Die Alvi's Drift-wynlandgoed in die Breederiviervallei buite Worcester het rede om breed te glimlag.
Nie net is die nuutste oesjare van die Albertus Viljoen Icon-reeks met nuwe ontwerpe op die etiket bekend gestel nie, maar ook 'n verdieping in hul vennootskap met The Indaba Institute for Early Childhood Development, wat fokus op Montessori-gebaseerde vroeë kinderontwikkeling en onderwyseropleiding, aangekondig.
"Die Albertus Viljoen Icon-reeks is vir ons baie persoonlik," sê Alvi van der Merwe, derde-generasie-wynmaker en kleinseun van die stigter, Albertus Viljoen "Oupa Alvi" van der Merwe - na wie die reeks genoem is. "Die reeks eer die visie en vasberadenheid wat die plaas oor byna 'n eeu gevorm het. Die Icon-reeks is in 2012 bekend gestel as huldeblyk aan oupa Alvi.
"Dit dra die gewig van waar ons vandaan kom, maar dit weerspieël ook waar ons tans is.
"Dit is die wyne wat ons met die grootste doel maak. Niks word gehaas nie. Elke detail word oorweeg."

'n Erfenis van wyn
Die landgoed se Albertus Viljoen-wyne word uit spesifieke wingerdblokke in die Scherpenheuvel-wyk - 'n koeler-klimaat-wyk binne die Breederiviervallei-wynstreek - gemaak.
Die drie nuwe oesjare is 'n chenin blanc, chardonnay en 'n rooiversnit. Gaste by die spesiale dag kon dié - en ouer oesjare - saam met Alvi en sy vrou, die Kaapse Wynmeester Junel van der Merwe, proe voordat middagete in die verouderingskelder genuttig is.
Die Albertus Viljoen Chenin Blanc 2023 kom uit 'n "vergete" 40 jaar oue erfeniswingerdblok, en is met 'n uitstaande goue medalje (great gold) by die 2024 Internasionale Wyn- en Spiritualieë-kompetisie in Spanje vereer. Dié blok word tans geregistreer onder die Ou Wingerd-projek (OVP) wat wingerde ouer as 35 jaar uitsonder onder 'n spesiale etiket. Die projek poog om wingerd-erfenis te bewaar, maar ook om wynmakers die geleentheid te gee om ingeligte besluite vir die toekoms te maak - met kennis van die verlede.
Junel het vertel dat die liefdes in Alvi se lewe beslis chenin blanc, dan sy Jack Russells en dan sy is! Een van die hondjies, Buksie, was oral tussen die mense en hy is glo die beste wingerdboukundige ter wêreld.
Hy is altyd op Alvi se hakke in die wingerde.
Die Albertus Viljoen Chardonnay 2022 is vatverouderd en verskeie vate se wyn is saam versny voordat dit gebottel is. Dit wen dubbelgoud by die Michelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie 2023.
Die rooiversnit Albertus Viljoen Bismarck 2020 is 'n volronde versnit, gelei deur shiraz, pinotage en cabernet sauvignon en is bekroon met dubbelplatinum by die Nasionale wynuitdaging 2024, het 'n plek op die Suid-Afrikaanse Top 100-kompetisie-lys behaal en het 90 punte in die Platter's-wyngids 2025 ontvang.
Hierdie reeks word nie net as 'n vertoonstuk gemaak nie. Dis gewortel in tradisie, gevorm deur geduld, en gelei deur 'n diep respek vir grond én afkoms, verduidelik Alvi.
Van die oorspronklike drif wat in 1930 oor die Breederivier gebou is tot die blywende familiewaardes wat elke generasie sedertdien gelei het, weerspieël die reeks die kontinuïteit van 'n nalatenskap wat steeds baie lewendig is.
"Wyn het die vermoë om vreugde te bring," sê Alvi, "maar as dit met die regte bedoelinge gemaak word, kan dit ook meetbare verandering teweeg bring.
"Die boodskap agter elke bottel word nou net so belangrik soos die produk self."

Teruggee net so belangrik
Die versterking van die plaas se vennootskap om geletterdheid te versterk, is net so belangrik en Alvi vertel dat hul strewe na uitmuntendheid nie net fokus op dit wat in die wingerd gebeur nie.
"Dit word weerspieël in hoe ons vir ons mense omgee, hoe ons toekoms buite die kelder vorm, en hoe ons kies om te belê in die langtermynwelstand van ons land en sy mense."
En dit bring ons by die tweede deel van hul vreugdevure wat hoog brand: die verdieping van hul vennootskap met The Indaba Institute for Early Childhood Development.
"Alvi's Drift glo al lank dat 'n goeie wyn meer moet doen as om net van plek te praat - dit moet ook vir iets staan. Hierdie inspirerende samewerking is nie 'n inisiatief wat bo-op die handelsmerk gevoeg word nie, maar 'n natuurlike uitbreiding daarvan," verduidelik hy.
