Kultivarkeuse is een van die belangrikste aspekte wat boere moet oorweeg voordat daar enigsins 'n pit kanola in die grond geplant word.
Wanneer dit by kanolaverbouing kom, bepaal die tipe kultivar - Clearfield, Konvensioneel of TT (Triasien-tolerant) - watter chemiese opsies oorweeg kan word vir onkruidbeheer, en daarom moet produsente 'n deeglike onkruidgeskiedenis oor elke kamp besit.
Vir toekomstige doeleindes is dit kritiek om die chemiese aktiewe (kultivars) voortdurend op die kanolakampe te roteer om die vatbaarheid van onkruide teenoor onkruiddoders te bewaar en voldoende onkruidbeheer volhoubaar te maak.
Blik op aanplantings
Slegs gesertifiseerde (moeder-) saad moet sover moontlik oorweeg word vir aanplantings, aangesien teruggehoude plaassaad verskeie risiko's vir die produsent inhou, naamlik laer olie-inhoud, swakker swamweerstand, oneweredige ontwikkeling, saailing-afsterwe en laer opbrengs.
Die belangrikste aspek van kanolaverbouing is waarskynlik die vestiging van die plant. Produsente moet sover moontlik poog om 'n eweredige plantdiepte te bewerkstellig, aangesien dit normaalweg lei tot egalige ontkieming, 'n uniforme opkoms en 'n eweredige plantestand. Vroeg in die plantseisoen (warmer grond) is produsente geneig om dieper (2 tot 3 cm) te plant en later (koeler grond) vlakker (1 cm) te plant of selfs die saad breedwerpig uit te strooi en toe te krap.
Moet nooit dieper as 3 cm plant nie. Die saad moet verkieslik nie vir lang periodes in die grond lê nie, aangesien kiemkragtigheid nadelig geraak kan word en saailinge moontlik dormant mag raak.
Hoe vinniger die saadjie uit die grond kom hoe beter is die boer se kanse op 'n goeie plantestand. Daarom is dit ideaal om in klam grond te plant.
Die mikpunt is 'n plantestand van sowat 20 plante per vierkante meter (normaalweg 1,8 tot 2,5 kg per hektaar) en wees bewus daarvan dat die kultivars se duisendkorrelmassas (DKM's) verskil. Gevolglik sal die saaidigthede van die kultivars verskil en die planter daarvolgens gekalibreer moet word.
Indien 'n eweredige plantestand vroeg in die seisoen behaal word, vergemaklik dit die tydsberekening van bestuursbesluite later in die seisoen, byvoorbeeld die toediening van kopbemestings, chemiese bespuitings en die oes self.
Kyk hiervoor uit
Dit is baie belangrik om die drempelwaardes van slakke en insekte tydens planttyd en kort ná opkoms dop te hou, aangesien kanola-saailinge uiters sensitief is vir enige vorm van vreetskade.
Sommige produsente elimineer eenvoudig die risiko van vreetskade deur die plant met 'n insekdoder te spuit en slakpille te strooi sonder om drempelwaardes te oorweeg.
Jy kan geen bemestingsprogram volg sonder om die plant se behoeftes te verstaan en deeglike grondontledings te doen nie.
Swambespuitings vir swamsiektes soos swartstam (vierblaarstadium) en Sclerotinia-stamvrot (30% blom) moet altyd voorkomend gespuit word.
Tydens die peulvul-fase steek insekpeste soos ruitrugmotlarwes, koolluise en bolwurms gewoonlik hul kop uit soos die temperatuur styg.
Anders as swamme hoef insekte nie voorkomend beheer te word nie, maar hul drempelwaardes moet fyn gemoniteer word.
Voordat kanola geoes word, kan die produsent dit platsny of stroop. Indien jy platsny verkies kan die kanola op 70%-saadverkleuring gesny word. Sou jy verkies om direk te stroop kan dit op 90% tot 95% saadverkleuring doodgespuit word.
Die plant van kanolasaad is 'n deurslaggewende stap in die vervaardiging van B-well kanola-kookolie. B-well is 'n bekende handelsmerk in Suid-Afrika en is bekend vir die vervaardiging van hoë gehalte, gesonde kosprodukte.
B-well kanola-kookolie is 'n gewilde keuse onder gesondheidsbewuste verbruikers. Dit is gemaak van hoë gehalte kanolasaad wat op die regte tyd geplant en goed versorg is.
- Pyper is 'n junior landboukundige van die maatskappy Southern Oil (Soill).
















