Die Transnet- Nasionale Haweowerheid (TNPA) het ’n ooreenkoms van 25 jaar met FFS Tank Terminals gesluit om die kapasiteit van brandstofopgaargeriewe in die Kaapse hawe uit te brei.
Die ooreenkoms behels ’n kapitaalbelegging van R550 miljoen en stel FFS Tank Terminals as operateur van die TNPA se brandstoftenkgeriewe in die hawe aan vir 25 jaar.
Volgens Andrew Canning, uitvoerende hoof van FFS, sluit die ooreenkoms ’n aanvanklike verkrygingsbedrag van R200 miljoen in, met ’n verdere R350 miljoen vir uitbreiding en opknappings.
Die fasiliteit se kapasiteit sal in die eerste fase teen 2028 van 32 miljoen liter tot 66 miljoen liter verhoog word.

Die hawe in Kaapstad is ’n belangrike spilpunt in die land se logistieke netwerk en hanteer meer as die helfte van Suid-Afrika se landbou-uitvoer.
Volgens die TNPA vorm die projek deel van Transnet se nuwe strategie, “Reinvent for Growth”, wat gemik is op volhoubare uitbreiding en verbeterde bedryfsprestasie.
Adv. Phyllis Difeto, waarnemende uitvoerende hoof van die TNPA, sê die ooreenkoms sluit elemente van infrastruktuurontwikkeling en werkgeleenthede in.
“Ons voorsien 10 regstreekse poste en 29 bykomende werkgeleenthede tydens die implementering van die projek,” sê sy.
Die ooreenkoms sluit ook prestasie-aanwysers (KPI’s) in, wat onder die TNPA se monitering sal val. Hierdie aanwysers fokus op gebiede soos veiligheid, produktiwiteit, volumedeurset en omgewingsbestuur.

Rajesh Dana, hawebestuurder, beskryf die projek as deel van ’n breër herstel- en doeltreffendheidsplan.
“Ons het reeds stabiliteit in bedrywighede begin sien ná beleggings in infrastruktuur en toerusting,” sê hy.
“Die fokus bly op volgehoue verbetering.”
Hy sê die Kaapse hawe is ná die ontwrigting van Covid-19 weer op ’n trajek van positiewe bedryfsontwikkeling. Met die afname in plaaslike brandstofraffinaderye en ’n toenemende afhanklikheid van ingevoerde brandstof word die uitbreiding van opgaarkapasiteit as ’n bydrae tot Suid-Afrika se brandstofsekerheid gesien.
Die TNPA beklemtoon dat die toekenning van die projek plaasgevind het ingevolge sy Port Development Framework Plans (PDFP’s), wat die ontwikkelingsprioriteite van elke hawegebied rig.
“Die proses is gegrond op goedgekeurde ontwikkelingsplanne en voldoen aan konsessieprosedures wat deursigtigheid en mededingendheid verseker,” sê Difeto.



