Met elke bottel Albertus Viljoen Icon Range-wyn wat verkoop word, gaan 'n gedeelte van die opbrengs na dié organisasie, wat werklike opvoedkundige uitkomste ondersteun en geleenthede skep.
"Ons verbintenis met die organisasie is net een van 'n veel groter mense-eerste-filosofie op die plaas wat ons uiteindelik van 'n volhoubare toekoms verseker. Meer as 500 werknemers en hul gesinne woon en werk op die plaas en hulle leef met waardigheid, het 'n skool, crèche, gemeenskapsentrum, behoorlike behuising, loopbaan-ontwikkelingsprogramme en 'n Wieta- vlak A-sertifisering. Hierdie is nie gebarepogings nie, maar dien as fondamente," sê Alvi.

Fokus moet op kinders geplaas word
Met die bekendstelling van die nuwe oesjare, is drie Suid-Afrikaanse ikone genooi om meer oor hul persoonlike reis met kinderontwikkeling op opvoedkundige, sosiale en entrepreneursvlak te vertel.
André Shearer is die voorsitter van The Indaba Institute en stigter van Cape Classics, die voorste wyn-uitvoerder na Amerika; Catherine Constantinides is 'n Suid-Afrikaanse klimaat-aktivis, menseregte-verdediger en internasionaal bekend as agent van verandering; en Sabelo Lindani van Contour Enviro-groep is 'n kampvegter vir klein ondernemings en al vir meer as 15 jaar by natuurbewaring en volhoubare ondernemings betrokke.
Hul stories het perfek by die belangrikheid van die ontwikkeling van kinders, behoorlike opvoeding en volhoubare projekte aangesluit.
Shearer het gesê sy 35 jaar ervaring met die wynbedryf het hom direk blootgestel aan die veelvuldige uitdagings waarmee die armer gemeenskappe te kampe het.
"Terwyl soveel individuele boere en maatskappye hard probeer om verandering in die lewens van hul werknemers en hul gesinne teweeg te bring, het ons bedryf as geheel nie daarin geslaag om 'n beduidende impak op die euwels van armoede te maak nie," sê hy met verwysing na gesondheid, behuising, onderwys en dies meer. "Om hierdie omstandighede te verander, lyk verlammend moeilik, maar ons moet dit op een of ander manier aanpak.
"Ons moet krities en vinnig heroorweeg hoe ons dringender kan deelneem aan maatskaplike herlewing en herformulering."
En dis hoe sy pad met Vroeë Kinderonderwys en -ontwikkeling (VKO) - 'n noodsaaklike boublok vir opheffing - gekruis het. Luidens 'n Unicef-verslag is VKO die eerste prioriteit vir effektiewe herstel. (Lees die verslag hier: https://www.unicef. org/southafrica/education).
Hy het in sy toespraak gesê: "Ons woon in die ongelykste land ter wêreld en hier is baie werk."
Shearer sê die mensdom word deur 'n dringende eksistensiële krisis in die gesig gestaar, wat vererger word deur digitale vooruitgang en 'n mislukking om ware "menslike intelligensie" (HI) saam met kunsmatige intelligensie (KI) te ontwikkel.
"In Suid-Afrika beklemtoon die diep gewortelde maatskaplike uitdagings soos uiterste ongelykheid, fetale alkoholsindroom, geslagsgebaseerde geweld en misdaad, die gevolge van sistemiese verwaarlosing - veral in vroeë kinderontwikkeling.
"Baie van hierdie trauma is voorkombaar - veral wanneer ingryping tydens prenatale en vroeë kinderjare gemaak word.
"Die eerste ses lewensjare is van kritieke belang vir breinontwikkeling, en trauma gedurende hierdie tyd kan onomkeerbare lewenslange gevolge hê. Ten spyte hiervan belê Suid-Afrika soveel meer geld om misdadigers op te sluit, as in vroeë kinderonderwys."
Hy kritiseer oppervlakkige regeringspogings en elite-gefokusde onderwysinisiatiewe en voer aan dat ware transformasie begin met die voorsiening en bemagtiging van vroue wat vir jong kinders sorg.
Geïnspireer deur Maria Montessori se intuïtiewe opvoedkundige filosofie - nou bekragtig deur neurowetenskap - beskryf hy hoe hul organisasie, ondersteun deur 'n Amerikaanse stigting, meer as 400 vroue in verarmde Suid-Afrikaanse gemeenskappe opgelei het.
Die program, Community Roots Education, fokus op die opleiding van versorgers met behulp van 'n Montessori-gebaseerde benadering.
In onafhanklike assesserings met behulp van die Early Learning Outcomes Measure (Elom), het kinders onder die sorg van opgeleide vroue in die armste gemeenskappe 'n gemiddelde van 92% behaal oor sleutelontwikkelingsmaatstawwe - ver bo die nasionale gemiddelde van 42%. Dit toon die krag van vroeë ingryping en die transformerende effek van die koestering van versorgers.
