Verlede week het die plaaslike appelbedryf behoorlik vir sy mylpaal-verjaardag feesgevier.
Dié bedryf het sy 363ste verjaardag gehad nadat die eerste appels in Suid-Afrika op 17 April 1662 verbou is.
Hierdie gebeurtenis is deur Jan van Riebeeck in sy dagboek in die "Kompanje-tuine" in Kaapstad aangeteken: "Swaar misreën en 'n sterk noordwestelike wind wat van die see af waai. Vandag is die eerste twee ryp Nederlandse appels in die Kompanje se kwekery gepluk . . . Hierdie soort appel staan bekend as die Wijnappel."
Nou staan hierdie dag as die geboortedag van die Suid-Afrikaanse appelbedryf bekend. Tru-Cape, Suid-Afrika se grootste uitvoerder van appels en pere, vertel meer oor hierdie mylpaal.
Klein begin tot groot bedryf
Dit is moeilik om te dink dat die hele appelbedryf begin het met die pluk van twee appels van 'n boom wat slegs 1,5 m hoog gestaan het.
Die bedryf floreer vandag nie net plaaslik nie, maar Suid-Afrika is ook een van die grootste appeluitvoerders in die Suidelike Halfrond. Hier groei appels in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo.
Henk Griessel, Tru-Cape se gehalteversekeringsbestuurder en medeskrywer van Apples in the Early Days at the Cape, sê dat elke appelkweker in Suid-Afrika hierdie datum moet onthou.
"Dit is waar ons storie begin het. Die feit dat Tru-Cape steeds ouer variëteite in ons erfenisboord by Oak Valley Estate in Grabouw bewaar, wys ons is verbind daartoe om die verlede te eer, terwyl ons gereed maak vir die toekoms," sê hy.
Tru-Cape, wat die grootste uitvoerder van appels en pere van Ceres Fruit Growers en Two-A-Day Group is, se appelkwekers verteenwoordig meer as 20% van die land se appeluitvoer en verskaf appels aan 105 markte.
Van hierdie internasionale markte sluit in Afrika, Asië, die Midde-Ooste, Europa, Amerika, Kanada en Mexiko.
"Tru-Cape se rol gaan verder as slegs uitvoer - ons is betrokke in alles van kultivar-innovasie, gehalteversekering, volhoubaarheid en om te belê in marktoegang en tegnologie wat naspeurbaarheid en doeltreffendheid verbeter," sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape.
'n Belangrike bedryf
Die Suid-Afrikaanse appelbedryf is 'n baie belangrike deel van die land se ekonomie, want dit is nie net 'n belangrike bedryf as dit kom by werkskepping nie, maar dra ook by tot voedselsekerheid.
Hierdie bedryf is egter nie sonder uitdagings nie, met klimaat wat waarskynlik die grootste een is.
Volgens Tru-Cape is die veranderende klimaat besig om die groeiomstandighede te verander en dit bring na vore innovasie in die ontwikkeling van variëteite, besproeiing en gewasbeskerming.
Buiten vir die klimaat is daar ook steeds 'n probleem met logistiek met onbekwaamheid by hawens en beperkings as dit kom by vervoer - alles wat 'n effek op kwekers én uitvoerders het.
Laastens is daar ook stygende insetkoste en veranderinge aan regulasies.
"Ten spyte daarvan is die Suid-Afrikaanse appelbedryf voordurend besig om te ontwikkel. Dit omarm tegnologie, data-gedrewe boerdery en internasionale samewerking om sy toekoms te verseker," aldus Tru-Cape.
Die belangrike datum van 17 April is vir die appelbedryf meer as net 'n verjaardag, want dit herinner almal betrokke van hoe ver die bedryf al gevorder het.
"Van twee appels tot nagenoeg 50 miljoen kartonhouers wat jaarliks uitgevoer word - die storie van Suid-Afrikaanse appels is een van veerkragtigheid, innovasie en groei," sê Pienaar.

















