Huisopknapping ook groot rede vir 2-pot-onttrekkings – Discovery

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tuinmaak is dalk ook deel van die uitgawes aan ’n huis waarvoor mense uit die tweepotstelsel geld onttrek. Foto: iStock
Tuinmaak is dalk ook deel van die uitgawes aan ’n huis waarvoor mense uit die tweepotstelsel geld onttrek. Foto: iStock

Een van die grootste redes dat aftreefondslede vandeesmaand kontant met die nuwe tweepotstelsel uit hul aftreefonds onttrek het, is soos verwag om korttermynskuld te delg.

Volgens die Discovery-groep se bedryfseenheid wat pensioen- en voorsorgfondse aan werkgewers verskaf, toon 'n peiling wat per WhatsApp uitgevoer is die grootste twee redes vir onttrekkings is vir uitgawes aan huise en motors.

Guy Chennells, bedryfshoof van Discovery Corporate and Employee Benefits, sê 24% van die deelnemers aan die peiling het huis- en voertuig-uitgawes as die rede vir hul onttrekking genoem.

Van begin September af het 'n nuwe aftreefondsbedeling in werking getree wat aftreefondslede se maandelikse bydraes van toe af in twee potte verdeel.

'n Gedeelte van aftreefondsgeld wat opgebou is tot 31 Augustus is in die nuwe spaarpot geplaas vir lede om te onttrek.

Volgens Chennells het 21% van die deelnemers aangedui hulle onttrek geld om korttermynskuld af te betaal.

"Ons het dit verrassend gevind dat 'n groot groep (20%) die geld wil gebruik vir opvoeding, moontlik om skoolgeld te betaal. Nog 11% het aangedui hulle gaan dit vir daaglikse uitgawes gebruik.

"Dit is ongelukkig alles 'n aanduiding van hoe groot die lewenskoste-krisis is wat baie mense ervaar."

Deelnemers wat die kategorie "ander" gekies het (17%), is gevra om aan te dui waarvoor dit is. Volgens hom het die meeste aangedui dit is vir huisverbeteringe.

"Dit is nie werklik 'n rede wat aanbeveel word vir 'n onttrekking nie, omdat dit nie regtig op 'n noodgeval neerkom nie.

"Maar dit is verstaanbaar omdat diegene wat hul lewe wil verbeter eenvoudig nie die geld het om dit op die oomblik uit hul inkomste te doen nie."

Chennells sê 180 keer die normale daaglikse eise is op die eerste dag van die tweepotstelsel ontvang. Kliënte kon deur die webwerf, app of WhatsApp aansoek doen vir 'n onttrekking.

Hy sê die stelsel het betalings vinnig verwerk, met 99% van die aansoekers wat binne vyf dae betaal is.

Driekwart van deelnemers het deur die webblad of app hul aansoeke ingedien. Meer laerinkomste-kliënte het van die WhatsApp-kanaal gebruik gemaak.

Van die aftreefondslede wat genoeg geld in hul spaarpot gehad het om dit te onttrek, het net 22% gekies om dit in September te onttrek. Volgens hom is dit minder as wat hulle verwag het.

Van diegene wat kon onttrek, het die meeste onttrekkings gekom van lede van 35 tot 45 jaar oud.

Chennells meen dit hou met die "toebroodjie-generasie" verband - mense met jong kinders en/of hul ouers om te ondersteun.

Op grond van inkomste het 'n groter persentasie van die laerinkomstegroep wat kon onttrek, aansoeke ingedien (38%). Net 'n derde van dié groep het genoeg geld gehad om te onttrek.

"Omdat dit die groep is waarvan die grootste persentasie verkies het om te onttrek, kan daar verwag word dat die onttrekkings gaan toeneem teen die einde van die jaar wanneer die spaarpot opgebou het met bydraes en beleggingsopbrengste."

Diegene wat minder as R2 000 in hul spaarpot het, kan nie onttrek nie.

"Daar kan dalk 'n toename in onttrekkings in November vir Swart Vrydag wees en moontlik vir Kersfees en vroeg volgende jaar wanneer die skole begin."

Van die eisers het 'n oponthoud ervaar weens klein foute met hul persoonlike besonderhede, soos byvoorbeeld 'n William wie sê naam Willliam gespel is, en wat veroorsaak het dat die verifikasiestelsel van die departement van binnelandse sake die aansoek verwerp het.

"Verskille in die besonderhede op ons stelsel en dié van die werkgewer of van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ook probleme veroorsaak," sê Chennells.

"Maar die lesse wat geleer is, help ons om nuwe maatreëls in te bou om hierdie voorvalle in die toekoms te voorkom."

SPELETJIES VANDAG

CTA