Hoewel vandag se rubriek oor sake-eienaars handel, kan ander mense dit gerus lees omdat dit fokus op die noodsaaklikheid van beplanning.
In die volgende rubriek sal ek fokus op hoe ondernemings se belasting in die praktyk werk (met voorbeelde) aangesien menige onderneming (asook die persone wat daarby betrokke is) nie op datum is met hul belasting nie.
Al het jy nie 'n onderneming nie, lees steeds hierdie rubriek.

Dit beklemtoon die feit dat hetsy jy geld wegsit vir belasting, salarisse, jaarlikse of ander onvoorsiene uitgawes, jy moet daarvoor beplan.
Jy ken dalk iemand wat 'n onderneming besit en sukkel om kop bo water te hou en vir wie hierdie inligting waardevol kan wees. Of dalk wil jy begin vryskutwerk doen vir 'n ekstra inkomste en moet jy besluit of jy 'n maatskappy gaan oprig of nie.
Jy kan in verskillende entiteite sake doen, naamlik as 'n alleeneienaar; in vennootskap (twee of meer individue); in 'n maatskappy met winsbejag (of die ouer beslote korporasie - BK- wat nog bestaan, maar nie meer opgerig word nie); 'n maatskappy sonder winsbejag; of in 'n trust.
Heelwat van my kliënte werk vir hulself en doen hul sake in hul eie naam.
Die Engelse en meer bekende term is "Sole Proprietor". Dit word nie as 'n formele onderneming beskou nie, want dit hoef nêrens geregistreer te word nie.
Die "onderneming" sterf saam met jou. As jy nie die onderneming met jou dood wil of sal kan verkoop nie, is dit 'n eenvoudiger oplossing wat die koste betref.
Ek hou nie veel van 'n vennootskap nie, maar het 'n paar kliënte vir wie dit werk, soos getroude paartjies wat van die huis af werk, dieselfde beroep beoefen en nie die onderneming sal wil of kan verkoop as hulle sterf nie.
Ons trek 'n verpersoonlikte vennootskapsooreenkoms op wat die voorwaardes van hul ooreenkoms uiteensit. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hanteer byvoorbeeld 'n getroude paar wat saam 'n eiendom verhuur dieselfde as 'n vennootskap.
'n Maatskappy is vir baie mense die beste oplossing, al is daar net een direkteur en aandeelhouer.
Vir meer as een sake-eienaar of direkteur (veral waar hulle nie verwant is nie), is 'n maatskappy amper die enigste opsie. Dit werk ook goed as jy nie 'n registrasie vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) of werknemerbelasting in jou eie naam wil hê nie of die onderneming later wil verkoop.

Vir 'n maatskappy, BK of trust word daar by die SAID een persoon aangestel waarna verwys word as die geregistreerde verteenwoordiger. Hierdie persoon se inligting moet aanlyn op die SAID se webtuiste gelaai word voordat alle funksies op die eFiling-bladsy beskikbaar is.
Let op die volgende
• Alleeneienaars moet steeds jaarliks finansiële state opstel. Dit hoef nie noodwendig deur 'n rekenmeester afgeteken te word nie.
• Individue wat in 'n vennootskap is, het nie outomaties gelyke aandele in die vennootskap nie. Die vennootskapsooreenkoms stipuleer die spesifieke verdeling.
• Alleeneienaars kan op hul belastingopgawes by die SAID 'n handeldrywende naam kies en ook vir BTW of werknemerbelasting registreer.
• Min mense weet dat die geregistreerde verteenwoordiger van die entiteit wat by die SAID op rekord is, volle verantwoordelikheid neem vir die onderneming of trust se belastingsake.
• BTW word betaal op fakture wat uitgereik is in 'n spesifieke tydperk, nie wanneer jy die geld in jou bankrekening ontvang nie.
• As jy BTW op 'n faktuur betaal, is dit nie vanselfsprekend dat jy daardie BTW mag eis nie. Met sekere uitgawes is daar nie 'n eis nie (byvoorbeeld onthaalkoste). Jy kan ook net die BTW eis in die maand dat jy 'n uitgawe betaal het of in die maande daarna.
