Meer as 1 100 poste by West Pack gered danksy koper

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
West Pack Lifestyle se bedrywighede duur voort nadat ’n koper vir die onderneming gevind is.  Foto: Facebook/West Pack Lifestyle
West Pack Lifestyle se bedrywighede duur voort nadat ’n koper vir die onderneming gevind is. Foto: Facebook/West Pack Lifestyle

West Pack Lifestyle, 'n kleinhandelaar wat veral bekend is om die wye verskeidenheid plastiekprodukte wat hy verkoop, is uit sy finansiële verknorsing gered.

Die maatskappy het in Mei in sakeredding gegaan nadat sy skuldlas aan krediteure tot R118 miljoen gegroei het. Ses maande later is 'n koper egter nou gevind en meer as 1 100 poste gered.

Craig Blumenthal van Fluxmans Attorneys, wat as regsverteenwoordiger vir die sakereddingsproses optree, het Maandag aan Netwerk24 bevestig Crespo Investments sal voortaan West Pack en sy filiale besit en bedryf.

Volgens hom is besonderhede van die onderhandelinge "streng vertroulik".

Blumenthal het wel aan Business Daygesê 35 potensiële kopers is aanvanklik genader, van wie 18 hul belangstelling uitgespreek het.

"Die sakereddingspraktisyns sal na verwagting die aansoek om wesentlike inwerkingstelling teen die einde van die jaar voltooi, wat beteken die suksesvolle sakereddingsproses het ses maande geneem. Dit is 'n uitstekende uitkoms gegewe die grootte en kompleksiteit van die onderneming en strukture," sê Blumenthal.

"Die inwerkingstelling daarvan beteken meer as 1 100 poste is nie meer in die gedrang nie en 30 korporatiewe asook 40 konsessiewinkels sal aanhou bedryf word."

West Pack is in 1996 deur die Da Silva-familie begin, wat tot op hede die enigste aandeelhouer was en 'n aansienlike netwerk van winkels in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal geopen het. West Pack het ook 'n teenwoordigheid in Suid-Afrika se buurlande.

Maar Jose da Silva, uitvoerende hoof, het in 'n beëdigde verklaring erken die maatskappy se "aggressiewe groeistrategie" wat tydens die Covid-19-pandemie van stapel gestuur is, het hom mettertyd onder aansienlike finansiële druk geplaas.

West Pack se kontantvloei is benadeel deur die groot kapitaalkoste wat benodig is om nuwe winkels oop te maak, veral toe rentekoerse in 2022 die hoogte ingeskiet het. Daar is ook gesukkel met 'n oorskot voorraad wat bloot nie verkoop kon word nie omdat 'n verkeerde produkmengsel bekom is.

Boonop het sy "finansiële stelsels en prosedures nie teen dieselfde spoed ontwikkel as wat die filiale gegroei het nie en kon dit nie die meer ingewikkelde aard van die onderneming ondersteun nie".

Da Silva het egter volgehou dat daar 'n "taamlike vooruitsig is dat (West Pack) wel deur die sakereddingsproses kan aanhou handel dryf".

En hy was in die kol hiermee.

SPELETJIES VANDAG

CTA