Dié boere pleit weer vir skrap van suikerbelasting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Nuwe beroep het opgeklink vir die skrap van die suikerbelasing. Foto: Gallo Images
’n Nuwe beroep het opgeklink vir die skrap van die suikerbelasing. Foto: Gallo Images

'n Nuwe oproep het opgeklink dat Enoch Godongwana, minister van finansies, die "vernietigende" suikerbelasting moet skrap.

Dié oproep deur die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging kom drie weke voordat Godongwana op 19 Februarie sy begrotingsrede in die Nasionale Vergadering lewer.

Die vereniging verteenwoordig 24 000 klein- en 1 200 grootskaalse suikerrietboere in KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

In teenstelling hiermee vra Heala, 'n organisasie wat hom vir gesondheid beywer, dat Godongwana dié belasting moet verhoog en moet uitbrei om 100%-vrugtesappe in te sluit.

Suid-Afrika het in April 2018 die gesondheidsbevorderingsheffing, alombekend as suikerbelasting, ingestel.

Beloofde navorsing

Die Suikerrietkwekersvereniging vra ook dat die tesourie en die departement van handel, nywerheid en mededinging die beloofde studie beskikbaar stel oor breë kalorie-inname wat alles meet wat mense eet en drink sodat gesondheidsbeleid op "ware bewyse" gegrond word. Die studie wat die sosio-ekonomiese impak van die suikerbelasting ondersoek, moet ook volgens die organisasie openbaar gemaak word.

Oproep om hoër belasting ‘onverstandig'

Higgins Mdluli, voorsitter van die vereniging, het Dinsdag in 'n verklaring gesê die deurlopende oproepe deur Heala dat Godongwana die suikerbelasting verhoog, is "onverstandig". Dit sal tot verdere verliese vir mense in landelike gebiede lei en verdere uitdagings aan hulle stel om 'n bestaan te maak indien dit toegestaan word.

"Suid-Afrikaners kan eenvoudig nie bekostig om voort te gaan om die onverstandige beleid te ondersteun nie."

Dit kom in die lig van Heala se veldtog dat Godongwana in sy begrotingsrede die belasting moet verhoog en dit ook op 100%-vrugtesappe van toepassing moet maak.

Werksverliese

Mdluli wys daarop dat toe suikerbelasting in 2018 ingestel is, dit tot die verlies van meer as 16 000 werksgeleenthede gelei het, asook inkomsteverliese van R2 miljard in die eerste jaar alleen.

"Enige uitbreiding van of styging in die belasting sal soortgelyke ekonomiese vernietiging op Suid-Afrika se suikerbedryf loslaat en tot ellende lei vir die duisende mense wat hul werk gevolglik sal verloor," sê Mdluli in die verklaring.

Die vereniging het voorts die "misleidende bewering" bevraagteken dat 'n verhoogde suikerbelasting die regering in staat sal stel om meer voedingskemas vir kinders te finansier. Dié twee regeringsbeleide is volgens die vereniging onverwant en hy het daarop gewys dat inkomste uit die suikerbelasting nie vir gesondheidsuitkomste afgebaken is nie.

Die vereniging wys verder daarop dat Heala aanvoer die suikerbelasting het slegs tot 'n "beskeie" daling in die verbruik van suikerdrankies gelei. Heala laat volgens die vereniging na om te noem dat die belasting nie op enige manier omgeskakel het in die verklaarde doelwit van die belasting nie - om aandag te gee aan vetsug en diabetes in Suid-Afrika. Dit is volgens die vereniging omdat dit "veelfaktorsiektes is waarvan die oorsake wissel van kosinname en 'n gebrek aan oefening tot onderliggende genetiese toestande".

Die inkomste wat die regering deur die suikerbelasting invorder, kom ook volgens die vereniging teen 'n koste. "Aangesien die belasting werksgeleenthede vernietig en die inkomstevlakke van die suikerbedryf onderdruk, het dit uiteindelik 'n negatiewe impak op die persoonlike en korporatiewe inkomstebelasting wat in Suid-Afrika betaal word."

‘Statisties onbeduidende verband'

Heala het by navraag gesê in teenstelling met die suikerbedryf se bewerings van werksverliese weens die suikerbelasting, het plaaslike navorsers 'n "statisties onbeduidende" verband tussen die heffing en indiensnemingsvlakke gevind.

"Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat drankies wat met suiker versoet is gewoonlik geen voedingswaarde het nie, maar 'n reeks negatiewe gesondheidsimpakte inhou. Die drink van vloeibare suiker in drankies en die bykomende kalorieë wat 'n mens op dié manier inneem, word verbind met diabetes, hoë bloeddruk, oorgewig en vetsug.

"Dit is leidende oorsake van sterftes en gestremdhede later in die lewe in Suid-Afrika.

"Die heffing is 'n lewensbelangrike ingryping om te help om die oorverbruik van drankies wat met suiker versoet is, te verminder. Suid-Afrikaanse studies het op kort termyn veranderinge in verbruikersoptrede gevind sedert die bekendstelling van die heffing, met dalings in die verbruik van versoete drankies."

Gesondheid vs. bedryfswinste

Heala sê hoewel daar tot dusver in Suid-Afrika geen navorsing gedoen is om die langtermyn-impak van die suikerbelasting op liggaamsmassa-indeks of vetsug te bepaal nie, is "positiewe gesondheidsresultate" in veral laer-inkomstegroepe, wat gewoonlik kwesbaar is vir nie-oordraagbare siektes, in lande soos Amerika, die Verenigde Koninkryk en Mexiko gesien wat soortgelyke belasting op versoete drankies hef.

"Ons kan nie die gesondheid van ons mense opoffer om bedryfswinste te beskerm nie. Heala moedig minister Godongwana aan om Suid-Afrikaners te prioritiseer en die heffing tot 20% te verhoog en dit uit te brei om 100%-vrugtesappe in te sluit. Sulke strategieë is belangrik om mense aan te moedig om die inname van drankies wat met suiker versoet is, te verminder terwyl die regering bykomende inkomste vir die fiskus genereer."

SPELETJIES VANDAG

CTA