• Entiteite registreer dikwels hul werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), maar nie by die Vergoedingskommissaris nie. Hulle moet by albei geregistreer wees. Stel dit dadelik reg, al moet jy terugwerkend inbetaal.
• Mense dink jy betaal altyd minder belasting in 'n maatskappy. In sommige gevalle is dit waar en in die volgende rubriek sal ek dit met voorbeelde verduidelik.
• Jy hoef nie eers vir BTW te registreer as jou omset R1 000 000 per jaar is nie. Vrywillige registrasies kan tot voordeel van die groei van jou onderneming wees aangesien jy (dalk op 'n sielkundige vlak) as 'n "ernstige" sake-eienaar beskou word.
• Daar is ook 'n wanindruk dat maatskappye minder geoudit word deur SAID as alleeneienaars of vennootskappe. Die SAID het dit duidelik gemaak dat maatskappye in die toekoms meer verifikasies (oudits) sal hê. Wees maar versigtig met daardie oorlopend persoonlike uitgawes wat jy so rojaal deur die onderneming eis.
Sake-eienaars maak dikwels die volgende foute:
• As jy vir BTW geregistreer is, is fakture wat betaal word dikwels in die direkteure se persoonlike naam en nie die onderneming s'n nie (of die faktuur wys nie die BTW-nommer nie).
• BTW behoort nie aan jou nie. Jy is slegs die persoon wat dit namens die SAID invorder. Plaas dadelik die volle 15% in 'n ander bankrekening as jy inkomste ontvang. Die feit dat jy BTW-uitgawes kan eis, moet as 'n bonus beskou word of as jy groot BTW-eise het, kan jy steeds die volle 15% wegsit en 'n kontantbuffer opbou.
• Ondernemings doen nie hul boekhouding op 'n maandelikse grondslag nie. Die voordeel daarvan om dit wel te doen, is dat jy elke maand die wins (of verlies) bepaal (en dus ook die belasting) en gevolglik genoeg geld daarvoor wegsit.
Jy kan ook 'n onderneming in 'n trust bedryf en dit sal ek in 'n afsonderlike rubriek bespreek.
Ek sal spesifiek kyk na hoe belasting werk as begunstigdes hul belasting-residensie in Suid Afrika gestaak het.
As jy deel is van 'n maatskappy, BK of maatskappy sonder winsbejag, moes jy teen 31 Maart 2024 sekere inligting by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ingedien het oor elke persoon wat meer as 5% voordeel uit so 'n entiteit geniet (meer algemeen bekend as "Beneficial Owners").
Die datum is uitgestel tot 24 Mei 2024, maar dit is duidelik dat daar nie verdere uitstel sal wees nie.
As dit nie gedoen word nie, mag die maatskappy of BK nie jaarlikse opgawes indien nie en kan die entiteit gederegistreer en die betrokkenes strafregtelik aangekla word.
As jy jou jaarlikse opgawes (met die afgelope jaar se omset) gewoonlik in April of Mei by die CIPC moet indien, sal ek die "Beneficial Ownership"-proses in die volgende tien dae afhandel, anders laatste einde April 2024.
Die "Beneficial Ownership" moet daarna jaarliks ingedien word. As daar enige verandering was aan die aandeelhouding of ledebelang (in BK's) of jy rig 'n nuwe maatskappy op, moet dit binne tien dae ingedien word.
Trusts se inligting word regstreeks by die meester van die hooggeregshof ingedien. Op hul webtuiste is 'n aanlyn funksionaliteit by https://www.justice.gov.za/master/trust.html. Klik op die lyn wat sê "Please follow this link to the Trust Beneficial Ownership Register Online System".
Daar is rekenmeesters en ondernemings wat sekretariële dienste verskaf (CIPC-verwante werk), wat dié opgawes vir jou teen 'n koste kan doen.
• Charné van der Walt (The Lemon Lady) is 'n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn op Stellenbosch. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke of vir besonderhede van slypskole wat sy op Stellenbosch aanbied. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie.











