Tegnuus

Prosus kort nog net 1,8% van Just Eat se aandele

’n Bemarkingsfoto van Delivery Hero, ’n Duitsland-gebaseerde kosafleweringsdiens waarin Prosus ’n belang van 28% besit. Prosus neem nou ook die kosafleweringsdiens Just Eat oor vir meer as €4 miljard.
’n Bemarkingsfoto van Delivery Hero, ’n Duitsland-gebaseerde kosafleweringsdiens waarin Prosus ’n belang van 28% besit. Prosus neem nou ook die kosafleweringsdiens Just Eat oor vir meer as €4 miljard. (Foto: Delivery Hero)

Sedert begin Oktober toe Prosus al 90,13% van die aandele van die kosafleweraar Just Eat bekom het, is nog 8,06% van die aandele aangebied in sy oorname-aanbod.

Prosus, die internasionale e-handelfiliaal van die internet- en mediareus Naspers, het Vrydagoggend dié aankondiging gemaak.

Dit beteken 98,19% van die Europese kosafleweringsreus Just Eat se aandele is nou al aangebied aan Prosus vir een van die grootste verkrygings wat hy die afgelope dekade aangepak het.

Die waarde van die 98,19% se aandele is net meer as €4 miljard of sowat R81,6 miljard teen die heersende wisselkoers.

Die ná-sluiting-aanvaardingsperiode vir Just Eat-aandeelhouers om nog Prosus se aanbod te aanvaar, het op 16 Oktober verstryk. Dié aandele sal teen 21 Oktober gekoop word.

Die oorblywende 1,81% van die aandele wat nog nie aangebied is nie, gaan nou ingevolge ’n statutêre proses oorgeneem word.

Die laaste verhandelingsdatum vir aandele in Just Eat op die Euronext-beurs in Amsterdam is 14 November, en Just Eat sal op 17 November van dié beurs gedenoteer word.

Just Eat se hoofkantoor is in Amsterdam en hy bied die aflewerings van 362 000 verskillende restaurante en kleinhandel-kosplekke se produkte. Just Eat doen sake in Europa, Kanada, Israel, Brittanje en Australië.

Prosus is reeds gevestig in aanlyn kosaflewering, met die Latyns-Amerikaanse kosafleweraar iFood in sy portefeulje. Prosus besit ook ’n 28%-belang in Delivery Hero, ’n 4%-belang in Meituan, ’n Chinese kosafleweraar en die grootste een in die wêreld, asook ’n 25%-belang in Swiggy, wat die grootste kos- en kruideniersware-afleweraar in Indië is.

• Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.

– francois.williams@24.com

CTA