Beroepe

Verdien jy ’n gemiddelde salaris?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die nuwe koronavirus maak markte onstuimig - en die rand ly daaronder. Foto: Elvira Wood
Die nuwe koronavirus maak markte onstuimig - en die rand ly daaronder. Foto: Elvira Wood

As jy meer as R28 220 per maand vóór aftrekkings verdien, verdien jy 'n bogemiddelde salaris.

Dit was in Augustus 2024 die gemiddelde salaris in die formele sektor in Suid-Afrika, ingesluit bonusse en oortydbetaling, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling.

Die gemiddelde salaris was 6,6% hoër as 'n jaar gelede. Dit beteken vergoeding het inflasie gerieflik geklop, gegewe dat inflasie in Augustus 4,4% beloop het.

Die peiling toon die formele sektor het in die derde kwartaal nagenoeg R966 miljard aan salarisse betaal, wat 2,6% meer is as 'n jaar gelede. Die feit dat salarisse vinniger gestyg het as maatskappye se totale salarisrekening kan daaraan toegeskryf word dat minder mense in die formele sektor gewerk het.

Die formele sektor het in die derde kwartaal nagenoeg 10,6 miljoen mense in diens gehad, wat 294 000 minder was as 'n jaar gelede. Byna die helfte van die poste wat verlore gegaan het, 133 000, was net van die tweede tot derde kwartaal.

Die meeste poste wat verlore gegaan het, was tydelike poste in die sektor gemeenskapsdienste. Dit sluit staatsinstellings in en, soos al uitgewys is, kan dit grootliks toegeskryf word aan die tydelike werk wat in die tweede kwartaal vir die Mei-verkiesing geskep is.

Die bedrag wat maatskappye aan basiese salarisse en lone uitbetaal het, het met 3,4% tot R878 miljard gestyg. Die grootste styging in bruto basiese salarisse was in nutsdienste (krag, gas en water), waar maatskappye 8,3% meer uitbetaal het, gevolg deur vervoer en kommunikasie (5,7%).

Net in konstruksie het die totale vergoeding gedaal, met 0,1%.

Bonusbetalings het met 6,9% tot R60,8 miljard geval. Dit dui bes moontlik daarop dat ondernemings nog sukkel om hul winsteikens te haal waarop baie mense se bonusse gegrond word.

Oortydbetaling was wel 2,3% hoër op R2,3 miljard.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

CTA