Prosus is die internasionale internetbate-afdeling van Naspers. Die wêreldwye beleggingsgroep is die grootste verbruikersinternetmaatskappy in Europa.
Die Williamspersentasiereeks-aanwyser bevestig die oorgekoopte situasie van die aandeel, maar slegs wanneer die -50-lyn in 'n weerstand verander, kan ons aanvaar dat die momentum na onder kan versnel.

'n Haarnaaldbooghoogte (waarskuwing) is sigbaar.
Die volgende teken van swakheid sal onder lyn A (R1 234,14) sigbaar wees.
Die 26- (rooi lyn) en nege- (groen lyn) dae- bewegende gemiddelde is steeds opwaarts, wat beteken die momentum is steeds na bo vir beleggers op medium termyn.
'n Venster wag tussen R1 056,64 en R1 085,01, wat kan dien as 'n moontlike teiken na onder.
- Spekulante: Verkoop of oorweeg 'n kortposisie onder lyn A (R1 234,14) maar gebruik R1 342,79 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Die moontlike teikens na onder is: R1 197,56; R1 167,52; R1 146,43; R1 125,33; R1 099,23; R1 085,01; en R1 056,64.
- Medium- tot langtermynbeleggers: Die mediumtermynsentiment teenoor die aandeel sal slegs verander na negatief wanneer die korter nege-dae- bewegende gemiddelde afbreek deur die langer 26-dae- bewegende gemiddelde.
- Frans en Christelle de Klerk is onafhanklike tegniese ontleders. Christelle is ook 'n geregistreerde makelaar. Kontak hulle by www.fransdeklerk.com of www.chris-tell.com. Twitternaam: TraderFrans




















