krag kwalifiseer, terwyl betalende verbruikers bedreig word.

Eskom móét meer doen om onwettige kragverbindings aan te pak. Die tegnologie bestaan om basiese slimmeters by elke huishouding te installeer, maar tans is Eskom se werklike koste van diens onakkuraat, voer Gaffer aan.

Hy wil by Nersa en Eskom weet wanneer dit reggestel gaan word en wat die spertyd is om onwettige kragverbindings uit te roei.

Hy wou ook by Nersa weet hoe opgetree word teen munisipaliteite wat nie hul kragrekeninge by Eskom vereffen nie, want slegte skuld het ook 'n impak op sy koste om krag te lewer.

So lyk Eskom-kliënte

Eskom het landwyd 7 miljoen individuele kliënte. Residensiële kliënte vorm 97% hiervan, maar lewer minder as 10% van Eskom se totale inkomste. Munisipaliteite verteenwoordig 44% van Eskom se totale inkomste uit kragverkope en stedelike kommersiële en nywerheidskliënte verteenwoordig 38%.

Tariewe moet ontbondel word omdat Eskom in drie dele ontbondel word, en dit moet ook verander om voorsiening te maak vir 'n komplekse nuwe oop, mededingende kragmark.

Verder sal die verandering die 10 verskillende munisipale tariewe tot net drie vereenvoudig.

Van die veranderings wat voorgestel word, is om die verskil tussen spitstyd-tariewe in die winter en standaardtariewe te verlaag, want verbruikers het gekla die verskil is te groot. Die verhouding van spitstydtariewe en standaardtariewe sal van 1:8 tot 1:6 verklein word.

Die tydgebruikstariewe is volgens Rantwane in 2005 laas aangepas. Mense se kragverbruikpatrone het oor die afgelope twee tot drie dekades verander. Die oggendspitstyd is nie meer so hoog soos voorheen nie, terwyl die aandspitstyd oor naweke nou byna net so skerp is as in die week.

Mense gebruik byvoorbeeld deesdae meer krag Sondagaande as voorheen, en dit word vir die stelseloperateur 'n daaglikse uitdaging om die wisselende kragvraag te bestuur.

Die breë impak van die voorgestelde veranderings is volgens Rantwane dat die dele van die tarief vir energieverbruik styg, want dit was laer as wat dit behoort te wees, terwyl die dele van die tarief vir netwerkgebruik laer sal word omdat dit hoër was as wat dit moes gewees het. Die netto impak op Eskom se inkomste is min of meer onveranderd.

Negatiewe impak vir kragversending

Verteenwoordigers van onafhanklike kragprodusente is omgekrap oor die negatiewe impak van Eskom se voorgestelde veranderings aan kragversendingstariewe op groenkragprojekte.

Eskom wil 'n subsidie-krediet verwyder vir kliënte wat krag deur sy netwerk na derde partye versend. Volgens Eskom is dit om te sorg dat almal regverdig bydra tot subsidies.

Kragversendingsprojekte is volgens Jonathan Skeen van die Sola Group belangrik om die vrye kragverhandelingsmark te bevorder, kragpryse te verlaag en mededinging aan te moedig.

Skeen het in die sitting gesê die verandering aan versendingstariewe sal 30% tot 40% van die ekonomiese voordele van groot sonkragtransaksies wegvreet. Dit is 'n groot skok vir die mark en erodeer beleggersvertroue.

De Wet Taljaard van die sonkragvereniging Sapvia het gesê die verandering aan die spitstydure en aan die verhouding tussen spitstyd- en standaardtariewe kan 30% wegvreet van die huidige jaarlikse besparings van kliënte van kragversendingsprojekte.

Volgens Taljaard verswak dit die sakemodel van kragversendingsprojekte en stel dit die ekonomiese voordele vir landelike gemeenskappe in gevaar.

'n Mededingende private kragversendingsmark is 'n uitvoerbare en finansierbare alternatief vir Eskom en is 'n belangrike meganisme om die nuwe mededingende kragmark te bevorder. Beskikbare en bekostigbare groenkrag is belangrik vir plaaslike nywerhede om internasionaal mededingend te word.

-francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA