Staatsamptenare moenie paniekerig raak en bedank omdat hulle vrees hul pensioenfonds (GEPF) gaan geplunder word om die gat in die staat se begroting toe te stop nie.
Verskeie vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, het nou al verseker hulle sal enige so 'n voorstel heftig bestry te midde van vrees daaroor wat uitkring.
Die vakverbond Cosatu het onlangs voorgestel dat die regering sy werkgewersbydrae tot die GEPF vir 'n jaar opskort. Die voorstel is nog nooit deur die tesourie geopper nie en was ook nie deel van die begroting wat op 19 Februarie ingedien sou word nie.
Die GEPF self het nog nie daarop gereageer nie.
Die begroting is onttrek nadat partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) beswaar gemaak het teen die voorstel dat BTW met twee persentasiepunte verhoog word, waardeur die regering R58 miljard meer belasting wil invorder.
‘Beskerm regte'
Saptu, 'n vakbond wat onder meer universiteitswerkers verteenwoordig, sê die beskerming van openbare werknemers se pensioenregte is 'n topprioriteit en Saptu sal saam met ander vakbonde werk om dié regte te beskerm.
"Die swaar verdiende aftreespaargeld van staatsamptenare moet veilig en onaangeraak bly. Ons doen 'n beroep op alle relevante rolspelers om die finansiële sekerheid van staatsamptenare te beskerm wat hul loopbaan aan diens aan die nasie gewy het," sê adv. Ben van der Walt, die vakbond se hoofsekretaris, in 'n verklaring.
Solidariteit het reeds gewaarsku hy sal hof toe gaan as die regering GEPF-bydraes terughou.
"Aftreegeld behoort slegs aan pensioentrekkers en die werkers wat bydraes aan die GEPF vir hul aftrede lewer. Die GEPF behoort nie aan die ANC of Cosatu of enigiemand anders nie. Die GEPF mag geld net in die belang van sy lede aanwend," sê Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir strategie.
Stres en uitdagings
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) verwerp ook die "bydraeverlof".
"Lede van die SAOU het gekies om aan die regering 'n diens te lewer vir die tydperk van hul werkslewe. Hulle was bereid om vir salarisse te werk wat minder was as wat deur die private sektor betaal sou kon word. Hulle het hulself aan stres en uitdagings blootgestel wat 'n invloed op hul eie fisieke en sielkundige welstand gehad het," sê Paul Sauer, uitvoerende hoof van die SAOU, luidens 'n verklaring.
"Daarmee saam het hierdie lede getrou bydraes aan die GEPF gemaak. Dié bydraes sou 'n veilige aftrede verseker."
Sauer sê dis 'n "belediging" dat afgetrede lede se verhoging vanjaar net 2,9% is omdat dit laer as die huidige inflasiekoers is. Inflasie was in Januarie 3,2% en die 2024-gemiddeld 4,4%.
Dit sal nog 'n belediging wees as die regering nie die pensioenfondsgeld oorbetaal nie.
"Die SAOU begryp dat die RNE tans deur kritieke finansiële besluite in die gesig gestaar word, maar dié besluite kan nie staatsdienswerkers se salarisse en voordele benadeel nie. Voorstelle behoort op die verhoging van basislynuitgawes te fokus en om doelwitte wat nie tans haalbaar is nie tot 'n latere stadium uit te stel," sê hy.
"Die SAOU moedig pensioenarisse en werknemers aan wat tot die Staatsdienspensioenfonds bydra om nie tans emosionele of oningeligte besluite te neem totdat meer inligting beskikbaar is nie."
‘Geen nadeel'
Die staat se werkgewersbydrae tot die GEPF het in die vorige boekjaar sowat R53 miljard beloop, baie na aan die R58 miljard wat die tesourie deur hoër BTW wou invorder. Cosatu meen die terughouding van dié bydrae vir 'n jaar sal lede nie benadeel nie omdat dit 'n vastevoordeelfonds is, dus is pensioene gewaarborg ongeag hoeveel geld in die GEPF is of wat sy beleggingsopbrengs is.
Daar is egter vrae oor die moontlike uitwerking wat dit op die langtermynvolhoubaarheid van die GEPF kan hê.
- hanlie.stadler@24.com

















