Landbou

Toekoms blink vir ‘Bigbucks’-appels

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dertien jaar gelede het Buks Nel die ‘Bigbucks'-appelkultivar in 'n boord naby Grabouw ontdek, en vandag is daar 2,5 miljoen van dié kultivar se bome op Suid-Afrikaanse bodem geplant.

"As die eerste volrooi ‘Gala'-tipe appel­ in Suid-Afrika het produsente 'n gesonde aptyt gehad om ‘Bigbucks' te plant. Dit was die kultivar wat die vinnigste tot nog toe in Suid-Afrika gegroei het, en binne vyf jaar is sowat 2 miljoen bome gevestig," sê Calla du Toit, 'n produsent van die Witzen­berg­vallei en voorsitter van die Bigbucks-kwekersvereniging.

Volgens hom is ‘Bigbucks' 'n uit­sonderlike kultivar en met gedissiplineerde produksie, hantering, verpakking en bemarking kan produsente 80-90% van die appels op 'n boom uitvoer.

Met slegs 5% van vrugte in die boorde wat uitgooi-appels is, meen De Kock Hamman, tegniese adviseur by Ceres Fruit Growers, dat ‘Bigbucks' voordelig is om profyt op die plaas te dryf.

Du Toit sê die bedryf het al waardevolle produksie- en bemarkingslesse oor dié kultivar geleer - iets wat die toekoms selfs blinker maak vir ‘Bigbucks'.

Hoewel die appels goed kleur kry (ongeag waar dit geplant word), het hulle geleer dat dit minstens 80% hoë-in­tensiteitkleur vereis om onder die Flash Gala-handelsmerk bemark te word.

Hamman sê produsente van ‘Bigbucks' moet, soos met enige appel­kultivar, hoogte bo seevlak, koue eenhede, waterbeskikbaarheid, grond­tipe en die makro- en mikro­klimaat van hul plaas oorweeg voordat hulle 'n plek kies om 'n boord te vestig.

Koeler gebiede is verkieslik vir dié kultivar, maar produsente in warmer gebiede kan dit oorweeg om nette in te span om sonbrand of hitteskade te verhinder.

Hy raai ook produsente aan om wetenskaplike metodes te gebruik om oestye vas te stel, want weens die appels se volrooi kleur, kan dit moeilik wees om plukrypheid te bepaal.

Verder moet hulle gehoorsaam wees aan die Flash Gala-standaarde. - Landbouredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM