JSE-hoof tree einde Maart uit

Dr. Leila Fourie gaan in Maart volgende jaar as uitvoerende hoof van die JSE uittree.
Dr. Leila Fourie gaan in Maart volgende jaar as uitvoerende hoof van die JSE uittree. (Foto: Argief)

Dr. Leila Fourie sal einde Maart aanstaande jaar die leisels neerlê as die JSE se uitvoerende hoof.

Die aandelebeurs het Donderdag dié verwikkeling op sy Sens-nuusdiens aangekondig.

Fourie het sedert 2019 die pos beklee en luidens die JSE ’n belangrike rol vertolk in die modernisering en groei van die beurs.

Valdene Reddy, tans direkteur van kapitaalmarkte by die JSE, is as haar opvolger aangestel.

Die aanstelling moet egter nog deur die betrokke regulatoriese owerhede goedgekeur word.

Lof

Volgens Phuthuma Nhleko, voorsitter van die JSE, het Fourie die beurs “deur ’n tydperk van strategiese innovasie, veerkragtigheid en inklusiewe leierskap gelei”.

“Leila het die JSE met strategiese helderheid en doelgerigtheid bestuur. Sy laat ’n sterker en meer inklusiewe instelling agter,” sê hy.

Valdene Reddy sal van April 2026 die leisels by die JSE oorneem.
Valdene Reddy sal van April 2026 die leisels by die JSE oorneem. (Foto: Verskaf)

Fourie is veral geloof vir haar rol in die verbetering van die JSE se verdienste, die diversifisering van sy inkomste, omarming van tegnologie en haar bydrae tot die ontwikkeling van regulatoriese raamwerke.

Sy het ook markuitbreiding aangemoedig en hervormingsbeleid vir noterings bevorder om toegang tot finansiële markte te verbreed.

“Dit was ’n groot voorreg om die JSE te lei, ’n instelling wat ’n sleutelrol in kapitaalgroei vertolk,” sê Fourie.

“Ek glo die tyd is reg om die leisels oor te gee aan Valdene, een van ons ‘tuisgemaakte’ talente, om hierdie belangrike rol oor te neem.”

‘Tuisgemaakte talent’

Reddy, wat oor meer as 20 jaar se ervaring in finansiële markte beskik, het senior poste by internasionale banke beklee en is die afgelope dekade as ’n sleutellid van die JSE-span beskou.

“Dit is ’n eer om as groephoof aangestel te word,” sê sy.

“My fokus sal wees om innovasie te versnel en ons mededingendheid verder te versterk deur strategiese transformasie.”

Die JSE meen die oorgang sal glad verloop, veral omdat die oorhandiging tussen Fourie en Reddy oor ’n tydperk van ses maande sal gebeur.

Beleggers kan volgens die JSE-direksie steeds voortgesette winsgroei, strategiese innovasie en volhoubare waardeskepping verwag.

– heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA