Lesers sê

Wie gaan Limpopo se bome red?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Elise Tempelhoff se berigte en artikels is altyd verpligte leesstof. Soms is dit ook baie ontstellend, soos die artikels oor "derduisende beskermde bome" wat dalk in Limpopo in die slag gaan bly en oor die "uitwissing van bome" (29.10 en 01.10).

Volgens Tempelhoff is 'n permit reeds uitgereik om 9 000 beskermde bome af te kap en het omgewingskonsultante aansoek gedoen om goedkeuring om nog meer as 658 000 bome te verwyder, waaronder 10 000 kremetarte. Dit alles in die naam van ontwikkeling en werkverskaffing.

Dis veral die rol van omgewingskonsultante wat twyfelagtig voorkom. 'n Mens wil aanneem sulke mense is kundig, het respek vir die natuur en spesifiek bome, en hul wetenskaplike integriteit is bo verdenking. Helaas is dit 'n feit dat sommige wat hulself as "omgewingswetenskaplikes" beskryf, se optrede die teenoorgestelde demonstreer. Hulle is bloot daar om burokratiese prosesse te fasiliteer en om die skyn van legitimiteit te verleen aan hul betaalmeesters se planne.

In die fliek The Lord of the Rings neem die wesens in die woud wraak op die bose verwoester Saruman. Maar wie gaan Limpopo se bome beskerm teen burokrate en pseudo­wetenskaplikes?

Gerhard van der Linde, Pretoria

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM