Die vierdagweek gaan kantoorverhoudinge knou, waarsku die internasionale werwingsfirma Robert Walters.
Dié waarskuwing kom terwyl baie ondernemings mense meer gereeld op kantoor probeer kry ná die Covid-19-pandemie juis omdat hulle voel samehorigheid het deur die hibriede werkomgewing skade gely.
Robert Walters het 2 000 beroepslui gevra wat hulle bereid sal wees om prys te gee as hulle al hul werk in vier dae kan baasraak. Kuier saam met kollegas was boaan die lys, asook gratis eetgoed, selfs ontbyt of middagete.
'n Toetsprojek van ses maande vir die vierdagweek word sedert Februarie in Suid-Afrika gedoen, en 'n tweede toetsprojek begin in Junie. Dit word gedoen onder die vaandel van die organisasie 4 Day Week South Africa, wat deel is van 'n wêreldwye beweging wat reken dit kan die golf van uitbranding onder werknemers stuit.
4 Day Week staan voor dat mense 32 pleks van 40 uur per week werk, met baie buigsaamheid oor hoe dié beginsel toegepas word, van korter ure tot letterlik een dag per week af. Die idee is dat dieselfde hoeveelheid werk teen dieselfde vergoeding gedoen word, maar dat dinge soos vergaderings uitgesny word of produktiwiteit verbeter word ten einde die werkweek te verkort.
Vir Robert Walters is die probleem dat byna die helfte van beroepslui (46%) bereid sal wees om sosialisering met kollegas prys te gee as hulle vier dae per week kan werk.
Jasmine Araujo, senior bestuurder vir Robert Walters Suid-Afrika, sê 'n vierdagweek kan daarom 'n baie negatiewe uitwerking op "werkplekkultuur en sakeverhoudinge" hê.
Omdat die vierdagweek nog net by 'n paar ondernemings getoets word - die meeste van hulle kleiner ondernemings - is dit voortydig om gevolgtrekkings te maak oor die langtermynimpak daarvan, maar Araujo sê enige ingrypende verandering in die werkplek moet omsigtig benader word.
Interessant genoeg is 27% van beroepslui bereid om elke dag op kantoor te wees as dit beteken hulle hoef net vier dae te werk. Dit beteken wel 73% is nié bereid om hibriede werk prys te gee nie - hulle sal eerder vyf dae per week werk.
16% sal opleidingsgeleenthede prysgee as hulle minder dae kan werk.
Die vierdagweek is nou boaan die lys faktore wat beroepslui sterk na 'n werk sal aantrek, met 44% van mense wat dit eerste stel. Dit word gevolg deur 38% wat die reg om op enige plek te werk eerste stel. Saam is dié twee faktore dus vir 82% van beroepslui eerste op die lys.
Net 16% van beroepslui sê hulle sal hul salaris met 10% tot 15% laat besnoei as dit 'n vierdagweek beteken.
"Uiteraard moet werkplekke meer verantwoordbaar gehou word vir die welstand van hul werknemers, maar beroepslui moet in ag neem dat verantwoordelikheid in twee rigtings gaan, en hulle het 'n plig om tot die sukses van 'n onderneming by te dra, veral in dié huidige tydperk van ekonomiese onsekerheid," sê Araujo.
Die uitslag van 'n studie oor die vierdagweek in Brittanje is onlangs uitgereik en dit besing die sukses van die eksperiment.
Robert Walls reken egter die negatiewe kant van die studie moet óók uitgelig word.
Dit sluit in:
• Mense se werkweek het gemiddeld met nét vier uur verminder, nie met die agt uur waarop gehoop is nie. 28% van mense het méér ure per week gewerk as voorheen óf het dieselfde aantal ure gewerk.
• 17% het méér oortyd gewerk, en 49% het dieselfde hoeveelheid oortyd gewerk.
• 22% het 'n toename in die simptome van uitbranding beleef. Dit beteken wel 71% se simptome van uitbranding het verminder en sowat 7% se simptome is onveranderd.
• 15% het swakker geslaap, en nog 45% sê hul slaappatrone het nie juis verbeter nie. Daar was wel 40% wie se slaappatrone verbeter het.
• 36% se werk-lewe-balans het glad nie verander nie en nog 10% se balans het verswak. Die meerderheid, 54%, het egter wel 'n verbetering beleef.
• Wat werklading betref, het 78% geen verandering beleef nie, 20% voel hul werklading het toegeneem en net 2% se werklading het verminder.
• 36% sê die intensiteit van hul werk het toegeneem en 42% sê dit het ingewikkelder geword.
Araujo sê die negatiewe syfers beteken nié die vierdagweek kan nie werk nie, dit beteken bloot dit moenie as 'n wonderkuur vir die probleme van werk gesien word nie.
Die mensehulpbron-navorsingsfirma Remchannel, 'n filiaal van Old Mutual, het onlangs in 'n peiling bevind 61% van ondernemings reken produktiwiteit sal verbeter as 'n vierdagweek ingestel word.
Net 12% reken produktiwiteit sal daal, maar die res, amper 'n derde (27%), is onseker hoe dit sal uitspeel.
René Richter, besturende direkteur van Remchannel, sê sy verwag dat die vierdagweek oor die volgende jaar 'n groot besprekingspunt gaan wees. Dit kom te midde van ongekende vlakke van uitbranding onder plaaslike werknemers wat bedanking en sogenaamde stille bedanking - verminderde betrokkenheid by hul werk - meegebring het.
LEES OOK | Bedankings én ‘stille bedankings' neem in SA steeds toe
In die Britse toetsprojek het maatskappye se inkomste gemiddeld met 35% gestyg vergeleke met die vorige jaar, wat beteken die korter werkweek het nie maatskappye se syfers negatief geraak nie.
Boonop het die getal werknemers wat bedank het met 57% gedaal tydens die toetsprojek, vergeleke met vorige jare.
Die Britse studie het getoon 73% van werknemers se werkstevredenheid het verbeter. Van die bevindings is dus effens teenstrydig.















