Belastingopgawe: Laatslaap gaan jou geld kos

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Belastingbetalers kan van 7 Julie af outomatiese assesserings begin verwag. Dié wat opgawes moet indien, kan dit van 21 Julie af doen. Foto: Pixabay
Belastingbetalers kan van 7 Julie af outomatiese assesserings begin verwag. Dié wat opgawes moet indien, kan dit van 21 Julie af doen. Foto: Pixabay

As dit by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kom, sal volstruistaktiek jou duur te staan kom.

Die SAID het 'n enorme belastingteiken - R1 986 miljard - vir die 2026-belastingjaar om na te jaag. Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het reeds gesê dit gaan 'n uitdaging wees.

Dus, as jy jou belastingopgawe laat indien, kan jy vir seker wees die diens gaan nie "laat" wees om jou te beboet nie - selfs al word jy 'n terugbetaling geskuld.

Na gelang van jou belasbare inkomste kan jy met R250 tot R16 000 per maand - ja, inderdaad! - beboet word indien jy jou belastingopgawe laat indien.

Die SAID kan ook regstappe teen jou doen. Jou kredietgeskiedenis kan in gedrang kom. Jy kan toegang tot noodsaaklike dienste - soos huislenings en klaring vir emigrasie - geweier word, waarsku Johan Werth, finansiële adviseur van Consult by Momentum.

Hy sê dis 'n misdaad om nie jou belastingopgawe in te dien nie as dit wetlik van jou vereis word. Selfs indien jy voorheen minder verdien het as die drempelbedrag, is dit 'n goeie plan om op eFiling of deur 'n belastingpraktisyn seker te maak daar is geen probleme nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Jaco Marais
Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Jaco Marais

As dit by belastingseisoen kom, is daar drie soorte mense, meen Werth: Die proaktiewe soort weet wat om te doen en doen dit gou; die uitsteller weet wat om te doen, maar stel dit tot die nippertjie uit; en die paniekerige soort weet nie regtig wat om te doen nie en hoop as hulle dit ignoreer, gaan dit dalk weg.

As jy 'n uitsteller of paniekerig is, is 'n gevaarlike aanname dat jy outomaties aangeslaan gaan word en dus niks hoef te doen nie, veral as jy minder as R500 000 per jaar verdien, sê hy. R500 000 (oftewel sowat R42 000 per maand) is vir salaristrekkers die drempel waaronder hulle nie 'n opgawe hoef in te dien nie, maar die prentjie verander vir enigeen wat 'n mediese of ander eis wil indien of wat ook inkomste uit 'n ander bron, soos uit die verhuring van eiendom, verdien.

Stel vas of jy 'n belastingopgawe moet indien deur te kyk of die SAID met jou gekommunikeer het of deur op die SAID se webwerf te gaan aanmeld. Jy kan ook 'n belastingpraktisyn vra om te bepaal of jy 'n opgawe moet indien.

Belangrike datums

Vanjaar se belastingseisoen het reeds begin vir die belastingjaar wat 1 Maart 2024 tot 28 Februarie 2025 geduur het. Die volgende is belangrike datums:

• 7-20 Julie: Outomatiese assesserings word gedoen vir mense wie se belastingsake nie ingewikkeld is nie. Die SAID beskou dit onder meer as mense wat nie inkomste benewens hul salaris en klein bedrae uit beleggings verdien nie. Daar is selfs van vanjaar af voorlopige belastingbetalers wat outomaties aangeslaan gaan word. Baie mense het reeds terugbetalings of kennisgewings van verskuldigde bedrae ontvang.

• 21 Julie-20 Oktober: Gewone belastingbetalers wat nie outomaties aangeslaan word nie, of mense wat nie met die outomatiese assessering saamstem nie, kan hul belastingopgawes elektronies indien.

• 21 Julie-19 Januarie 2026: Voorlopige belastingbetalers kan hul belastingopgawes indien. Voorlopige belastingbetalers is mense wie se inkomste nie deur die lopendebetaalstelsel belas word nie. Dit sluit in vryskutwerkers, eienaars van ondernemings, mense wat huurinkomste het en mense wie se inkomste net uit beleggings kom.

Klik hier vir meer inligting oor outomatiese assessering.

Oppas vir skelms

Die SAID pleit by belastingbetalers om baie versigtig te wees en hul persoonlike inligting te beskerm.

"In aanloop tot die belastingseisoen sal daar baie pogings van swendelaars wees om belastingbetalers te bedrieg. Hulle kan hulself voordoen as SAID-amptenare, mense aanmoedig om op skakels te klik of eis dat geld in 'n rekening inbetaal word," luidens 'n verklaring van die SAID.

Die SAID sê hy sal nooit vra dat mense op 'n skakel klik nie.

Vind hier meer inligting oor lopende skelmstreke ter voorbeeld van wat gedoen word.

As jy wonder of jy uitgevis word, kan jy 'n e-pos stuur na phishing@sars.gov.za.

Algemene foute

Werth identifiseer vyf foute wat belastingbetalers gereeld maak.

1. Jy loop die sperdatum mis

Laat indiening (of geen indiening) van belastingopgawes kan tot boetes en rente daarop lei. Teken die datum aan en dien jou opgawe eerder vroeg in, selfs as jy outomaties aangeslaan word.

2. Jy dien foutiewe of onvolledige inligting in

Besonderhede wat oud is, belastingsertifikate wat weggelaat word en foute met kodes kan die verwerking van jou opgawe vertraag. Maak dubbeld seker van jou feite en gebruik die riglyne in eFiling.

3. Jy ignoreer jou outomatiese assessering

Moenie net blindweg jou outomatiese assessering aanvaar nie. Hersien die assessering vir inkomste en aftrekkings wat dalk nie ingesluit is nie (soos UA's en jou mediese fonds) en dien self 'n opgawe in indien nodig.

4. Jy eis nie toelaatbare aftrekkings nie

Jy kan jou belasting verminder deur te eis vir mediese uitgawes wat jy uit jou eie sak moes betaal, bydraes tot aftreefondse wat nie deur jou salaris gaan nie, reisuitgawes en tuiskantooruitgawes, mits jy aan alle voorwaardes daarvoor voldoen en indien jy stawende bewyse het.

5. Jy hou nie boek van jou dokumente nie

As jy nie fakture, logboeke en belastingsertifikate behoorlik bewaar nie, kan jy in die sop beland as jy ooit geoudit word. Berg alle dokumente minstens vyf jaar lank elektronies.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

CTA