"Ware verandering vereis dat vroue emosioneel en intellektueel bemagtig word, sodat hulle hulself en die kinders wat hulle help, as bekwaam en uniek kan sien. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat hierdie inisiatief, ondersteun deur vennote soos Alvi's Drift, 'n model vir ware maatskaplike transformasie verteenwoordig - die voorsiening van hulpbronne vir die vroeë jare nie net as 'n beleid nie, maar as 'n morele en ekonomiese imperatief," sê Shearer.

Droom word bewaarheid
Lindani het gesê dis onwerklik vir hom om deel van die dag te kan wees. "Ek het in 'n arm gesin in Port Alfred grootgeword, met min toegang tot gehalte-onderwys, so om hier in sulke uitgelese geselskap te wees, is werklik 'n eer.
"My reis het begin toe iemand my matriekuitslae in 'n koerant gesien het en besluit het om te help.
"Hulle het my R5 000 gegee om by die universiteit te registreer en danksy hul ondersteuning - en ander langs die pad - het ek 'n diploma en BTech in natuurbewaring verwerf.
Hy het vir etlike jare vir CapeNature gewerk, maar 'n droom gehad - om sy eie omgewingsonderneming te begin.
"In 2017, ten spyte daarvan dat baie my mal genoem het, het ek regeringswerk verlaat en die Contour Enviro-groep gestig.
"Ons het begin deur seisoenale plaaswerkers in die Grabouw-gebied op te lei, wat my gehelp het om my basiese behoeftes te dek en die besigheid te bou.
"Vandag het ons meer as 322 mense in diens.
"Ons het verskeie impakvolle projekte bedryf, insluitend omgewingsopvoeding in Wes-Kaapse skole en om kinders na botaniese tuine te neem om hulle oor die natuur te leer. Ons het ook watertenks geïnstalleer en nou saamgewerk met die landboudepartement.
"Aangesien ek die diepliggende ongelykheid in ons land gesien het, het ek boere aangespoor om meer met plaaslike gemeenskappe te skakel. Ons sit met 'n tikkende tydbom - ons moet die gemeenskappe om en op ons plase betrek; ons moet fokus op opvoeding en ontwikkeling.
"Dit het gelei tot die skep van 'n groen KMMO-program vir mense met min of geen formele opleiding nie. Ons ondersteun nou 14 klein besighede, wat elk ongeveer 12 werkgeleenthede skep, meestal in bewaring en die verwydering van uitheemse plantegroei.
"Ons ondersoek selfs KI om bewaringswerk te ondersteun en lei tans meer as 180 werklose jongmense op in natuurgids- en bewaringsvaardighede. Uiteindelik glo ek dat ons van 'n nederige begin ware verandering kan bewerk," sê Lindani.
Voedseltuine is die antwoord
Constantinides het vertel dat daar miljoene mense in 2025 - ten spyte van reuse- globale vooruitgang - steeds in haglike omstandighede leef. In Suid-Afrika is honger wydverspreid, en humanitêre werk is noodsaaklik.
'n Voedingskema in Johannesburg verskaf weekliks kos aan kinders wat andersins slegs een keer elke vier dae eet. Dit weerspieël duisende soortgelyke gemeenskappe waar honger 'n daaglikse realiteit bly.
"Onderwys, veral VKO, word uitgelig as 'n hoeksteen vir nasionale vooruitgang. Ingryping moet vroeg begin. Teen die tyd dat 'n kind 16 is, is dit dikwels te laat om sistemiese skade om te keer. Om kinders te voed, is 'n onmiddellike noodsaaklikheid en 'n poort na breër verandering," sê sy.
"Voor Covid-19 het gemeenskap-voedseltuine vir byna twee dekades gefloreer, maar baie is deur die pandemie gestuit. Die herlewing van hierdie tuine is magtig - hulle voed nie net gemeenskappe nie, maar hulle leer ook volhoubare boerdery, bevorder handel tussen gemeenskappe en dien as veilige, hoopvolle ruimtes vir kinders. Hierdie tuine simboliseer 'n terugkeer na die mensdom en gemeenskapswaardes, wat ons herinner om weer met mekaar en ons inheemse kennisstelsels te verbind. Ware verandering vereis voetsoolvlak-aksie en institusionele betrokkenheid. En baie dikwels is die rompslomp van burokrasie 'n groter uitdaging as die probleem self, maar ons moet binne daardie raamwerk funksioneer en verandering bring.
"Klimaatsverandering, veral die uitwerking daarvan op vroue-Afrika-boere, is ook sentraal. Die daaglikse koppie tee of koffie is 'n produk van brose landboustelsels wat deur klimaatsverandering en onregverdige markte beïnvloed word.
"Die taak is duidelik: Almal het invloed. Hoewel nie almal in die veld kan werk nie, kan almal hul stem, platform en keuses gebruik om hierdie inisiatiewe te ondersteun en te versprei.
"Deur dit te doen, bou ons nie net die Suid-Afrika wat ons wil hê nie, maar die mense wat ons wil wees," sê Constantinides.
• Lees meer oor The Indaba Institute by indabainstitute.org.















