Ek wil graag vandag kyk na hoe inkomstebelasting in ander lande werk en waarom dit vir ons belangrik is om te weet.
Dis sommer 'n paar los gedagtes soos lesers hul werk- en belastingondervindings binne en buite Suid Afrika met my deel.

Dit is my ondervinding dat mense wat in die buiteland gaan werk, nie so gepla is oor die belasting wat hulle in daardie land gaan betaal nie. Ek dink daar is 'n persepsie dat die belasting in daardie land beter aangewend word, soos vir veiliger en meer beskikbare openbare vervoer en goedkoper gesondheidsdienste.
Die meeste van die lesers sal weet dat Suid Afrika se maksimum belastingkoers vir individue tans 45% is, maar dit beteken nie dat mense in hierdie kategorie op elke R1 verdien 'n volle 45% aan die regering afstaan nie. Ons land werk op belastingskale en soos jou inkomste groei, só groei die belasting.
Jy word 45% belas op jou belasbare inkomste van meer as R1 817 000 per jaar.
Gestel jy is jonger as 65 jaar en jy verdien R1 800 000 per jaar (R150 000 per maand) voor belasting.
As jy geen pensioen- of mediese eise het nie, beloop die belasting ongeveer R51 690 per maand (net-net onder 35%).
Daar is ander lande wat hoër inkomstebelastingkoerse het, soos Japan, Oostenryk en Denemarke (56%), en lande soos Swede, België en Israel is naby 50%.
Baie lesers vra my of Suid-Afrika se belasting dan regtig so baie is, gemeet teenoor ander lande.
'n Mens kan dit nie regtig met Suid Afrika vergelyk nie. Jy moet eerder kyk na wat jy daar kan verdien en wat jou leefkoste gaan wees met jou geld ná belasting.
Jy kan byvoorbeeld 'n professionele persoon in Suid-Afrika wees en 'n goeie pos kry, byvoorbeeld as 'n senior rekenmeester, in Ierland. As jou gade nie werk nie en jy leef eenvoudig, behoort jy goed op een salaris te kan leef. Om waarde te put uit die ondervinding in die buiteland (soos om te reis en geld te spaar vir wanneer jy terugkom Suid-Afrika toe), maak dit egter sin dat albei werk.
Daar is ook 'n wanpersepsie in ons land dat mense 'n probleem het om belasting te betaal. Dit is nie só nie.
Die meeste van my kliënte wil net sien dat dit 'n regverdige koers is en dat dit 'n regverdige belastingstelsel is.
Ook dat daar beter rentmeesterskap is ten opsigte van waar die belastinggeld bestee word, en dat korrupsie meer aggressief en openlik gestop en bestraf word.
Dit wil vir my voorkom dat lande wat een vaste belastingkoers vir almal het (byvoorbeeld 15% of 20%) meen dit werk vir hulle. Dit is regverdig teenoor elke landsburger wat geld verdien en jy kan beter beplan met jou inkomste.
Ek sien egter niks fout daarmee om die armer gemeenskap, jong mense wat begin werk en ouer mense te bevoordeel deur 'n basiese bedrag wat lewenskostes dek, vry te stel van belasting nie (soos wat Suid Afrika tans doen met 'n belastingdrempel en kortings).
Hou jou kant skoon
In Suid-Afrika dink ek daar is nog baie mense wat geld verdien bo die belastingperk, maar nie as belastingbetalers geregistreer is nie.
As jy een van daardie mense is, maak maar gou 'n plan. As jy 'n sake-eienaar is wat onder die belastingperk verdien, moet jy ook registreer.
Met kunsmatige intelligensie raak die Suid Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se stelsels by die dag beter.
Daar is ook mense wat 'n jaar of twee nie werk nie en dan nie opgawes indien nie. Gaan voort om jou opgawes in te dien, al was jy werkloos of sonder inkomste, sodat daar nie later 'n opgawe uitstaande wys nie. Dit maak dit net moeiliker om te bewys jy het nié inkomste verdien nie.
