SA boere ‘sal ’n plan maak’ as Agoa wegval

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Boere ‘sal ’n plan maak’ as Suid-Afrika uit die Agoa-handelsooreenkoms geskop word. Foto: Argief
Boere ‘sal ’n plan maak’ as Suid-Afrika uit die Agoa-handelsooreenkoms geskop word. Foto: Argief

As Suid-Afrika se deelname aan die ooreenkoms ingevolge die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) nie hernieu word nie, sal die landbougemeenskap 'n "plan maak".

Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, het Maandag by navraag gesê Agoa bring beduidende en broodnodige ontwikkeling na Suid-Afrika se landelike gebiede.

Die huidige Agoa-ooreenkoms is in 2015 met 10 jaar verleng en verval in September vanjaar.

Pres. Donald Trump van Amerika het volgens Kotzé 'n versteuring in wêreldhandel meegebring.

"As dit gebeur dat ons nie weer deel is van Agoa nie, sal ons 'n plan maak. Ons sal na bestaande markte en nuwe markte kyk. Ons wil graag voortgaan om as boere te kan handel dryf," het hy gesê.

John Steenhuisen, minister van landbou, het 'n paar weke gelede gesê 'n nuwe handelsooreenkoms sal met Amerika onderhandel word as Suid-Afrika uit Agoa geskop word.

Die Agoa-handelsooreenkoms tussen Amerika en Afrikalande suid van die Sahara bestaan sedert 2000. Dit maak voorsiening vir die tariefvrye uitvoer van sowat 1 800 produkte.

Landbouprodukte wat ingevolge Agoa uit Suid-Afrika na Amerika uitgevoer word, sluit in wyn, sitrus, makadamianeute, avokado's, druiwe en suiker.

Toenemende onsekerheid hang egter oor Suid-Afrika se diplomatieke betrekkinge met Amerika weens 'n verandering in die Amerikaanse buitelandse beleid sedert Trump se inhuldiging in Januarie.

Trump se nuwe aanbod

Trump, wat vroeër 'n aanbod vir vlugtelingstatus aan Afrikaners gebied het, het verlede week weer na Suid-Afrika se boere op sy sosialemediaplatform, Truth Social, verwys.

Hy het in 'n plasing gesê Amerika het alle federale finansiering aan Suid-Afrika gestaak. "Om 'n stap verder te gaan, enige boer (met familie!) van Suid-Afrika wat om veiligheidsredes uit die land wil vlug, sal na die VSA genooi word, met 'n vinnige pad na burgerskap."

Hy het Suid-Afrika as "verskriklike plek" bestempel en gesê die proses sal dadelik begin.

Kotzé het die Amerikaanse mark as 'n belangrike en strategiese een vir uitvoerders bestempel.

"Agoa is vir ons baie belangrik. Dit is vir ons belangrik om handel tussen Suid-Afrika en die VSA oop te hou."

Ekonomiese groei

Agoa is volgens hom een van die "doeltreffendste konsepte" vir landbou-ontwikkeling in Afrika.

"Met Agoa beteken dit jy het 'n boer wat 'n primêre produsent is wat 'n ooreenkoms met 'n koper in Amerika het. Die geld vloei deur die waardeketting. Van die armste van arm mense tot by die boer word daardeur bevoordeel."

Werkskepping op die platteland word deur Agoa verseker. "Omdat daar genoeg mense werk, maak Usave en Pick n Pay winkels in die omgewing oop en ewe skielik is daar 'n ekonomiese herlewing.

Die boer wat dus sy produkte na Amerika uitvoer, help om ekonomiese groei te skep. As jy van die landbousektor praat, praat ons van werkers, die mense in die gemeenskap wat 'n diens lewer. Die man op die dorp wat bande verkoop, die werkers op die plaas . . . die hele gemeenskap begin leef.

"Dit is hoe jy welvaart op die platteland skep en dit hou die hele ekosisteem aan die gang. Dit is 'n groot ding."

Gesamentlike poging

Op die vraag of AgriSA soos ander organisasies beplan om 'n afvaardiging na Amerika te stuur vir gesprekke met die Amerikaanse landbouleiers, het Kotzé daarop gewys dat die motor-, mynbou- en landbousektor betrokke is by Agoa. "As ons iewers gaan onderhandel, sal dit as 'n gesamentlike poging as sake in Suid-Afrika wees. Dit sal nie eensydig wees nie," het hy geantwoord.

Boere ‘sal nie sommer na VSA gaan'

Hy glo nie Suid-Afrikaanse boere sal Trump se nuwe aanbod sommer aanvaar nie.

"Ons is geweldig patrioties oor Suid-Afrika en ons het 'n geweldig belangrike rol om te speel. Ek het nie onder ons lede 'n geweldige opgewondenheid bespeur om Amerika toe te gaan nie. Dit beteken egter nie dat mense nie gaan nie of dat AgriSA daarteen gekant is nie. Ons het boere in Suid-Afrika nodig en sal alles in ons vermoë doen om die omgewing te skep vir hulle om te bly," het hy gesê.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA