Beroepe

Verdien jy ’n gemiddelde salaris?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die deursneewerknemer in die formele sektor het in Februarie R28 289 voor aftrekkings verdien.

Dié syfer sluit die salaris, enige bonus en oortyd in.

Dit is 5,6% meer as 'n jaar gelede, wat Februarie se inflasiekoers van 3,2% gemaklik geklop het. (Inflasie het teen Mei tot 2,8% verlangsaam.)

Nie almal het egter dié gemiddelde styging in vergoeding gekry nie.

Die gemiddelde vergoeding in finansiële dienste het met net 2,5% toegeneem, terwyl die deursneewerknemer in gemeenskaps- en persoonlike dienste 10,5% meer verdien het. Gemeenskapsdienste sluit die staatsdiens in.

Die bruto vergoeding wat aan werknemers in die formele sektor betaal is, het met net 2,7% tot R983 miljard toegeneem vergeleke met 'n jaar gelede. Dat dit met minder as die gemiddelde salaris gestyg het, weerspieël dat 95 000 minder mense in die formele sektor gewerk het.

Die bedrag wat maatskappye aan basiese salarisse en lone uitbetaal het, het met 3,9% tot R881 miljard gestyg. Die grootste styging in bruto basiese salarisse was in nutsdienste (krag, gas en water), waar maatskappye 7,6% meer uitbetaal het, gevolg deur konstruksie (6,1%).

Bonusbetalings het met 6,9% tot R76 miljard gedaal.

Oortydbetaling het met 4,7% tot R26 miljard verminder.

Die formele sektor het in die eerste kwartaal nagenoeg 10,58 miljoen mense in diens gehad, teenoor 10,65 miljoen einde 2024.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.