Geldsake

Taksombud: Takskaping is ernstig, wydverspreid

Van die bevindinge is dat die SAID dikwels nie vinnig optree as klagtes van bedrog ontvang word nie en finansiële skade dan vererger.
Van die bevindinge is dat die SAID dikwels nie vinnig optree as klagtes van bedrog ontvang word nie en finansiële skade dan vererger. (Foto: Gallo Images)

Die kaping van aanlyn profiele van belastingbetalers was so ernstig en wydverspreid dat ’n “sistemiese ondersoek”, of breër en formele ondersoek, nodig was.

Om so ’n ondersoek te doen moet die belastingombud toestemming van die minister van finansies kry en ’n drempel van erns moet oorskry word.

Luidens die konsepverslag van die ombud wat Woensdag uitgereik is oor die kaping van die eFiling-profiele waar belastingbetalers of hul belastingpraktisyns hul belastingopgawes indien, het die “wesenlikheid van die probleem die grondslag van die ondersoek gevorm”.

“Dit het ’n probleem getoon wat nie geïsoleerd is nie, maar sistemies van aard. Dit hou verband met herhalende patrone van bedrog, gebrekkige dienslewering deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en finansiële verliese vir belastingbetalers wat slagoffers is van die gekaapte eFiling-profiele.”

“Ten spyte van die SAID wat tydens die verloop van die ondersoek verbeteringe aangebring het, bevestig die voortgesette voorkoms van eFiling-profiele wat gekaap word dat die probleem wesenlik belangrik bly,” lui die verslag.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belasting (SAIT) het die verslag wat vir kommentaar uitgereik is, verwelkom.

“Dit toon die kommerwekkende toename in gesofistikeerde bedrog wat sowel belastingpraktisyns as belastingbetalers teiken,” sê die SAIT.

Die drempel waaraan voldoen moes word vir ’n sistemiese ondersoek is oorskry deurdat ’n beduidende aantal klagtes van belastingbetalers en belastingpraktisyns ontvang is wat op ’n herhalende probleem gedui het.

Die ongemagtigde verandering van bankbesonderhede en vals eise vir terugbetalings wat aangemeld is, het op sistemiese kwesbaarhede in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se eFiling-stelsel gedui.

In gesprekke met belastingbetalers en belastingpraktisyns was daar wye kommer oor hoe maklik dit is om die sekuriteitsmaatstawwe te omseil en dus die publiek se vertroue in die eFiling-stelsel weg te vreet.

Die geraamde finansiële verliese was nog ’n rede – “selfs klein per voorval, is die algehele impak beduidend”.

LEES OOK |Aussies help met ondersoek oor Jan Taks se gekaapte eFiling-profiele

Data is ingesamel deur ’n peiling onder belastingbetalers en belastingpraktisyns; gevallestudies is uitgevoer uit ’n breër poel van klagtes wat die ombud ontvang het en samesprekings is met talle rolspelers gevoer.

Die peiling is tussen 2 Februarie en 5 Maart vanjaar gedoen en 393 belastingbetalers het deelgeneem.

Aan ’n openbare konsultasie in Junie verlede jaar het 305 belastingbetalers en praktisyns deelgeneem, wat die behoefte aan ingryping op ’n sistemiese vlak versterk het.

Kwesbaarste

Die verslag dui aan dat belastingpraktisyns meer gereeld die teiken van die misdadigers is omdat hulle toegang tot verskeie belastingbetalers se rekeninge het.

“Die misdadigers buit swak sekuriteit uit om ongemagtigde toegang te kry en eFiling-profiele oor te neem, wat tot ’n finansiële verlies lei, meebring dat kliënte se data bekom word en ’n beduidende administratiewe las tot gevolg het,” sê die SAIT.

Die meeste voorvalle vind met persoonlike inkomstebelasting (PIT) plaas en dan met BTW, en individue is meer ontvanklik weens swakker digitale sekuriteit en omdat hulle minder bewus is van die gevare van aanlyn bedrywighede.

Kleiner bedrae

Die meeste van die bedrog wat aangemeld is, is bedrae onder R10 000, maar ’n beduidende aantal gevalle behels bedrae van tussen R10 000 en R100 000.

Die terugbetalingseise word doelbewus onder sekere oudit-drempels gehou om opsporing te vermy.

Wees gerus

Die SAID sê hy wil belastingbetalers gerusstel dat die meeste van die probleme wat in die verslag gemeld word ’n “integrale” deel is van die program om sy stelsels te moderniseer wat oor ’n aantal jare al aan die gang is.

Hy beloof egter dat hy sal aanhou werk maak van die belangrike kwessies wat geïdentifiseer is.

Dit sluit in die maatstawwe om eFiling-gebruikers te verifieer en terugbetalings te verifieer.

Die SAID sal ook sy samewerking oor die probleme met die banke en die polisie en ander rolspelers verbeter.

“Die ontwikkeling van kubermisdaad en die groeiende gevare vereis beduidende en voortgesette besteding aan die modernisering van die belastingadministrasiestelsel. Dit is deel van die SAID se strategiese plan vir die huidige vyf jaar.”

Reeds begin

Volgens die SAID is daar reeds begin met baie van die aanbevelings van die ombud en dit sal voortdurend hersien en verbeter word namate die doelpale verskuif.

Dit sluit in om die lae van sekuriteit wat in werking is, te verbeter.

– nellie.brand@24.com

CTA