Twee belastingopgawes
As jy in die buiteland werk, maak mooi seker hoe jou belastingopgawes in Suid-Afrika én in daardie land ingedien moet word.
Die doel van die dubbelbelastingooreenkomste tussen Suid-Afrika en ander lande is tweeledig.
Eerstens beskerm dit jou as individu dat jy nie dubbeld belas word op dieselfde inkomste nie.
Tweedens beskerm dit minstens een van die lande om belasting van jou te kan invorder.
As jy ingevolge 'n belastingooreenkoms geag word 'n inwoner van 'n ander land te wees wat 'n laer belastingkoers het as Suid-Afrika, moet jy dit aan die SAID kan bewys deur middel van briewe van jou werkgewer, 'n ooreenkoms tussen jou en jou werkgewer, salarisstrokies, bewyse van jou adres en leefstyl, waar jou gesinslede woon (saam met jou of in Suid-Afrika) en hoe gereeld jy reis tussen Suid-Afrika en ander lande (en vir watter rede).
SAID-amptenare is geregtig om vir dié inligting te vra as hulle dit nodig ag.
BTW-vrae
'n Paar lesers het ook gevra waarom Suid-Afrika se koers vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) amper verhoog het met die laaste begroting, wat nou afgehandel is. Ons BTW-koers (15% sedert April 2018) is eintlik laag gemeet teenoor die meeste ander lande.
Mexiko se BTW-koers is 16% en lande soos die Verenigde Koninkryk, Turkye en Rusland se BTW-koers is 20%.
'n Paar lande hef selfs meer as dit, soos Swede (25%).
Die VSA het nie BTW nie. Elke staat bepaal daar watter verkoopsbelasting betaalbaar is.
Daar is min lande wat 'n laer BTW-koers het as Suid-Afrika en as ons die res van die wêreld begin volg wat belastingskale betref, kan dit besighede negatief beïnvloed as hulle te lank wag om vir BTW te registreer.
Begin ten minste voorberei daarvoor met jou pryse oor die volgende jaar of twee en sit geld weg asof jy vir BTW geregistreer is.
Die jaarlikse BTW-limiet van R1 000 000 se omset is nou al amper 16 jaar onveranderd en baie besighede sal uiteindelik met normale jaarlikse prysverhogings verby dié bedrag groei en dan in elk geval moet registreer.
Met die onlangse begroting het ons gesien dat skuldbetalings en geld aan onderwys, gesondheid, gemeenskapsontwikkeling en welsyn saam 75% opmaak van waarheen ons land se belastingbetalings gaan.
Nasionale begroting
Wat sleg is om te sien, is dat werkskepping net-net onder 1% ontvang; infrastruktuur, innovasie, ekonomiese regulering en tegnologie saam net-net onder 8% en die landbou maar 'n skamele 1,14%.
Ons land (en die SAID se doelwitte) is om by te dra tot die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die land en sy mense.
Dis goed om mense te help wat sukkel, maar help eerder mense om te "wil" werk (en nie net "moet" nie).
Ons land se werkers word nie volgens internasionale standaarde beskou as werkers met hoë produktiwiteit nie. En tog word Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, beskou as van die beste werkers wat daar is.
Dankie tog dat ek in 'n huis grootgeword het waar my pa leergierigheid en werketiek by my ingedril het.
Op agtjarige ouderdom kon ek sy werktelefoon professioneel antwoord en boodskappe in detail neerskryf. Sondae moes ons net Engels praat en in die week by die ontbyttafel het ons elke dag vyf nuwe Engelse woorde geleer. Dit was groot pret.
Mag ons almal nooit te oud word om nog elke dag iets nuuts te leer nie. Moedig ook ander aan om te leer deur jou voorbeeld.
Wys jou dankbaarheid om te kan werk, betaal die keiser wat hom toekom, en behou jou vrede. Wat hy daarmee doen, gaan hy eendag moet verduidelik.
• Charné van der Walt (The Lemon Lady) is 'n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in die Wes-Kaap. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke of vir besonderhede van slypskole wat sy aanbied in die Stellenbosch- en Helderberg-gebied. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie.















